Saturday, November 1, 2008

Vriend-J & die Convertable

Vandag, seker omdat dit Saterdag is en ‘n heerlike warm Hoëveld somersdag, dwaal my gedagtes noordekant toe na die Limpopo-provinsie waar my groot ou maat, Vriend-J gebly het.

Anderkant Ellisras (deesdae Lepalala), verby Steenbokpan en voorts tot aan die oewer van die Limpopo-rivier, met ‘oorsee’, oftewel Botswana, letterlik net ‘n klipgooi ver. Daar het een van die beste maters wat ek nog ooit in my lewe gehad het, Vriend-J, geboer. Van tyd tot tyd met aartappels en wortels, maar die groot produk van daardie distrik en sy plaas was patats. As die reën kom en die mark-prys is goed, dan smile Vriend-J. As die trekker nie wil start nie en die arbeiders jaag aan, dan stress hy. Vreeslik verbaal en ‘n ware Boer in murg en been. Die man kon hard werk en ewe hard kuier en hy was tog so lief vir die lewe.

Ek was verskriklik lief vir Vriend-J. Nogals hom en sy gesin op ‘n eienaardige manier ontmoet. Jare gelede, toe ek en my eerste handbriek uitmekaar is, toe was daar ‘n vriendin wat so ‘n klompie enkellopende volwassenes van heinde en ver bymekaargeskraap het, en dan het ons sommer so in die bondel rond-gekuier. Soms net saam kosgemaak, soms vir ‘n naweek weggegaan, en so gebeur dit toe dat sy ons almal eens op ‘n goeie tyd nooi om vir haar Bosveld-vriende anderkant Ellisras te gaan kuier.

Ek kan nie onthou wie almal saam was nie, maar ek weet dat dit ‘n bitter lekker naweek was. Ek en Vriend-J het dadelik gekliek. Vriend-E was nie baie impressed toe hy sommer al op aand een sy enkel verstuit (eintlik good en solid breek, maar dit het ons eers die volgende dag uitgevind) in die lande in die donker agter ‘n springhaas aan nie. Op Vriend-J se aandrang natuurlik. En daai nag het die muskiete ons just about weggedra, want dis te warm om onder die deken te lê en as jy sou waag om jou neus uit te steek, dan takel die muskiete jou. En ek is te skaam om ons gasheer of sy vrou te gaan opklop vir Tabbart. En Vriend-E met die af enkel steun en kreun die hele nag onder sy algehele verdowing van Disprins, Klippies en Coke. En ongelukkig was dit my lot om ‘n kamer met hom te deel.

Anyhow, toe ons daardie eerste naweek vertrek, was die vriendskaps-bande gesmeë, en ek’t hand en mond belowe om weer op die plaas te gaan kuier. En dit was een van daai beloftes wat bedoel was en die begin van 'n baie groot en stewige vriendskap.

So ‘n ruk later koop ek toe mos my eerste ‘ordentlike’, nuwe voertuig. So ‘n pragtige groen 316i BMW (nog die sogenaamde Dolphin-shape) – dit was ‘n stunning kar. So luuks soos ses – want jy kan mos dink dat as mens vir jare lank ‘n Nissan-1400 bakkie gery het, is enige kar met leathers en aircon en elektriese vensters pure bliss.

So tref ons die nodige reëlings en ek klim in die BM, tel Vriend-J-Se-Suster-S in Pretoria op, en ons is een Vrydag hier weg oppad Bosveld toe om vir Vriend-J en gesin te gaan kuier. Ek en Vriend-J-Se-Suster-S gesels tog te lekker in die kar op pad plaas toe, en daar aangekom word ons met ope arms ontvang. Pure lekkerte om weer terug te wees en dis warm en die brandewyn en coke en ys koud en die braaivleis-vuur brand hoog. En Vriend-J hou van my kar. Die BMW’tjie soos hy die ding noem. “Maar,” sê hy vir my, “Ons moet die “angle grinder” vat en die BMW-tjie se dak so mooi netjies afsny en dan het jy ‘n convertible. Net die regte ding vir die plaas en die Bosveld se hitte. Seun-D, bring vir Pa die Angle Grinder!!”

“Jaaa Paaa” daar van die werkswinkel se kant af, en ek praat kwansuis tee en smeek en skerm, alles natuurlik deel van die saamspeel. “Vriend-J, jy kan dit mos nie doen nie, wat sal die assuransie sê?” Want ek weet mos Vriend-J sal my nooit sulke skade aandoen nie, dis sommer alles deel van die gesels en die grap en die groot-lekkerte-kuier.

Anyhow, die volgende dag is dit Saterdag. Die groen BMW’tjie het ek sommer so onder ‘n boom geparkeer, die deure oopgesluit en die vensters almal oop en die sleutel in die ignition. Want Waghond moes kyk. Op ‘n stadium het ons almal so ‘n laat-middag siesta gevat want die Bosveld-son sal jou doodbrand as hy jou alleen buite kry.

En dis nie lank nie, of Vriend-J kom maak my wakker. “Vriend-E, hier is ‘n groot probleem, jy beter buite toe kom!”

Ek't gou die ergste slaap en sweet uit my oë gewas en is buite toe. En al wat kind en vrou en arbeider is en Vriend-J staan daar buite-rond. En almal soek en almal praat. En die groen BMW’tjie is weg. Soos in mis voor die Bosveld-son.

Ek vermoed sommer dadelik dat Vriend-J iets hiermee te doen het. En ek speel maar saam toe hulle my die kar se spore wys wat uit die hek uit pad se kant toe lei. En die vreemde mense-spore waar my kar gestaan het. En ek speel maar saam. Maar ek soek oral waar ek weet van wegsteekplek groot genoeg vir 'n kar, maar ek kry niks.

Toe gebeur iets wat my laat twyfel: Vriend-J klim op sy radio en kontak die naaste polisie-stasie. En meld die diefstal van my BMW’tjie aan. Kleur. Registrasie. Plek. Ens. ens. ens. ens. En ek begin stress. Soos in iets geweldig. Want dis nou nie meer ‘n grap nie, hier is skade.

En die polisie sê hulle is op pad, en terwyl ons wag, dink ek aan die gesprek wat ek sekerlik so gou doenlik met my assuransie-agent sal moet hê:

Ek: “Ek wil net die diefstal van my motor aanmeld.”
Assuransie: “Besonderhede?”
Ek: “Groen, Handrat, Registrasie ens. ens. ens.”
Assuransie: “Was die voertuig toegerus met 'n alarmstelsel en demobiliseerder?”
Ek: “Ja, natuurlik.”
Assuransie: “Was die alarmstelsel aangeskakel ten tye van die diefstal?”
Ek: “Uhm, nee …”
Assuransie: “Was die motor in ‘n behoorlike toesluit-fasiliteit toe dit gesteel is?”
Ek: “Uh… nee, dit was buitekant, oopgesluit, sleutel in die ignition en geen sekuriteit van ‘n dag-oud in sig nie. . . ”

I rest my case. Genoeg rede vir stress. . .

Die groot soektog en die gesprekke met die SAP het seker vir meer as ‘n uur aangehou. En ek het gesweet, letterlik, en dit was nie te wyte aan die Bosveld-son nie.

En NADERHAND kom Vriend-J uit daarmee dat hy die groen BMW’tjie in ‘n stoor waarvan ek nie geweet het nie gaan bêre het en met die SAP gekonkel het vir die radio-gesprek. Ek weet nou nog nie of ek moes kwaad wees nie, maar die verligting was groot.

Die naweek op die plaas was heeltemal te vinnig om, en toe moes ek en Vriend-J-Se-Suster-S weer in die pad val. Klaar gegroet, en ons is daar weg. Net van die plaaspad af toe gebeur iets vreeslik. ‘n Vieslike koringkriek stap ewe gerus aan die binnekant van my BMW se deurpaneel op. Nogals aan my kant. Hoe ek so vinnig gestop gekry het op die stofpad en hoe ek nog vinniger uit my safety-belt uit is en by die passasierskant uitgeklouter het (bo-oor Vriend-J-Se-Suster-S) weet ek tot vandag toe nog nie. En ek praat in tale wat g'n mens geweet het bestaan nie. Vriend-J-Se-Suster-S vertel later vir haar Broer-J dat sy haar omtrent wit geskrik het vir my. Sy wis nie of ek van my kop afgeraak het of ewe skielik een of ander angs-aanval gekry het of on-edele seksuele gedagtes newens haar gekoester het nie, maar toe ek begin raas en stop en klin, toe wis sy hier kon stront. En ek is just about bo-oor haar by haar deur uit sonder om eers aan haar te raak. Dit wil gedoen wees.

En toe ons veel later veilig tuis aanland en ek vir Vriend-J vertel van die koringkriek, toe lag my ou groot Boere-maat daar in die Limpopo-province dat dit so weergalm teen die telefoon-lyn af. Raai net wie het die gogga in my kar gesit? Vriend-J natuurlik. En volgens hom was die skuld vierkantig myne: “Want as ons van jou BMW’tjie ‘n convertable gemaak het soos ek gesê het ons moet doen, sou die ding jou mos nooit gepla het nie…”

Vriend-J het daardie betrokke naweek twee-nul gewen... En ek het revenge gesweer. . .

Daar is nog baie stories oor Vriend-J en die Bosveld, maar dis blogs vir ‘n volgende keer.

Tot dan…..

2 comments:

Anonymous said...

Gaan WARMBAD iewers feautre op hierdie blog, terwyl jy by die plaasstories is ?

XonixZA said...

Stop dit! :-)

Dinge van die Bosveld word nie oor geblog nie.