Tuesday, November 25, 2008

Die Groot Verlang

So sit ek weer vandag hier voor my rekenaar met 'n hele klomp gemengde gevoelens. Aan die een kant wil mens die verlede vergeet (veral die seerkry en die moeilike tye); aan die ander kant bly mens dinge oopkrap of doen iemand (of jyself) weer van tyd tot tyd iets om jou opnuut te herinner aan tye wat liefs vergete moet bly.

Soos gisteraand. Iets het gebeur wat my alweer laat dink het aan die een grootste en belangrikste leemte in my volwasse lewe.

Sou iemand ooit vir my vra wat ek sou anders doen as ek my lewe kon oorhê, sal die antwoord altyd dieselfde wees: Ek sou so bitter graag 'n kind wou grootmaak. Maak nie saak of dit 'n seuntjie of dogtertjie is nie, ek wil net my eie kind grootmaak.

Ek het dit amper reggekry. Al sestien jaar gelede toe ons pragtige Babadogtertjie-MM gebore is. Dit was deur en deur die een enkele groot hoogtepunt van my hele lewe. Maar ongelukkig kon ek en haar ma (toe natuurlik nog my handbriek) nie ons probleme uitgesorteer kry nie, en is sy en Baba-MM terug Oos-Kaap toe. En ons is geskei. En my hart aan flarde gebreek oor my pragtige kind wat nie meer by my was om te koester en te vertroetel nie.

Ek sien Dogter-MM gereeld en praat baie met haar. Sy is my oog se appel en ek verruil haar vir absoluut niks in die lewe nie. Vir NIKS nie. Maar die tydjies wat ek haar sien (weens die afstand tussen die Oos-Kaap en Gauteng) is net heeltemal te min.

En ek begeer elke dag dat ek 'n groter deel in haar grootword en opvoeding kon hê. Die een aspek waaroor en ewig dankbaar is en sal bly, is die feit dat ek weet dat sy ordentlik grootgemaak word. Haar maniere, respek vir ander en uitkyk op die lewe is perfek. En ek sê nie so omdat sy my eie vlees en bloed is nie. Haar ma en dié se man werk bitter hard aan haar opvoeding en ek's bitter bly daaroor.

En toe, 'n klompie alleen jare na my eerste egskeiding, ontmoet ek weer 'n potensiële handbriek. Sy't drie opgeskote kinders, twee seuns en 'n dogtertjie. En ek hoor hoe almal waarsku dat dit nie maklik is om iemand anders se kinders groot te maak nie, maar die liefde tussen my en hulle ma blom en kort voor lank is sy my wettige en geringde handbriek.

Aanvanklik, soos met 'n nuwe besem, het dit goed gegaan en dit was wonderlik om weer 'n Pa se verantwoordelikheid as hoof van die huis te kon inneem. En toe begin die probleme. Baie oorsake, mettertyd is die kinders heeltemal van my vervreem en ek en Handbriek-2 is ook uitmekaar. Miskien blog ek nog eendag daaroor as my kwaad en my seerkry en die bitter genees het.

So, ek is alweer alleen. Baie gelukkig in vele opsigte, maar eindeloos eensaam in die verlange om weer permanente Pappa te kan wees.

In die jaar se tyd wat ek en Handbriek-2 uitmekaar is, het ek stelselmatig van al die goeters wat by my huis agtergebly het, ontslae geraak. My spasie tuis het al hoe meer en meer geword, en die herhinneringe na wat kon gewees het, al hoe minder en minder. Behalwe vir die blou fiets, die jongste seun s'n. Ek kon net nie die fiets wegmaak nie, want somehow was dit die versinnebeelding van ek as 'n Pa en goeie tye saam met 'n pragtige stiefkind vir wie ek regtig baie liefgeraak het, maar wat omstandighede ook van my weggeraap het.

Gisteraand het ek toe die fiets einde ten laaste weggegee. Lang storie. Maar die bottom line is dat die fiets na 'n seuntjie toe gaan wat (soos wat ek verstaan) nog net in sy jong lewe die gatkant van die lewe geken het. En ek glo dat hy sy blou bicycle met die baie ratte verdien en dit gaan koester as sy eie, kosbare besitting. En dat hy gaan lag en gelukkig wees soos wat kinders moet wees.

En ten spyte van die feit dat dit my verskriklik gelukkig maak, is die groot verlange in my hart na my eie kind om groot te maak, weer daar. En ek wonder hoekom daai ou seuntjie (of 'n ander een soos hy) nie maar my aanneem-kind kan wees nie. Want ek het die plek en geduld en liefde en 'n groot hart met 'n moerse verlange om vir iemand 'n dag-tot-dag Pa te kan wees. Ek wil die een wees wat 'n seerplek of 'n stukkend-gevalde knie reg-soen. Ek wil die rolmodel en mentor wees. Ek wil liefde gee en liefde kry. Ek wil die vertrooster wees as die donderweer slaan. Ek wil 'n klein hondjie as geskenkie koop en saam op die grasperk krieket speel of in die swembad rumoer. Ek wil raadgee en daar wees as grootword moeilik word. Ek wil vroeg by die kantoor weg-slip om te gaan skole-rugby kyk en by skool-konserte gaan handeklap. Ek wil die beste pappa in die wêreld wees.

Dis anders met my vriende wat kinders het wat ek van tyd tot tyd sien. Want vir hulle is ek 'n Oom, maar ek wil 'n regtige PA wees.

Soms wonder ek hoekom die lewe my so hierdie rug-kant-hou toegedien het. En hoe ek ooit daai groot verlang gaan stil.

Ek weet regtig nie.

Tot volgende keer ...

9 comments:

Kerneels said...

Laat jy my nou lekker trane wegvee... Daar is baie dinge wat ek in die lewe wil hê, maar die een ding wat ek so erg na smag, is ook om te kan hoor hoe iemand vir my sê "pappa". En drukkies uitdeel. En vir my as pa te wys dat die lewe nie nodig het om gekompliseerd te wees nie.
Ek ken daai verlange. Maar ek glo joune is baie dieper, omdat jy 'n kind het wat jy nie genoeg kan sien en koester nie.

Anonymous said...

ai etterkeps...

Anonymous said...

Ek hoor hulle diskrimineer nie meer teen enkelouer-aannemings nie - nie eers teen enkel voornemende pa's nie (sal jou dalk net heelwat meer scrutinize voor die tyd). Die nood vir aanneemouers is net te groot. Veral seuns word nie maklik aangeneem nie en swart seuns heel moeilikste. Private aanneming is ook 'n opsie.

Jy mag nie weer vir my laat tjank nie.

Anonymous said...

Net terloops, ek wil nie uit my beurt praat in 'n oomblik soos hierdie nie, maar ek wil tog vir jou sê ek hoop regtig jy kry next time 'n absoluut befokte vrou wat die grond aanbid waarop jy loop, want die herre weet ouens soos jy kry mens omtrent nie meer nie.

Anonymous said...

Baie dankie.

BloggAlot said...
This comment has been removed by the author.
BloggAlot said...

Hi there,

A friend suggested I read your post, But, I have just one tiny problem...... I'm English speaking and the post is in Afrikaans.... (I know, some of us are just totally beyound any help :-))

Any remote chance you can help me understand what it is you have said?

Otherwise, hope you are well. Take care, xxx

XonixZA said...

Hey Blog-A - thanks for reading my post. I will spend a bit of time on this and translate for you. The main thing which is part of this post is the whole bicycle-venture that kicked off. Did you get the just of that?

Chat to you soon...

BloggAlot said...

I got NOTHING. I only understand Afrikaans swear words and believe me, I looked and couldn't find any!

LOL.

Chat soon,
BloggALot