So sit ek nou-nou Vriend-C se storie oor die groot Blou-Bul ondersteuner wat sulke skade gehad het en lees. En ek snicker tog te lekker, want daai gebeurtenis laat my toe dadelik dink aan die volgende episode wat ek so ‘n tydjie gelede op die TV-kassie gesit en kyk het.
MAAR: Baie belangrik, soos in ‘very important’, of ‘very mahalaga’ of ‘Erittäin tärkeää’ of ‘Ļoti svarīgi’ of ‘Muy Importante’ (afhangende van watse woordboek jy vir ontbyt ingesluk het):
Lees nou eers hierdie storie op Vriend-C se blog – want dit gee jou genoegsame agtergrond om hierdie ene van my te verstaan. Capish? Dan kom jy terug hierheen en lees hierdie ene.
So here goes: (En net om seker te maak, het jy Vriend-C se storie gelees, en het jy gisteraand ge-flos en het jy vanoggend ‘n skoon panty aangetrek en het jy sekergemaak dat jou kouse (en as jy van die vroulike geslag is, jou panty-hose) nie dalk ‘n gaatjie inhet nie?)
Grin.
Hierdie storie (of sal ek eerder sê dis ‘n gebeurtenis, want ek het dit op een van DSTV se non-fiction kanale gesien) speel hom iewers op ‘n eiland in die Atlantiese oseaan af.
Daar was hierdie ryk sjeik of olie-magnaat (ek kan nie presies onthou wat nie, al wat ek weet, is dat die man moer baie geld gehad het) en dat hy net een dogter gehad het. En die kind was van kinds-dae af pragtig. Pik-swart hare nes haar ma (wat tydens haar geboorte ongelukkig dood is), pot-blou oë soos die somers-lug en die allermooiste lyfie.
En die sjeik stress hom oor ‘n mik, want daar’s geen aanvaarbare erfgename vir sy miljarde nie. En die ouens staan tou om sy dogter se hand, maar hy’s nie oortuig van hulle edele intensies en inbors nie. So hy maak toe ‘n plan.
Na maande se ernstige onderhandelinge met die betrokke owerhede, koop hy ‘n klein tropiese eilandjie iewers in die middel van die Atlantiese oseaan. Te pragtige plek! Met voëls en vrugte en woude en riviere – alles wat van so ‘n plek ‘n ware lus vir die oog maak. Hy bou toe ‘n merkse kasteel daarop en hy en sy dogter en hulle bediendes trek sak en pak daarheen.
En die sjeik loods ‘n moerse bemarkings-campaign dat enige jong-man wat vanaf ‘n nabeurige eiland die sowat 15 myl tot by sy eiland kan swem en aan sy dogter se hand kan vat, maar met haar mag trou. Want sien, het hy gedink, enige jong man wat so ‘n verskriklike uitdaging suksesvol kan uitvoer, moet ‘n baie spesiale persoon wees. Sterk, committed, lojaal en alles. En dapper. Want sien, die strook see tussen die twee eilande was berug daarvoor dat dit ‘n geweldige gevaarlike stuk water was. Met see-stome wat mens of skuit sonder uitsondering en met mag van koers af kon bring. Mensvreter haaie so groot as wat jy kan kry. En in die baai op die sjeik se eiland (die enigse plek waar mens met veiligheid aan wal kon gaan) hou ‘n hele kolonie krokodille. Soutwater-krokodille, gevaarlik, berug en genoegsaam om van enige dapper en ongenooide besoeker korte mitte te maak.
En die jong mans het probeer. Van heinde en ver het hulle aangekom om te poog om die sjeik se dogter se hand (en haar hart) te wen. En die bloed het gevloei. Want as die dapper stryders nie in die kake van ‘n haai beland het nie, het hulle van pure uitputting om teen die see-strome te baklei uit krag uitgeraak en verdrink.
So kom ‘n aantreklike jong-man van Sidney (Australië) te hore van die sjeik en sy dogter. En hy raak onmiddelik verlief op haar foto en hy besluit om dit sy lewens-ideaal te maak om die stuk see tussen die twee eilande suksesvol deur te swem. Hy’t vir maande lank elke dag ge-oefen aan sy fiksheid, swem-tegniek en met behulp van diere-sielkundiges die kuns aangeleer om met wilde diere te kommunikeer en indien nodig, hulle te beveg. En hy’t die weer en die see en die winde van die omgewing noukeurig bestudeer. Vir baie, baie maande lank.
So raak dit tyd dat die Australiër uiteindelik sy kans kry. Die weer is net reg. Hy’s fiks, gesond, beide liggaam en siel volkome toegerus en voorbereid op die haas onmoontlike taak wat vir hom voorlê.
Maar sommer so binne die eerste myl of wat van sy swemmery, begin die haaie hom pla. En hy kommunikeer met hulle, en dit lyk of dit help. Maar een balhorige haai wat nie lyk of sy enigsins ingestel was op sy diere-sielkunde nie, byt ‘n stuk van die swemmer se wet-suit raak. En die man haal sy mes uit en dis ‘n geveg om lewe en dood. En die bloed vloei. Maar dis die bloed van die haai, en nie lank nie, of die dierasie dryf op die water-oppervlak rond, so dood soos ‘n mossie. Of sal ek eerder seê, soos ‘n haai.
Die geveg met die haai moes die jongman se kragte verskriklik uitgeput het, maar na ‘n kort rukkie van rus, swem hy voort. En die afstand na sy bestemming raak al hoe korter. En die man werk sy roete noukeurig uit sodat die see-strome hom nie van koers af druk nie. En hy swem. En hy raak moeg en sy longe brand asof ‘n helse vuur daarin vasgevang is. Maar sy stamina hou, en na baie ure voel hy uiteindelik vaste grond onder sy voete. Hy het dit gemaak. En ook maar net.
Maar nog voor hy nog sy asem behoorlik kon terugkry, sien hy dat daar ‘n hele horde krokodille reg tussen hom en die kasteel se hek lê. En hy maak vinnig plan. Hy gooi klippies en skulpe na die leier-krokodil toe. Die ander gaan loer in daai rigting wat aangaan (krokodille se sig is baie sleg, maar hulle gehoor-sintuie is uitstekend). En die jongman hardloop so koes-koes tussen hulle deur, spring selfs op ‘n jongerige ene se rug om verby hulle te kom. En na ‘n tyd wat soos ‘n ewigheid gevoel het se ge-sukkel en strategiese beplanning, het hy dit gemaak.
Hy draf teen die bultjie op in die rigting van die kasteel, en daar sien hy sy prys. Die meisie van sy drome staan in die kasteel se hek sowat 500 meter van hom af. Selfs op daardie afstand is hy betower deur haar skoonheid en jeuglike maagdelikheid. En hy raap die laaste van sy asem op en hy hardloop so vinnig soos hy kan, reguit na haar toe.
300 meter. Sy strek haar arms uit na hom toe.
200 meter. Sy glimlag, begin in sy rigting te loop.
100 meter van haar af. En daar gebeur die verskriklikste ding… ‘n Blou Yskas bliksem uit die lug uit, tref hom, en hy wetter net daar op die plek in die sand neer - mors-dood . . . .
Tot volgende keer. . .
Wednesday, November 5, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
5 comments:
Moer, ek lag nou so die trane loop. Ek het waragies nie die uiteinde sien kom nie.
HAHAHA!!! Nou gaan lees bietjie weer die heel laaste reel van Vriend-C se Blou Yskas-storie. . . Bly jy het lekker gelag! Tata.
Toe't hy nooit eers kans gekry om brace yaself, sheila te sê nie. Lol.
Jammer om te hoor van jou oom - Kerneels het gesê. Hierdie is rerig 'n jaar vol dood en allerhande dinge.
Ai Krokodil, dankie man ! Dis maar nooit lekker nie - ek sit nou juis gou en uitpak en dink sommer so aan alles - die lewe gaan soms net te gou verby!
Post a Comment