Friday, November 21, 2008

Vaarwel aan Diep Spore

Ek is gister die onbenydenswaardige voorreg gegun om by my geliefde Oom-J se begrafnisdiens op Welkom die bedankings te doen.

Ek was erg bekommerd voor die tyd, want ek was verskriklik lief vir my ma se jongste boetie, wat sederd my eie Pa-G se dood net oor die drie jaar gelede daai spesiale plekkie in my lewe spontaan ingeneem het. En ek was bekommerd dat die groot knop in my keel gaan voorkom dat ek met my paar woorde reg sou laat geskiet aan ‘n vreeslike spesiale man.

Ek onthou Oom-J van klein seuntjie se tyd af. Wanneer die familie van Welkom by ons in die Oos-Kaap kom kuier het, was dit vir my as kind altyd ‘n spesiale belewenis. Want Oom-J en Tannie-D en die twee kinders het altyd baie rondgery as hulle kom kuier het, en dan het ek altyd saamgery. My eerste vis ooit het ek saam met hom gevang, so ‘n kleintjie wat sy ereplek met trots in Ma-E se vrieskas ingeneem het. Het net mooi in ‘n bank-kleingeld-sakkie ingepas.

Later toe ek grootgeraak het en Gauteng toe verhuis het, het ek begin om so gereeld moontlik by Oom-J-hulle op Welkom te gaan kuier. En alhoewel hy steeds my Oom was en ek hom as sulks gerespekteer het, het ons ook baie goeie vriende geword. Ons kon die naweke omgesels oor sy jong dae in die Langkloof, sy eerste werk op die myne in Welkom, die munisipaliteit, die brouery en later, nadat hy op pensioen is, sy pos as opsigter by ‘n plaaslike laerskool. ‘n Werk wat hy ten spyte van verskriklike pyn as gevolg van die seer heup getrou en ordentlik, met groot genot en kenmerkende toegewydheid aangepak het.

Wat Oom-J ooit in sy lewe aangepak het, het hy met sorvuldigheid en trots op die REGTE manier gedoen. Daar was nooit iets wat hy halfhartig gedoen het nie. As hy kuier, het hy GOED gekuier. As hy gesels, het hy LEKKER gesels. Hy’t goed geluister en op sy stil manier raad uit sy hart gegee toe dinge in my eie huwelik skeefgeloop het.

En die stories wat hy kon vertel! As daar nou ooit een mens was wat ‘n best-seller lewensverhaal sou kon skrywe, was dit hy. Maar hy was veels te beskeie om homself as enigsins spesiaal te ag.

Ek kon my altyd verluister aan die stories toe hulle as kinders op die plaas in die Langkloof grootgeword het. Die jongste van ses kinders (drie broers en drie susters – al drie broers is nou al weg, die drie susters lewe nog almal). Van hulle vuil spel op Humansdorp se rugbyveld, waar jy nooit aan die treinspoor se kant ge-tackle moes word nie, want dan was jy swart van de roet en de as vir weke daarna. En aan die ander kant van die veld was die duwweltjies. So bly weg daar , tensy jy ‘n lid van die opposisie-span wat nie die veld geken het nie daar kon tackle... En die takies wat hy en my ma as die jongste kinders op die werf moes doen. En die swaarkry en die lekker van kind-wees in die ou tyd. En die stories van my Oupa-G.F. wat oorlede is toe ek maar net ‘n jaar oud was en dus nooit geken het nie.

Oom-J was ‘n man wat diep spore gestap het sy hele lewe lank. En juis daarom my bekommernis toe ek gister moes opstaan om die bedankings te doen. Want dis een ding om dankie te sê vir die familie en vriende wat van ver af gekom het en vir al die ruikers en die oproepe en die eetgoedjies by die tee na die tyd. Maar dis nie waaroor ek eintlik wou dankie sê nie. My eintlike dank gaan aan ‘n Oom en Vriend en Mentor wat diep spore gestap het deur my eie lewe. Iemand na wie ek altyd kon opkyk vir raad en ‘n oor wat kon luister. En daai stem wat nou stilgeraak het, gaan ek oneindig baie mis. My telefoon gaan nie weer lui op ‘n Sondag-aand nie.

Daai groot dankie gaan ek dus liefs maar in my eie hart hou. En baie onthou en verlang en dink aan die man met die groot skoene wat sy hele lewe lank sulke diep spore getrap het.

Gister se bedankings het toe goed afgeloop. Wanneer die knop in my keel wou dreig om my stem te laat wegraak, het ek maar net gedink aan die man wat stil in sy hout-kis neffens my rus, en ek het aangegaan op die manier wat ek weet hy dit sou gedoen het. Op korrekte, gepaste en nederige wyse.

Vaarwel Oom-J! Ek gaan Oom-J oneindig baie mis. . . . .

2 comments:

Anonymous said...

sjoe

diep woorde wat baie se...

Anonymous said...

Die wêreld se beste skrywer sou nie daai dankie in jou hart kan verwoord nie...
So jammer vir die seer.