Thursday, November 20, 2008

Start... of nie?

Ek’s mos ‘n vreeslike vredeliewende jongman.

OK, nou wel nie meer so jonk nie, want ek’t destyds gedink toe Ma-E veertig word, dat sy helemal oor die muur is, en hier’s ekke ook nou alreeds aan die verkeerde kant van die groot vier zero. Maar ek bly steeds ‘n berader vir vergewe en vergeet en probeer altyd om in almal se goeie boekies te bly. Sekere mense wat my bietjie beter ken, mag dalk ook op hierdie puntjie ietwat van my verskil, maar dis ‘n demokratiese country, en ek het dus my regte. En ek glo vas ek is cute en intilligent en opbeurend en oulik en cuddly en sexie.

En vredeliewend.

Maar soms verskil mense van my wanneer ek weet dat ek die een is wat reg is. En dan wil-wil my moer-meter weer daar na die ‘stroke’ strepie toe aan-kruie, want hoe kan mense dan met my stry as ek weet dat ek reg is!

Nou vra ek maar vir julle om bietjie uit te help met die huidige kwessie op hande:

Wanneer klassifiseer mens enige gemotoriseerde gevaarte (motor, moonbuggy, motorfiets, bromponie, trekker, Cessna ens. ens. ens.) as ge-‘start’?

Wag, ek maak nie nou sense nie, miskien moet ons die ou sakie bietjie vereenvoudig en die probleem mooi logies loop staan en verduidelik:

Volgens my kennis moet die volgende dinge in die korrekte volgorde gebeur om enige voertuig as behoorlik ge-start en in loop-orde te laat kwalifiseer – en vir die doel van die blog sal ek maar met minder-grafiese klanke moet illustreer:

Stap 1: “Kliek”: Dis nou wanneer jy die sleutel draai om die ignition aan te skakel.
Stap 2: “Zeegee-Zeegee”: Dis wanneer die enjin draai.
Stap 3: “Wroem”: Die enjin vuur.
Stap 4: “Brrrrrrrrr”: Dis nou wanneer die starter gestart het, die carburettor carburette, die crank shaft crank, die spark plugs spark en die pistons, pi…, uhm, die pistons funksioneer ook na wense.

So: Enige normale voertuig, soos byvoorbeeld my Moonbuggy wanneer hy NIE met Sabie se vuil diesel volgemaak is nie klink dus min of meer as volg:

“Kliek, Ziegee-Zeegee, Wroem, Brrrrrrrrrrrrrr” (totdat jy die sleutel in die teenoorgestelde rigting as hierbo draai, of die diesel opraak.)

Volgens my waarmening, is hierdie voertuig nou behoorlik gestart en reg om te ry.

Of Oorle-Vriend-J op die plaas se Regstellende-Donkergroenkleurige-Plorale-Landboutegniese-Hulp-Assistent wat vir Oorle-Vriend-J daar uit die lande uit op die radio roep: “Eish Oubaas, die Trekka hy wil nie start nie”.

En Oorle-Vriend-J se response: “Wat maak hy?”

Regstellende-Donkergroenkleurige-Plorale-Landboutegniese-Hulp-Assistent: “Oubaas, by maak net ‘Kliek’”.

“Jy moet die battery charge vanaand! Hoeveel keer moet ek jou nog sê?”

Of desjare toe ek nog vir my mechanic Oom-E in die garage gehelp het en hy vergeet het om die kar waaraan hy gewerk het se petrol-pypie op te sit: “Kliek, Ziegee-Zeegee-Ziegee-Zeegee-Ziegee-Zeegee-Ziegee-Zeegee". En Oom E: "Wat is nou weer fout dat die donnerse ding nie wil start nie?"

En so kan ons aangaan.

Nou hoekom al hierdie stories? Jy sien, laas naweek daar in Sabie was ons so ‘n klomp vriende wat daar gaan kamp het met die Moonbuggies, en die motorfietse. Alte lekker. En die manne ry die 21-kilometers dat die modder so spat. Maar dis ‘n stress-storie vir ‘n ander dag se blog, veral vanuit Vriend-P se oogpunt.

Die een ding wat meeste van die bikes (en die moonbuggies) in gemeen het, is dat almal van hulle “Kliek, Ziegee-Zeegee, Wroem, Brrrrrrrrrrrrrr” maak voordat daar op hulle gery word. Maar nie Vriend-C s’n nie. Syne maak net “Kliek, Ziegee-Zeegee, Wroem”. En dan doodste stilte. En dan weer so tien keer in ‘n ry : “Kliek, Ziegee-Zeegee, Wroem”. G’n Brrrrrrrrrrr soos in die Coke-advertensie met die pappegaai sonder die vere nie. Net stilte en ‘n groot gevloek van Vriend-C in die plek van die “Brrrrrrrrr”.

En dan karring die manne weer onder die seat en die fairing en spuit met die spook-piepie en vroetel en draai en stel en almal het sy eie opinie van wat die fout kan wees.

Dis nou juis waar die verskil in opinies tussen my en Vriend-C ontstaan het:

Ek is van mening dat Vriend-C se bike nie wil start nie. En Vriend-C hou vol dat sy bike start, maar net nie wil loop nie. En hoe meer ek vir hom se dat die ding gebreek / stukkend / fubar is, hoe meer verskil hy met my. Totdat ek maar later omdraai en wegloop voordat ek dalk dinge sê wat moes gebly het. Want hy sê hy start en ek sê hy start nie.

Nou vra ek vir jou, liewe leser, as daai bike nie wil “Brrrrrrrrr” nie, het hy gestart... of nie? Ek sal julle opinie met dank aanvaar en selfs omverskoning vra indien nodig.

Want ek ag dit my plig om die vrede te bewaar.

Want ek is ‘n baie vredeliewende jongman. . .

Tot volgende keer, “Kliek, Ziegee-Zeegee, Wroem, Brrrrrrrrrrrrrr” (Nie soos Vriend-C se bike nie...)


7 comments:

Anonymous said...

ek stem nie emt jou saam nie. START en GESTART is 2 verskillende dinge)

Jou vriend C is reg...

Anonymous said...

of course you are wrong. As a person that KNOWS (I am a mechanic) START doens't mean RUN.

Sorry bud, you are wrong.

Anonymous said...

sien etterkeps - ek is REG !

XonixZA said...

MMmm, baie interessant en toevallig??? dat al drie bogenoemde comments op PRESIES dieselfde tyd geskrywe is, net nadat Vriend-C dit gelees het en dat Know-It-All die woord "MET" so spel: "EMT" - 'n ou finger-foutjie wat ek WEET Vriend-C altyd maak . . . . .

Anonymous said...

Ek weet nie. Met twee mechanics in die familie, is ek al gewoond aan die ding van "Die F*&*&*& ding wil nie start nie"... Maar dan het hy ook al die geluide gemaak behalwe die BRRRRRRRRRRR een.
Vriend C moet liewer nie sy bike na eeze-peasy toe vat vir diens nie. Klink nie of hy weet wat hy doen nie.

Anonymous said...

PRESIES dieselfde tye ? Hu

12:06
12:08
12:09

Mmmm as dit PRESIES is dan verstaan mens hoekom jy so gefok redeneer !

Anonymous said...

My oupa Leenderd het altyd gesê 'n toebek is 'n heel bek. Ek dink ek gaan hierdie slag vir een keer in my lewe na hom luister (hy sal tog so bly wees).