Thursday, October 30, 2008

Oor Boyfriends

My Dogter-M, raak groot. Heeltemal te vinnig vir haar pa (dis nou ekke) se liking. Want sy’s alreeds ‘n teenager en waar teenage dogters is, is boyfriends ook mos nooit ver weg nie. Of so onthou ek in alle geval nog van my kindsbeen dae af.

Die enigste probleem is dat Dogter-M by my eerste handbriek in die Oos-Kaap bly. Heeltemal te ver vir my om ‘n behoorlike ogie te kan hou op enige potensiële vryers, maar selfs daarvoor het ek die ultimate oplossing. Dis eintlik maklik. Dogter-M moet maar hier by my in Gauteng kom bly.

En hier volg my onfeilbare plan om te sorg dat enige verhoudings en afsprake mooi natuurlik, hoogs kuis en heel gepas voltrek kan word.

INLEIDING

Toe ek nog in die hoërskool was, was ek vreesbevange oor my eerste meisie se pa, wie ek geglo het my permanent verdink het van die onedele behoefte om my hande op sy dogter se bors te sit. Hy het die voordeur altyd persoonlik oopgemaak en my vriendelike glimlag en my aangename “Middag Oom” sonder verwyl in die kiem gesmoor met ‘n handdruk-klem wat summier koolstof in diamante sou kon verander.

Nou, baie jare later, is dit my beurt om ‘n Pa te wees. En aangesien ek nog goed onthou hoe bevange ek was wanneer ek ‘n meisie op ‘n date wou neem, gaan ek nou my bes doen om al my dogter se voorgenome boyfriends veelvuldige ordes erger te laat voel.

My motto: Skrik hulle sommer so met die intrapslag in die voorkamer al af, en hulle bly afgeskrik vir die res van die aand.

“So!!,” roep ek joviaal uit sommer so saam met my handdruk van staal. “Ek sien jy het ‘n gaatjie in jou oor! Is dit omdat jy stupid is of omdat jy net graag stupid wil lyk?” En ek verlekker my aan sy waterige ogies - die resultaat van my eg manlike groet.

“Luister nou mooi, jongman: As Dogter-M se pa het ek so ‘n paar basiese reëls wat ek noukeurig op twee gepoetste marmer-tablette uitgekerf het en in die sitkamer uitstal. Gaan lees dit gerus en laat dit behoorlik insink in jou onder-ontwikkelde poging tot 'n marmot-brein!”

REEL EEN:

As jy in my oprit opry en jy druk jou kar se toeter, moet jy maar eerder hoop jy lewer ‘n pakkie of iets af, want jy gaan sowaar as vet niks hier by hierdie huis oplaai nie.

REEL TWEE:

Jy raak nie voor my aan my dogter nie. Jy mag so sywaarts en baie vlugtig uit die hoek van jou oog na haar loer, maar na niks onder haar nek nie. As jy nie jou hande van my dogter kan afhou nie, sal ek jou hande baie vinnig en permanent vir jou laat verwyder.

REEL DRIE:

Ek is heeltemal bewus van die feit dat dit kwansuis in die mode is vir seuns van jou ouderdom om hulle broeke te dra sodat dit lyk of die goed van julle heupe wil afmoer. Moet dit asseblief nie as ‘n belediging beskou nie, maar jy en al jou vriende is totale idote. Maar ek wil steeeds regverdig en redelik wees oor hierdie ou sakie, en daarom die volgende kompromie: Jy mag tot by my voordeur kom met jou onderbroek wat uitsteek en jou langbroek tien nommers te groot, en ek sal gladnie kla nie. Maar: Net om te verseker dat jou broek nie tydens die verloop van jou afspraak met my dogter afval nie, sal ek my elektriese staple gun vat en jou broek mooi sekuur op sy regte plek om jou middel vasmaak en jy sal vir maande daarna nog sukkel om die ding weer af te kry om die infeksie gestop te probeer kry...

REEL VIER:

Ek weet dat jou vriende vir jou vertel het dat in vandag se wêreld, seks sonder proteksie jou kan doodmaak. Laat ek dit nou sommer mooi duidelik stel: Wanneer dit kom by seks met my dogter, is EK die proteksie, en EK sal jou persoonlik doodmaak.

REEL VYF:

Ek weet dat ek en jy veronderstel is om mekaar beter te leer ken, en daarom moet ons kwansuis onderhouende geselsies maak oor sport, politiek en ander netelige sake van die dag. Moet dit asseblief nie doen nie. Die enigste informasie wat ek van jou verlang, is ‘n indikasie van wanneer jy my dogter veilig terug gaan besorg by hierdie huis. En die enigste woorde wat ek van jou verlang op hierdie onderwerp is “Baie vroeg Oom.”

REEL SES :

Ek het geen twyfel daaraan dat jy ‘n baie populêre jongman is met vreeslik baie potensiaal om met vele ander meisies uit te gaan nie. Dit is heeltemal reg met my, solank dit ook reg is met my dogter. Anders gestel: Sodra jy vir die eerste keer met my dogter uitgegaan het sal jy met haar bly uitgaan en met niemand anders nie, tot sy die dag klaar is met jou. Luister nou mooi: As jy haar maak huil, sal ek vir JOU maak huil.

REEL SEWE:

As jy hier voor in die ingangsportaal staan en wag vir my dogter om haar verskyning te maak, en meer as ‘n uur gaan verby, moet asseblief nie sug of staan en vroetel nie. As jy betyds wil wees vir ‘n fliek moes jy nie op ‘n date met my dogter besluit het nie. My dogter sit haar make-up aan, ‘n proses wat langer kan neem as om die Golden Gate brug met drie lae verf te bedek. So: Terwyl jy staan en wag, hoekom doen jy nie solank iets nuttigs soos om my motor se olie af te tap of die gras se kante mooi kort te sny nie?

REEL AGT:

Die volgende plekke is NIE gepas vir ‘n afspraak met my dogter nie:

--->> Plekke waar daar beddens, sofas of enige iets sagter as ‘n hout-stoel is.
--->> Plekke waar dit skemer of donker is.
--->> Plekke waar daar gedans word, hande vasgehou, of gelag word.
--->> Plekke waar die omgewingstemperatuur warm genoeg is om my dogter te noop om shorts, skouerlose bloesies, mini-rokkies, of enige iets anders as ‘n lang-mou wol-trui, sweetpakbroek, ‘n parka, of ‘n top met ‘n kraag wat tot bokant haar keel toemaak, aan te trek.
--->> Flieks met enige ondertoon van romantiek of seks, of ‘n ouderdoms-beperking van PG-13 of hoër, moet ten alle koste vermy word.
--->> Flieks waarin ketting-sae of ys-pikke as moordwapens gebruik word is in orde.
--->> Hokkie-, Tennis en netbalwedstryde is in orde.

TEN SLOTTE:

My dogter gee voor dat dit vir haar vernederend is om voordeur toe te kom en haar voorgenome date sy bes te sien doen om hierdie agt eenvoudige reëls woord vir woord te memoriseer. Ek sou dit ook as vernederend beskou – daar is net agt van die goed, for crying out loud!

En net vir die rekord: Ek het aan geen een van hierdie snuiters voorgestel om my reëls op hulle voor-arms te laat tatoeer as hulle die goed nie kan onthou nie. (Ek het daarop ingegaan, en die koste is net heeltemal te hoog). Ek het bloot aan hulle gesê dat dit nie help om my reëls met ‘n balpuntpen op hulle arms te skryf nie, want ink sal af-was. En dat my dik-punt elektriese soldeer-yster ‘n baie beter alternatief is. En ek het natuurlik vir hulle gevra of hulle die konsep van kastrasie mooi duidelik verstaan en of ek vir hulle 'n vinnige demo moet gee...

Een keer, toe ‘n vriend vir my vra hoekom ek dan so hard is op die voorgenome vryers, wil hy my nog uitvang met ‘n uitdaging van “Kan jy dan nie meer onthou toe ons daai ouderdom was nie?”

Natuurlik kan ek dit onthou. Soos gister. Hoekom de moer dink jy het ek vorendag gekom met hierdie agt eenvoudige reëls?

Ek moet my haelgeweer gaan olie, so, tot volgende keer…

Wednesday, October 29, 2008

Suster-T

Ek ry nou die dag agter ‘n klein rooi VW Golf aan in spitsverkeer, oppad huistoe. Voor in die kar (agter die stuurwiel), bestuur iemand se handbriek. Sy moet ‘n handbriek wees (of ten minste eens op ‘n stadium gewees het) want agterin die kar sit twee opgeskote kindertjies. ‘n Borselkop seuntjie van so ses en sy blondekop-sustertjie, seker so ‘n jaar of wat ouer as hy. En die twee is aanmekaar. Letterlik en figuurlik, soos net Kleinboet en Kleinsus kan wees. Dit trek hare, probeer oë uitkrap en dit gil en dit jil iets verskrikliks. Nie dat ek dit kan hoor nie, want ek is mos in my eie kar agter hulle aan op pad. Maar dit het ek mos alreeds gesê, julle moet net lees!


Handbriek het so ‘n keer of drie omgekyk, harde woorde gespreek (wat ek natuurlik nie kon hoor nie), en gedreig. Want dit kan handbrieke mos goed doen. Maar ten spyte van die feit dat sy haar lippe met elke omkyk-slag so ‘n bar of drie harder opblaas, is dit net ‘n honderd meter of verder weer sulke tyd. Dis net klappe en stampe en hare en oë op die agter-sitplek.

Tot Handbriek se moer-meter op 'n stadium heeltemal verby die "Dangerously High" merkie die rooi inskiet, en dis toe net daar op die hoek van Republiekweg en Malibongwe (wat tot onlangs nog Hans Strijdom was) dat sy die robot oranje vang, en daar is sy met ‘n spoed uit die rooi Golf uit. H.K.G.K. Sommer so met die uitklimslag is haar pikante sandaaltjie al in die hand en die agterdeur oop. En die houe val op enige deel van Boet en Sus se konstitusie wat nie weggesteek kan word nie. Ek die kleintjies skreeu en belowe en verduidelik en pleit, maar Handbriek slaan, want die robot is nou-nou weer groen en dan gaan die karre agter haar begin toeter blaas.

Wat daarna gebeur het, weet ek nie, want daar het ons paadjies toe geskei. Handbriek en haar huilende kroos links in Malibongwe af en ek regs in Hans-Strijdom in. Wat eintlik dieselfde pad is, maar veskillende rigtings. Sy Oos en ek Wes.

Die bogenoemde insident laat my toe mos aan my eie familie dink.

Want sien, my Pa-G en Ma-E het ook die oulikste twee kindertjies gehad. Suster-T en ekke. Die uwe wat die jongste was en ook sekerlik die oulikste. Hang net af van wie jy sou vra.

In alle geval, ek en Suster-T kon net so vreeslik baklei en stry. Ek weet nie hoeveel keer Ma-E vir ons vertel het van die baie klein kindertjies in ver lande wat enige iets sou gegee het om ‘n boetie of ‘n sussie te kon hê nie. En kyk net hoe baklei die twee van ons (wat kwansuis so geseën is). En ons gatte het gereëld gebrand daaroor, want dit was nog in die goeie ou dae wat kinders nie hulle ouers hof toe gevat het vir die billike en noodsaaklike reg tot uitvoering van ouerlike disiplinering nie.

Ons bakleiery en gestryery het maar so aangegaan en eers beter geraak toe ons al beide uit die skool uit is. Suster-T in die Technicon koshuis en ek in die Weermag. En ons kon toe so lekker gesels en kuier wanneer ek op pas is, want toe was ons mos al mooi groot.

Maar so van tyd tot tyd raak Suster-T mos heeltemal bedonnerd in haar kop, en dan is daar weer kwade gevoelens van voor af. Soos die keer met Klavier se storie – daaroor het ek alreeds geblog. Dan is dit dit en dan is dit weer dat. Gewoonlik nie eens vir ‘n ordentlike rede nie. En ek gee ook nie juis om nie, want ek is redelik onvergewensgesind, en ek stuur ewe redelik maklik mense volkome in hulle moere in.

Die voor-laaste keer wat ek af was om vir die familie te gaan kuier, het ek ‘n paar keer by Suster-T gaan kuier en daar was g'n fout nie. Ek bel haar nie gereeld nie, sy bel my nooit nie. Ek leef my lewe en sy leef hare.

En toe ek nou laas keer af was Oos-Kaap toe, toe probeer ek om haar in die hande te kry om te reël dat ek kan gaan hallo sê. Kom gou agter dat sy nie my selfoon-oproepe wil antwoord nie, want die eerste keer wat Ma-E van die huis-foon af bel, toe is sy skielik daar. En Ma-E vra wanneer Suster-T tuis is want ons wil kom hallo sê. En Suster-T se response? “Ons het NIKS om vir mekaar te sê nie”. Ma-E wou nog die foon vir my aangee sodat ek met haar kan praat, maar die ding is alreeds in haar ore neergesit.

Nou vra ek jou: Wat het ek gedoen om dit te verdien?

As daar geldige rede is vir haar bemoerdheid, great, dan kan ons dit uitpraat soos dit opgevoede grootmense betaam. Maar as sy wil daal tot die vlak om die telefoon in Ma-E se oor neer te smyt, dan het ek geen verdere raad vir haar nie.

Ek't die res van die week heerlik saam met my ouers en ander familie gekuier, en later teruggery Gauteng toe sonder om weer met Suster-T te probeer kontak maak. So bitter soos dit klink, sy’s finaal en verseker van my Krismis-inkopie-lysie af. En ja, dit pla my. En nee, ek beoog nie om enige iets daaraan te probeer doen nie, want ek weet dat ek myself net teen haar muur van depressie en issues gaan vasloop. En daarvoor het ek nie tyd nie.

Kinders, julle moet julle ouers liefhê. Tick.
Ouers, julle moet julle kinders liefhê. Tick.
Broeders, julle moet julle susters liefhê. MMmm, OK, Tick.
Susters, julle moet julle broeders liefhê. Doodse stilte.

Tot volgende keer…

Tuesday, October 21, 2008

Dinge van die Pad

Ek weet van heelparty lesers wie se nek-hare heeltemal penorent gaan staan as hulle hierdie blog se onderwerp sien. En met goeie reg ook! Want Dinge van die Pad is daai dinge wat gebeur het maar wat nooit gebeur het nie. Want sien, as daar nie ‘n foto is nie, dan het dit mos nie gebeur nie. Soos die keer wat Vriend-C se double-cab in die laat-nag-ure sonder diesel op die snelweg gaan staan het en ekke moes gaan help. Ongelukkig het die uwe sy kamera tuis vergeet, en daardeur is enige kanse om bewyse van die groot geleentheid daarmee heen. So ek kan hom nie eens afpers of grappies daaroor maak nie, want dit het mos nie gebeur nie. Dis Dinge van die Pad.

Die een ongeskrewe reël is dat daar nooit in verkeerde geselskap oor Dinge van die Pad gepraat mag word nie. Want mens moet mos maar soms jou eie belange en die van jou vriende beskerm. So, liewe leser, moenie stress nie, ek gaan nie oor enige Dinge van die Pad praat wat liefs Dinge van die Pad behoort te bly nie. En Vriend-D sal seker ‘n sug van verligting slaak, want die meeste van ons Dinge van die Pad het hy in alle geval al ‘n dosyn of meer maal gehoor.

Die eerste Dinge van die Pad wat ek kan onthou, is die keer toe ek saam met die Voortrekkers daar na van Stadens-rivier-mond toe was vir ‘n naweek-kamp. My eerste kamp nogals; Vroeg die Vrydag-middag per bus van Uitenhage af vertrek. Daar aangekom, pla my blaas my iets vreesliks. Ek het net my rugsak en slaapsak in die bungelo ingegooi, en is toe met ‘n vaart daar weg na die ablusie-blokke toe. Afdraand. En aan die onderpunt van die afdraand, presies op daai plek wat my voorwaartse momentum enige redelike en billike kans van stop heeltemal oorskry, is daar toe mos ‘n teerpad. KADOEF!! En ek donder daar neer dat jy net kniekop-velle sien trek.

Wou nog huil, maar my eerste gedagte is of iemand my nie dalk gesien het nie. Gelukkig nie. So ons gaan hulle ook nie vertel nie.

Sluip so met ‘n ompad terug bungalo toe nadat ek die ergste bloed met toilet-papier probeer stop het en gaan trek ‘n langbroek aan om die letsels weg te steek. Maar ai, die pyn. Dit was regtig bitter eina.

My naweek grotendeels opgeneuk, die ouens moes (nadat hulle van my ongelukkie verneem het) my maar na my gat-kant to tackle wanneer ons touch-rugby op die strand gespeel het. Gelukkig was daar nog nie in daai dae kameras en selfone naby nie, anders het ek seker vandag nog nie die einde daarvan gehoor nie.

Dinge van die Pad het soms die manier om met verloop van tyd nie meer so ‘n groot issue te wees nie. Want die stukkende knieë het met die tyd genees, ons het almal grootgeword en dus maak dit nie meer vandag saak om daaroor te praat nie.

Maar daar’s ander Dinge van die Pad wat liefs ongesê moet en sal bly. Soos die keer wat ek in die army was en per trein op pad was terug kamp toe, en toe na vele brandewyne en cokes in dieselfde slaapsak beland het saam met ‘n haas onbekende skool-kennis. Mmmm, Dinge van die Pad, of sal hierdie spesifieke ene nou kwalifiseer as Dinge van die Spoor? Ek het in elk geval nooit geweet dat ‘n army-slaapsak so lekker kan slaap nie. En alhoewel ek weet van die Mile High Club, het ek nooit besef dat daar so iets op 'n trein ook kan bestaan nie.

Ek dink dis belangrik dat enige persoon sy eie Dinge van die Pad behoort te hê. Nie om voor te gee dat ek ‘n voorstaander is daarvan om goeters weg te steek vir jou wettige of geringde handbriek nie, maar soos julle weet het ek mos nie daai tipe harnas om my hals nie. My spoed is hoog en my bekommernis oor briek-stories is dus minimaal. Maar Dinge van die Pad verseker dat mens nie in die saai groef van die lewe beland nie. Ek meen, werk en eet en slaap is dinge wat mens elke dag moet doen om te leef. Maar Dinge van die Pad sorg vir bietjie afleiding en weg-breek van die alledaagse. Soos die keer in Plek-B. Dis nou Dinge van die Pad waaroor daar nie gepraat mag word nie. Daar was verseker nie kamera’s naby nie, die bier was koud en die omstandighede net mooi reg.

Al wat ek oor daardie betrokke geleentheid kan sê is: “HIEEE HAAAA”.

Groetnis tot volgende keer …

Tuesday, October 14, 2008

Die K-woord se kind

Hierdie is ‘n uiters sensitiewe storie, gegewe die huidige politieke situasie in ons mooi land. Maar dis een van hierdie saga’s wat vir die huidige en komende geslagte vir baie jare van nou af bewaar behoort te bly. Soos in geskiedenis. Of volksbesit. Daarom nou juis hierdie blog.

Sien, Pa-G het in 1972 vir my en Ousus-T ‘n K-ding gekoop. ‘n Pragtige Ludwig Meister Klavier, nou wel tweedehands, maar regtig nog so goed soos nuut. En dit was nie net die verkoopsman se storie nie, Pa-G het lekker bemoerd geraak as mense hom bedinges.

Anyhow, Klavier is in my ouerhuis se sitkamer afgelewer, iemand het uitgekom om hom te stem, en daar moet ek en Sus-T toe onmiddelik begin met Klavierlesse. Want Pa-G het baie vir die ding betaal en lesse sal daar geneem word.

Ek was maar lui vir oefen en bladlees, maar kon ure lank voor die ebony en ivory-note sit en verwyl en alles wat voorkom sommer so op gehoor speel. Ek was daai jare al lief vir my musiek, en is vandag nog steeds.

Anyhow, Graad I en Graad II Unisa musiek-eksamens beide met lof deurgekom, wil toe in standerd 6 aangaan met musiek, en donner net daar van die tak af toe ons agterkom dat ek nie ‘n noot kan bladlees nie. En die musiek-onnie in die hoërskool wou nie die nuwe stukke eers vir my ‘n paar keer speel sodat ek dit uit dit kop uit kan mimiek nie. Maar nou ja, Klavier-lesse is mos in alle geval vir sissies, en dit pla my toe nie te veel nie. Gaan sing toe maar in die koor. Nogals een stuk duet saam met so ‘n ander groot ou wie se naam my nou ontgaan het. Ons noem hom maar Skool-Vrind-X. Nie dat dit juis saakmaak nie.

Anyhow, die jare het gekom en gegaan, en kort voor lank is ek en Sus-T uit die huis uit. Sy in ‘n huis in en ek betrek my eerste woonstel. En alhowel Pa-G lankal gesê het dat Klavier myne is, word hy solank ‘tydelik’ na Suster-T se huis toe geskuif.

Ek kom toe later Transvaal toe, en toe ek in my eerste huis intrek, begin ek toe flink planne beraam om Klavier se kind hiernatoe te laat kom. Want Suster-T speel nooit nie, Klavier staan net in haar sitkamer en stof opgaar so tussen al die katte deur. Want sy het op ‘n stadium 24 van die goed gehad. Hulle name en kleure en sekse en of hulle reggemaak was of nie is nie nou hier ter sprake nie.

Klavier kom toe met ‘n trek-geleentheid hiernatoe, kry sy ereplek in my huis en ek speel tog te lekker. Kom eers na ‘n klomp weke agter dat Suster-T heel stil geraak het. Bel my nie, kan nie praat as ek haar kontak nie. En ek hoor toe so verlangs by iemand dat dit iets met Klavier te doen het. Sy’t toe mos aangeneem dat posession equals the law of wat-ook-al is, totdat ek die ding kom opeis het. En daar is sy toe hoogs de bliksem in vir my vir ek weet nie hoe lank nie. Maar ons het maar een of ander tyd weer vrede gemaak en ek het nou vir Klavier. Soos wat dit my toekom. Pa-G het mos so gesê. Lank-al!

Anyhow, na so ‘n klompie jare in die eerste huis weer getrek, en Klavier kry alweer ‘n nuwe tuiste. So terloops, nog nooit weer gestem nie – en die ding klink nog steeds tog te mooi en stemmig.

Na so ‘n klompie maande in die nuwe huis, wil ek so bietjie goeters op en af skuif, en Klavier moet move. Ek kry toe sommer ses BEE-Werkers op die straat se hoek, en een mooi Somers-Saterdag-oggend kom skuif hulle die ding vir my. Tot my verdriet en lyding. Klavier het hoeveel krappe en stampmerke soos hulle hom deur plekke probeer forseer waar die ding nog nooit as te nimmer kon deur nie. Want hulle worry mos nie! Kos my later om ‘n hele skuifdeur uit te haal sodat BEE-se-kinders die ding buite-om die huis kan dra.

So hy staan na ‘n moerske gesukkel op sy nuwe plek en my stress-vlak is hoog, want as Pa-G die merke aan Klavier sien, gaan ek les opsê. Gelukkig het Pa-G dit toe nooit gesien nie, want hy is dood voor hy weer hier kon kom kuier. Dis nie gelukkig dat hy dood is nie – moenie my verkeerd verstaan nie – dis net gelukkig dat hy nie hier was en die krappe op Klavier kon sien nie. Want ek is seker dat my gat-velle sou gebrand het, ten spyte van die feit dat ek nou al mooi groot is.

So wat is die probeem nou?

Klavier se kind moet alweer geskuif word. Nadat die handbriek hier weg is, was dit weer tyd om bietjie huis reg te skuif, en Klavier moet nou na sy nuwe ereplek in die eetkamer verskuif word. Want dis net daar langs hom waar die trap-orreltjie ook eendag moet gaan staan as ek tog kan plan sien om hom hier te kry. En Klavier is nou propers vals na sy vorige trek, en ek gaan verseker nie weer BEE’s van die straat af kry nie.

So ek het al gedink en bespiegel en gewonder en gedroom. Maar plan kan ek steeds nie sien nie. Klavier weeg ‘n ton en dis nie ‘n ding wat sommer so geskuiwe wil word nie.

So kuier ‘n klomp van ons, dis nou ek, Vriend-J, Vriend-D, Vriend-A en Vriend-P gisteraand daar by Vriend-C oor ‘n wyntjie en ‘n vleisie. Sommer so buite. Want dis somer en volmaan en lekker buite. En soos gewoonlik, kom die onderwerp van Klavier se kind se trek weer onder bespreking. Want sien, een van die hoof-redes hoekom ek so hard werk daaraan om nuwe (sterk) vriende te maak, is om genoeg ouens bymekaar te kry om verdomde Klavier te kom skuif. Maar hulle wil nie byt nie. Ek meen, toe ek onlangs af was Oos-Kaap toe, het ek kliphard geskimp vir ‘n ‘verrassing’ as ek tuiskom, maar niks nie.

Moet net nie dink dat daar nie genoeg raad te gee was gisteraand nie: Soos:

- Breek die huis af en herbou dit 20 meter verder sodat Klavier dan in die eetkamer staan sonder dat hy geskuif hoef te word.
- Kry ‘n sleepwa in die afterplaas in, dra Klavier daarnatoe en ry die ding na ‘n ander plek toe. MMmm, g’n trailer of kar kan in my afterplaas inkom nie.
- Haal die hele Klavier uitmekaar en dra hom dan stuk-stuk aan. My &^##$@, weet julle hoeveel stukke ‘n Klavier het?
- Maak die huis vol water sodat Klavier kan dryf. (Hy's mos van hout gemaak) En die ander variasie, flood die hele erf sodat die Klavier al die pad buite-om kan dryf. Met minimum moeite.
- Brand die huis (en Klavier) af en eis van die versekering. Bou dan die nuwe huis met Nuwe Klavier sommer so kant en klaar op sy regte plek.
- Etc., etc., etc.. Soos die King van 'The King and I' sou sê.

So nou ja. Klavier se kind moet geskuif word. En ek is al helemal raad-op. En Klavier is vals. En Suster-T is alweer moerig vir my. Nie hierdie keer oor Klavier nie, ek weet nie hoekom nie, so dis nie eens ‘n storie vir ‘n ander keer se blog nie.

Ek moet gaan, want ek moet gaan planne beraam om Klavier te skuif...

So, tot volgende keer!

Monday, October 6, 2008

Die Lewe is 'n Lied!

Ek sit nou-nou net met Vriend-C op MSN en strooi praat, sommer so op ligte trant, want die lewe is swaar genoeg om nie net altyd te moet sit en moan nie. Ek, hy, Vriend-D en miskien Vriend-L gaan vanaand daar braai, en ek moet sorg vir die poeding. Hoe dan nou anders?

In alle geval, so deur die loop van die MSN-tikkery, sê Vriend-C vir my dat hy my iets ernstig wil vra. En my hare staan onmiddellik pen-orent soos ‘n verkeerde-veer-hoender s’n, want al wanneer Vriend-C kwansuis ernstig met my wil praat, is wanneer hy wil hê dat ek met Voormalige-Vriend-X moet vrede maak, en so toegeeflik sal ek mos nie sommer wees nie. Noem dit nou maar die Familie-B se hardegatgeit, maar dis nou maar eenmaal hoe dit is.

Maar dit gaan wonder bo wonder toe nie oor Voormalige-Vriend-X nie. Vriend-C wil net hê dat ek my ietwat swaarmoedige blog van laaskeer (Bitternis) moet vervang met iets minder beswaard. En dis geen probleem nie – ek doen dit met graagte, want die lewe is mos ‘n lied. Nou wel so nou en dan bietjie noot-af (let wel, nie vals nie, net noot-af) maar nog steeds ‘n lied.

So here goes.

Ek besluit toe mos sommer so op die ingewing van die oomblik voor-verlede Maandag om vir die skoolvakansie by my ma en dogter in die Oos-Kaap te gaan kuier. Pak die Jeep (L.W. nie Moon-buggy nie, Jeep. Soos in Sahara, Wranger, Red-Rock van kleur) en sit hier af Vrydag na werk. Tot op Welkom, gaan slaap daar by Oom-J en Tannie-D oor. Sy sit padkos vir ‘n brigade in en voordag Saterdag-oggend is dit ek, die Red-Rock Jeep, die blik padkos en die lang pad. Met RSG se verskeidenheid as enigste geselskap.

Die hele land is droog en stowwerig en winderig. En dit Red-Rock Jeep se bonnet spring op en af elke keer as daar ‘n trok van voor af kom, en ek stress dat dit so gons. Laat sak toe maar later die sitplek so bietjie sodat ek nie die bonnet kan sien nie, toe gaan dit ietwat beter. Amper soos 'n volstruis wat wegkruip vir dit wat pla. En maak weer eens ‘n mental note om vir Verkoopsman-A op Rustenburg te vermaan om dit tog reg te maak met die eerste diens.

In alle geval, nou weer veilig tuis, toe sit ek sommer so en dink oor die aftelope paar dae by die familie en vriende daar onder, dis toe dat ek besluit om bietjie oor Gister, Vandag, Môre en VER van nou af te blog. Net om tog vir Vriend-C gelukkig te maak. Want as hy in ‘n sleg bui is, stink dit gewoonlik. En ek het mos maar nie ‘n pens of konstitusie vir slegte reuke nie. Maar dis alweer ‘n storie vir ‘n ander dag.

GISTER

Ek, Ma-E en Dogter-M gaan kuier toe Vrydag-aand by Oom-E en Tannie-R en die twee neefs en ons maak pot. Of liewer, Oom-E maak die pot, Tannie-R se sousbone is vroegmiddag al klaar, en ek skink die Whisky en Soda. Met baie ys. Ons kuier tog te lekker en gesels ou stukke met al die koeie wat vir die soveelste keer opgegrawe word. Dus meestal oor die dinge van GISTER. Oor Oupa-A toe hy die ou Kombi in 1959 gekoop het, en noukeurig logboek gehou het oor al hulle trippies – Oupa-A, Ouma-W en die ses kinders. Lyk my die Kombi se wiele het ook nooit stilgestaan nie, want hulle was Kaaptoe en Transvaal toe en die hele land vol. En jy sal nie glo hoe goedkoop brandstof daai dae was nie! Dit alles met die Kombi se 1300 engin. Die ou mense het seker meer geduld gehad as ek.

En ons gesels oor Ouma-W en my Pa-G en al die ander familie wat nou al lankal nie meer daar is nie.

En ek dink so by myself dat ek graag ‘n vlieg aan die muur sal wil wees om te sien hoe die klomp familie daar bo sit en stories vertel en lag en gesels en sing. En Ouma-W lag en Oupa-A bak almal poetse. En Pa-G met die konsertina speel saam met sy tweeling-broer, Oom-B met die een af vinger. Net soos gister toe hulle nog almal geleef het. Maar op hulle almal se eie manier het hulle goeie lewens gehad en dink en met trots terug aan my familie wat nou nie meer met ons is nie.

VANDAG

My Dogter-M raak verskriklik vinnig groot. En mooi. Aard verseker in die opsig na haar Pa-E. En ek is so vreeslik trots op haar en lief vir haar, dat my hart sommer so met 'n punt trek elke keer as ek net aan haar dink. En as iemand by die kantoor sou vra hoe dit met haar gaan en hoe sy nou lyk, vertel ek met die grootste-vaderskap-trots en moet ek net keer of my bril wil-wil opwasem. Dis ongelooflik hoe geseën ek is met my dogter.

En dit gaan goed met Moeder-E, sy lyk soveel beter as laas toe ek haar gesien het net na Oom-F se dood. Sy lag weer en as die garagedeur oopgemaak word om die Red-Rock Jeep uit te trek, dan is sy by. Sy’t selfs vir my Hertzoggies gebak. Regstelling: Op die blik staan: Aan Seun-E en Vriend-C. So hy moet maar sy porsie een of ander tyd kom haal.

So ek voel vandag baie gelukkig, die kuier was elke kilometer van die lang pad af Baai toe werd. En ek sien al klaar uit na die volgende keer. En die blomme wat Vriende-D en C in my kombuis op die kas gelos het lyk al te pragtig. Ek het wonderlike vriende.

MôRE

Wie weet wat die toekoms vir ons inhou? G’n mens nie. Die Famile-B se mans is nou nie juis bekend daarvoor dat hulle vreeslik oud word nie. So ek het opnuut besluit om vir NOU te lewe. Tyd met my vriende te bestee. My bes te doen op kantoor en net alles en die lewe te geniet. En om baie gou weer die lang pad aan te durf Baai toe en my famile te geniet terwyl hulle nog daar is en ek goeie gesondheid geniet.

VER VAN NOU AF

Dis nou die dag wanneer Dogter-M besluit dat sy ‘n boyfriend moet hê. Want kyk, daar sal baie meer water as wat nog ooit in die Swartkops-rivier was, in die see moet loop voordat ek my blessing daarvoor sal gee.

Ai tog. Daai dae is seker ook nie so ver van nou af nie. Want die klein snuiter (nog maar steeds Pappa-E se baba) is alreeds volgende jaar sestien. En ek wil maar nie eens daaraan dink dat een of ander jong man aan haar hand moet vat nie, nevermind om vir haar hand te vra. Dit gaan maar moeilik wees, maar ek sal maar seker moet berus. Maar ek gaan haar verseker nie help soek nie. Nie voor sy ten minste sestig is nie.

TERUG BY DIE NOU

Die poeding is nou gaar, of ek hoop altans dit is. Ek is nie so seker of dit so lekker gaan wees soos Ma-E s’n nie, want ek het gedink dit moet stywer wees as dit gaar is. So kom ons hoop maar vir die beste.

Tot volgende keer!