Monday, April 27, 2009

My Wortels

Die afgelope naweek het ek ‘n verjaarsdag-geskenk soos nooit vantevore by ‘n ou maat van my gekry.  Hy’t my al weke gelede in kennis gestel dat hy nie hierdie jaar vir my iets spesiaals sou koop nie, maar dat hy my eerder gaan uitnooi iewers heen vir ‘n naweek.  Die catch was net dat ek geen idee het van waarheen nie.  Die instruksies van wat om saam te vat was eenvoudig: 

Warm en koue klere, musiekinstrumente, tenk vol diesel. That’s it.

So gesê, so gedaan, en uiteindelik het die groot dag toe Saterdag-oggend aangebreek.  Ons het by die afgesproke plek ontmoet vir koffie en 'n beskuitjie, en in die pad geval.  Hy in sy 4-deur 4X4 en ek in my 2-deur.  Kitaarkas, bekfluitjies en konsertina op die agtersitplek, oornag-sakkie met warm en koue klere in die immer-ontwykende kattebak. (2-deur Wranglers is nie juis bekend vir baie spasie nie).

In alle geval, so onderweg en met behulp van ons twee-rigting radios, probeer ek om die kriptiese leidrade wat ek deur die loop van die week per e-pos ontvang het, uit te pluis.  Want volgens na wat ek kon aflei en na aanleiding van my interpretasie van die ’koordinate’, was ons reguit op pad Madagaskar toe.  Of nie.  Want ons ry Wes, en Madagaskar lê reg Oos.  En daar is nie ‘n brug van ‘n dag oud waarvan ek van weet oor die Indiese Oseaan nie.  En ek besef dat selfs my Red-Rock Wrangler sekere dieptebeperkings het.

Naderhand kom dit uit:  Ons is op pad na die wêreld van Herman Charles Bosman.  Na ’n gasteplaas in die hart van die Marico-distrik se Bosveld. 

Die naweek was onverbeterlik.  Ons het sonder ophou gesels.  Ge-4X4, gekuier, musiekgemaak.  Deel geword van die kultuur van die plek waar die bekende skrywer diep wortels het. Sondag-oggend amper verslaap na die vorige aand se middernagtelike vleisbraai en groot kuier. Stofpad-langs terug dorp toe.  Besoek afgelê aan die Herman Charles Bosman museum. Heerlike breakfast by Memois in die hart van die klein plattelandse dorpie.  Vandaar met ’n effense ompad om by my ou neef en sy gesin in Lichtenburg te gaan aandoen.

Later, elkeen weer in sy eie kar en oppad terug Gauteng toe, sit ek so en dink aan waar my eie wortels is.  Praat van Marico, dink aan Bosman.  Praat van waar??? en dink aan my.

En my gedagtes dwaal en tob en swaai van bakboord na stuurboort en terug na die hede.  En ek kom tot die gevolgtrekking dat my eie wortels nooit na ’n vasgestelde sekere plek ge-pin-point sal kan word nie.

My wortels is op al die plekke waar diegene wat na aan my is, is.

Dis op die Ooskaapse dorpie, Uitenhage, waar ek net twee weke gelede saam met Ma-E en Tannie-D my pragtige Dogter-M se sestiende verjaarsdag gevier het. Ek kan dit hoor aan die liefde in hulle stemme wanneer ons weekliks met mekaar gesels oor wat nuus is.

Dis op die Karoo-plaas in die skaduwee van die Hanekamberg, waar ons twee weke gelede gaan kyk het hoe my oupa en ouma-grootjie se grafte lyk.  En ek my verstom het aan hoe mooi die ou eenvoudige plaas-huisie nog na al die jare lyk.

My wortels is daar waar ek op ’n stowwerige twee-spoor paadjie met die Wrangler ry, kappie af, wind deur my hare, my beste pal voor my in sy Moon-buggy.

Dis daar doer in die Bosveld waar my ou vriend my die naweek heengevat het en ons al hierdie dinge saamgedoen het wat miskien vir ander mense nikseggend sou wees.  Soos om net te praat, te lag, ’n doppie saam te drink, bekfluitjies saam te speel, die konsertinas laat kla het en baie dinge (goed en sleg) saam te kon onthou. Selfs waar ons saam ge-stress het oor die spinnekop met die lelike lang pootjies in die middernagtelike plaas-kombuis.

Dis by my wonderlike predikant-neef in Lichtenburg en sy pragtige vroutjie en hulle twee kinders wat ons met sulke ope arms ontvang het.  Dis in my Oupa-A se lig-blou Kombi wat ek kort na Pa-G se dood vir dieselfde neef gegee het. Die ou Kombi wat gister, toe ek hom vir die eerste keer in soveel maande weer sien, daai verwoede groot knop in my keel veroorsaak het wat my hard laat sluk het om nie sommer net te huil en huil en huil nie.  Oor alles wat was en oor alles wat nog gaan wees. En oor die tye wat verby is en wat g’n geld in die wêreld ooit weer sal kan terugkoop nie. En oor al die dinge wat ek in my lewe versuim het om te sê, en wat nou nooit weer gesê sal kan word nie.

Dis op die oewer van die Limpopo, waar ek soveel ure saam met Vriend-J omgesels het voor sy tydjie op aarde so skielik verby was. Ek ek wag steeds elke Sondag-aand vir sy telefoonoproep wat ek weet nooit ooit weer sal kom nie.

Dis op al die staproetes wat ek in my jonger dae gedoen het met Vriend-W wat ook op so ’n jong ouderdom sy lewe oorgegee het aan die kanker.

Dis op die Vrystaatse myn-dorpie waar ek ook nie te lank gelede vir my kosbare Oom-J vaarwel toegewens het. En by Tannie-D, wat vir my al vir baie jare nes 'n eie ma was.

Dis by al my nefies en niggies en hulle kinders, al het ek hulle in jare der jare nie gesien nie.

Dis in die lugruime van die talle plekke waar ek heen gevlieg het in die dae toe ek die geweldige lewens-droom om vry soos ’n voël te kan wees, nagejaag het.

Dis op kantoor waar ek soms voel dat my lewe by my verbygaan in ’n gejaag na niks.  Waar die volgende suksessvolle projek se goeie kommentaar van jou kollegas en jou baas jou laat besef dat dit alweer alles die moeite werd was.

Dis 'n Mosambiek waar ons eindelose ure van pret en kuier en genot deurgebring het.  Vriende, familie, diegene wat vir ons belangrik is.

Gisteraand, weer terug by my eie huis, lê ek steeds en  dink aan al hierdie dinge.  En ek besef dat, alhoewel ek nie wortels het waarvoor mense my in generasies vorentoe gaan onthou soos Herman Charles Bosman van die Marico-distrik nie, ek my eie wortels het op so baie spesiale plekke.  En mense weet dit en ek weet dit en daar is baie van hulle wat dit verseker gaan onthou lank nadat ek ook dalk  nie meer daar is nie.

Tot volgende keer...

Priceless

Toe ek netnou die storie oor die spinnekop in Pa se garage sit en skrywe, toe dink ek dadelik aan die volgende drama wat hom jare gelede op presies dieselfde plek afgespeel het.  Weer eens met Pa-G te doen.  En nog een van daai insidente wat my vir die res van my lewe sal bybly.

Pa-G was maar ‘n redelike konserwatiewe oubaas.  Beginselvas, doen dinge op die regte manier, sobere gewoontes, kyk nie waar hy nie veronderstel is om te kyk nie.  Of in alle geval nie wanneer een van die ander gesinslede hom kon sien kyk nie.

Ek was so ’n opgeskote jongman, seker in standerd agt of nege. (Daai dae het ons nog nie grade op skool gehad nie, ons het begin by die subs en aangehou met skool tot in standerd tien, oftewel matriek).

Vandat ek maar kan onthou, het ons na kerk op ’n Sondag-oggend vir Ma-E en Suster-T by die huis gaan aflaai om met die Sondag-middagete voorbereiding te begin, dan is ek en Pa-G in die kar weg begraafplaas toe om by Oupa-A se graf te gaan besoek aflê. Dan het pa die onkruidjies uitgeskoffel met die hand-vurtjie wat altyd in die kar se kattebak was, die klippies mooi reggeskuif, die marmer-steen met bietje water afgespoel en nie te lank nie, dan is ons weer terug huiswaarts.

Dié betrokke dag het alles dan ook presies verloop soos al die baie Sondae tevore en soos wat baie komende Sondae daarna nog sou verloop. By die huis aangekom, het ek die garagedeur vir my pa oopgesluit (daar was geen manier wat sy kar sou buite staan nie), en hy het die kar ingetrek. Die vensters op so ’n skrefie oopgelos sodat die warm lug kon uit, al die deure noukeurig gesluit, en die garage-deur begin toemaak.

Dis toe net daar waar dinge soos in die movies in slow-motion begin gebeur:

Soos wat Pa-G besig is om die garagedeur af te trek (dit was natuurlik  nog lank voor die dae van elektriese garagedeure op Uitenhage), trek ’n rumoer aan die onderpunt van die straat my aandag.  En ek kyk op en vries verstom in my spore.  Want daar kom ’n Beach-Buggy in die straat opgery.  Kannie die kleur onthou nie, maar dit is ook nie belangrik nie.  Wat wel belangrik was, was dat daar benewens die jong bestuurder, twee vroulike passasiers in die oop-kap karretjie was.  Een sit in die voorste passasier-sitplek, en die ander ene, wel, dis net hier waar die groot aanskoulikheid begin.

Want op die agtersitplek staan so ’n jongerige meisie.  Sy staan kierts-regop op die sitplek, en sy hou so met albei hande aan die Beach-Buggy se roll-bar vas.  En sy staan so en swaai van kant tot kant soos wat die Beach-Buggy in die straat op-dreun, en sy het absoluut niks bokant haar naeltjie aan nie. 

Ek kon my luck nie glo nie.  Want waar kry ’n jongman van Uitenhage nou ooit die geleentheid om sommer so voor middagete op ’n Sondag-oggend twee pramme van aangesig te kan staan en beskou? Want sy was hoogs bedeeld op al die plekke wat ’n meisie van haar ouderdom bedeeld behoort te wees.

Dis net daar wat ek onthou van my pa wat op daardie stadium net die deur klaar toegemaak en gesluit het.  En ek vestig my volle aandag op hom wat net in die proses is om regop te kom en begin om straat-waarts te draai. Alles nog steeds in slow-motion.

En Pa se oog vang die Bitch-Buggy met sy tieties wat so swaai in die somers-windjie.  En Pa-G se oë rek groter as sopborde, en sy onder-kakebeen klap behoorlik teen sy knieë vas soos wat sy mond oopval.

En soos wat Bitch-Buggy voor ons verby-dreun, so draai my pa se lyf met die kar saam om tog niks van die view te mis nie.

En toe die karretjie en sy inhoud so uit Pa se gesigsveld uit verdwyn, kom hy so effens by van die skok, staar na my met sulke glaserige uitdrukkings in sy oë en uiter:  “Maar my D..O..O..O..O..NER, E, daardie vrou het dan NIKS oor haar borste aan nie!!!!“


Kerktoe op ’n Sondag-oggend as kind:  

Belangrik.

Begraafplaas toe gaan na kerk:  

Great.

Ma se Sondag-middagetes:  

Onverbeterlik.

Pa se uitdrukking toe hy voor sy tiener-seun sien wat Pa’s nie behoort te sien nie: 

Absoluut totaal PRICELESS!!!

 

Tot volgende keer...

Agt-potige DNA

Ek is seker dat die vrees vir spinnekoppe oorerflik is.  Dat iewers, diep binne mens se DNA-struktuur, daar voor geboorte een of ander bit flip wat maak dat die persoon aan wie daai DNA behoort, hierdie geweldige en totale irrasionele gevoel van vrees het wanneer hy of sy tot aangesig sou kom met een van ons klein agt-potige mede-bewoners van Moeder Aarde.

In my geval kom die genoemde DNA-afwyking sekerlik van my pa se kant af.  Want vandat ek maar kan onthou, kon hy sy stem op so ‘n spesiale manier verander wanneer hy vir Ma-E roep om die besem en die blik Doom te bring.  En, tipies van ’n normale gesins-opset van die jare sewentigs waartydens ek grootgeword het, was dit ook nie dan die tyd vir my ma om tee te praat nie.  Vroue, wees aan julle mans onderdanig. 

So Ma-E se moederlike huweliksplig onder gegewe omstandighede was om sonder versuim vir Spinnekop op te spoor, te bespuit van de Doom, te keer dat hy nie agter ’n meubelstuk verdwyn nie, (met die besem natuurlik) en te ekstermineer.  Natuurlik onder die noukeurige en eksplisiete aanwysings van my pa, wat teen daardie tyd heel altyd veilig buite bereik van sig of spring die nodige leiding gegee het.  Soos wat dit die behoorlike hoof van ’n Afrikaanse huishouding betaam, natuurlik met baie bliksems en donders as deel van die gesprek. Mans, julle moet julle vrouens liefhê.

So vertel Ma-E en Pa-G vir my jare gelede van die volgende insident wat in ons motorhuis afgespeel het:

Wat presies vooraf gebeur het, is niemand juis baie seker van nie.  Maar wat wel feit was, was dat my Ma en Pa vir een of ander onverklaarbare rede nie op die betrokke dag juis op speaking terms met mekaar was nie.  En ek, toe al ’n jongman van bykans 20, was nie op daardie stadium tuis nie.

Pa-G het die garage begin uitvee,  nadat hy die agterdeur oopgemaak het sodat die windjie wat deur-trek, die stoffies darem so bietjie kon wegwaai.   Ma was elders in die huis doenig.  Verseker nie besig om vir Pa Hertzoggies te bak nie.

Toe Pa so op ’n stadium onder die Kombi inbuk om daar te vee, toe sien hy Mnr. 8-poot onder die Kombi sit.  ’n Ou Grote, (hoofletter-G). Met die beentjies wat so nou en dan beweeg, asof die gedoente my Pa wou uitdaag om dit te waag om enigsins nader te kom.

My pa het amper sy pyp ingesluk, en toe is dit die gewone:  “E, bring die besem en die blik Doom“.  Maar Ma-E lewe in haar eie wêreld.  Heeltemal doof vir my Pa se herhaaldelike nood-krete.  En sy gaan maar aan met wat sy besig was om te doen en maak of sy nie vir Pa-G hoor nie.

Nou sit Pa-G met ’n hengske dilemma.  Hy kan nie uit die garage uit nie, want dan verdwyn Spinnekop dalk en wie weet wanneer beland hy in een van die karre.  En my Ma wil nie help nie. En ek is nie daar nie, en daar’s geen manier waarop hy self gaan probeer om die ding dood te maak nie.

My Pa doen toe maar die regte ding, en gaan sit so op sy hurke op’n veilige afstand,  en hy stook sy pyp met die Dinglers no. 6 Medium Brown tabak dat jy net sien rook trek.  En hy hou vir Spinnekop dop, wat steeds elke nou en dan net sy beentjies so bietjie-bietjie beweeg.  En Pa-G stress en raak grys sommer binne die bestek van ’n paar minute.

Ek weet nie hoe lank die oubaas daar gesit en stress en swets het nie, maar op ’n stadium loop daar ’n anderskleurige jongman in die straat op. (Nie my pa se woorde nie, hy was nog van die ouer generasie, en hierdie is ’n verligte blog). En my pa maak die jongman net daar bymekaar en bied hom (sekerlik na vurige onderhandeling) ’n heel buiterwestelike bedrag geld aan om van die ding ontslae te raak.

Jongman aanvaar die geld, loer onder die Kombi in.  En kry summier, op die plek, koue voete.  Met ’n “Nee, Jissis, my Baas, die ding hy is te groot!!“ is hy met ‘n spoed daar by die hek uit, sekerlik aangehelp deur my Pa se gevloek afterna.

En Pa is back to square one.  Op sy hurke langs die Kombi, pyp al rooi-warm gestook en hy wag en probeer om Plan-C te beraam.  Want Ma-E is nog steeds horende doof elders in die huis.

Ek weet nou nie hoelank hy daar gesit het nie, toe een van my studente-buddies, Vriend-N, met sy Morris Minor in die straat opgery kom en in die hek stilhou, op soek na my.  En my Pa is so bly dat hy vir N glo amper ’n soen gee.  Veral toe Vriend-N laat blyk dat hy glo geen bang haar op sy kop het wanneer dit by spinnekoppe kom nie.

En Vriend-N, gewapen met Pa se besem, buk daar onder die Kombi in, mik so ‘n slag, en slaan vir Spinnekop dat die ding net daar op die plek heeltemal disintegreer.  Disintegreer?  Dis reg ja.  Want so met die slaan-slag kom hulle after dat die ding seker al vir weke lank dood-lê daar onder die Kombi.  Horing-droog en kan nie ’n vlooi skade aandoen nie.

Pa-G en Vriend-N kom toe tot die gevolgtrekking dat die dooie, droë spinnekop se beentjies so nou en dan net bietjie beweeg het van die windjie wat oor hom deur die garage getrek het. En Vriend-N lag en Ma-E kom selfs later te voorskyn met tee en lemon-creams en sy lag.  En Pa-G dink gladnie dis snaaks nie.

Ek is Pa-G se kind, deur en deur.  Want my Spinnekop DNA is presies dieselfde as syne. Weet wanneer om handoek in te gooi en weet wanneer om versterkings aan te vra.

Spinnekoppe is nie vir sissies nie.

Tot volgende keer!