Wednesday, November 26, 2008

Fiets vir 'n Kind

Hierdie inskrywing is nie my eie werk nie, ek publiseer dit bloot hier omdat ek hierdie venture ten volle ondersteun en will deelwees daarvan.



“Cycle it around the country and grasp life by the handlebars”
– Unknown -




Wat is lekkerder as om vir iemand iets te gee???

NIKS NIE!!!!



Vriend E se storie van die fiets op sy blog (en Kerneels s'n, gaan lees GROOT asseblief) . Dit is ‘n fantastiese inskrywing) het Spit it Out ‘n brain wave gegee, en sover het die brain wave soos ‘n veldbrand versprei. ‘n Paar van ons Litnet bloggers het dit goed gedink om uit te reik na kinders oor die feesseisoen… In die vorm van fietse.

Spit it Out, Biker dinge, Vriend E, Zeppie, Lo-Ammi, Ousus en Kerneels.

‘n Nie blogger, maar huge fan van Litnet se blogs, Nella, gaan saam met Lo-Ammi span om die Kaap gebied te target.

Elke kind moet die voorreg hê om ‘n fiets te ry. Sy EIE fiets.

Fietsry leer ons so baie van die lewe. As jy val, moet jy opklim en weer probeer. Net soos in die lewe. Maar ons kan nie vir kinders dit leer, as hulle nie weet hoe om fiets te ry nie. As hulle nie die ervaring beleef het van om te val nie.

Ons wil kyk of ons soveel as moontlik fietse kan bymekaar kry om uit te deel aan sulke kinders.
Baie van ons het iewers ‘n fiets wat net lê en niks doen nie. Kinders wat uit die huis is, maar die fiets het agter gebly. Kinders wat nuwe fietse kry. Dieëte wat fietsry insluit, maar net nooit gewerk het nie.

Ons soek daai fietse.

Ons sal reël vir vervoer om om te kom om fietse te kom optel waar nodig. Al wat jy moet doen is om daai fiets uit die motorhuis te haal en ons te laat weet om te kom haal.

Ons sal sorg vir die res.

As jy nie ‘n fiets het nie, maar dalk ‘n speelding of twee wat lê en vergaan in ‘n kas, dit is ook welkom. Soveel kinders sal die Kersseisoen deurgaan sonder ‘n geskenk. En alhoewel ons weet die Kerstyd is nie daar vir geskenke ontvang nie, maar eerder oor gee, is dit juis wat ons wil doen. Ons wil gee vir die wat nie het nie. Sodat almal kan deel in die vreugde van liefde…
Indien jy wil betrokke raak, of iets het om te skenk, skree vir een van ons.

-- Spit it Out (Pretoria area)
-- Zeppie (Pretoria area)
-- Biker Dinge (Johannesburg area)
-- Lou-Ammi (Kaap area)
-- Ousus (Bloemfontein)
-- Kerneels (Vaal Driehoek/Johannesburg area)

-- Nella (non blogger) (Ook Kaap area)

Ons soek mense wat die projek wil aanvat en dryf in alle areas. So, as daar enigiemand buite die areas is wat wil betrokke raak, laat weet ons. Hoe meer siele, hoe meer vreugde.

Copy en paste na jul blogs toe, na mail toe en stuur aan vriende, familie, kollegas...ALMAL

‘n Aansporing: Zeppie se seun, en Biker dinge se dogter, het albei hul fietse alreeds geskenk. As kinders dit kan doen, wat kan ons grootmense nie ook doen nie.

Stuur ‘n epos na fietse@mtnloaded.co.za, en ons tref reelings van daar af.

Tuesday, November 25, 2008

Die Groot Verlang

So sit ek weer vandag hier voor my rekenaar met 'n hele klomp gemengde gevoelens. Aan die een kant wil mens die verlede vergeet (veral die seerkry en die moeilike tye); aan die ander kant bly mens dinge oopkrap of doen iemand (of jyself) weer van tyd tot tyd iets om jou opnuut te herinner aan tye wat liefs vergete moet bly.

Soos gisteraand. Iets het gebeur wat my alweer laat dink het aan die een grootste en belangrikste leemte in my volwasse lewe.

Sou iemand ooit vir my vra wat ek sou anders doen as ek my lewe kon oorhê, sal die antwoord altyd dieselfde wees: Ek sou so bitter graag 'n kind wou grootmaak. Maak nie saak of dit 'n seuntjie of dogtertjie is nie, ek wil net my eie kind grootmaak.

Ek het dit amper reggekry. Al sestien jaar gelede toe ons pragtige Babadogtertjie-MM gebore is. Dit was deur en deur die een enkele groot hoogtepunt van my hele lewe. Maar ongelukkig kon ek en haar ma (toe natuurlik nog my handbriek) nie ons probleme uitgesorteer kry nie, en is sy en Baba-MM terug Oos-Kaap toe. En ons is geskei. En my hart aan flarde gebreek oor my pragtige kind wat nie meer by my was om te koester en te vertroetel nie.

Ek sien Dogter-MM gereeld en praat baie met haar. Sy is my oog se appel en ek verruil haar vir absoluut niks in die lewe nie. Vir NIKS nie. Maar die tydjies wat ek haar sien (weens die afstand tussen die Oos-Kaap en Gauteng) is net heeltemal te min.

En ek begeer elke dag dat ek 'n groter deel in haar grootword en opvoeding kon hê. Die een aspek waaroor en ewig dankbaar is en sal bly, is die feit dat ek weet dat sy ordentlik grootgemaak word. Haar maniere, respek vir ander en uitkyk op die lewe is perfek. En ek sê nie so omdat sy my eie vlees en bloed is nie. Haar ma en dié se man werk bitter hard aan haar opvoeding en ek's bitter bly daaroor.

En toe, 'n klompie alleen jare na my eerste egskeiding, ontmoet ek weer 'n potensiële handbriek. Sy't drie opgeskote kinders, twee seuns en 'n dogtertjie. En ek hoor hoe almal waarsku dat dit nie maklik is om iemand anders se kinders groot te maak nie, maar die liefde tussen my en hulle ma blom en kort voor lank is sy my wettige en geringde handbriek.

Aanvanklik, soos met 'n nuwe besem, het dit goed gegaan en dit was wonderlik om weer 'n Pa se verantwoordelikheid as hoof van die huis te kon inneem. En toe begin die probleme. Baie oorsake, mettertyd is die kinders heeltemal van my vervreem en ek en Handbriek-2 is ook uitmekaar. Miskien blog ek nog eendag daaroor as my kwaad en my seerkry en die bitter genees het.

So, ek is alweer alleen. Baie gelukkig in vele opsigte, maar eindeloos eensaam in die verlange om weer permanente Pappa te kan wees.

In die jaar se tyd wat ek en Handbriek-2 uitmekaar is, het ek stelselmatig van al die goeters wat by my huis agtergebly het, ontslae geraak. My spasie tuis het al hoe meer en meer geword, en die herhinneringe na wat kon gewees het, al hoe minder en minder. Behalwe vir die blou fiets, die jongste seun s'n. Ek kon net nie die fiets wegmaak nie, want somehow was dit die versinnebeelding van ek as 'n Pa en goeie tye saam met 'n pragtige stiefkind vir wie ek regtig baie liefgeraak het, maar wat omstandighede ook van my weggeraap het.

Gisteraand het ek toe die fiets einde ten laaste weggegee. Lang storie. Maar die bottom line is dat die fiets na 'n seuntjie toe gaan wat (soos wat ek verstaan) nog net in sy jong lewe die gatkant van die lewe geken het. En ek glo dat hy sy blou bicycle met die baie ratte verdien en dit gaan koester as sy eie, kosbare besitting. En dat hy gaan lag en gelukkig wees soos wat kinders moet wees.

En ten spyte van die feit dat dit my verskriklik gelukkig maak, is die groot verlange in my hart na my eie kind om groot te maak, weer daar. En ek wonder hoekom daai ou seuntjie (of 'n ander een soos hy) nie maar my aanneem-kind kan wees nie. Want ek het die plek en geduld en liefde en 'n groot hart met 'n moerse verlange om vir iemand 'n dag-tot-dag Pa te kan wees. Ek wil die een wees wat 'n seerplek of 'n stukkend-gevalde knie reg-soen. Ek wil die rolmodel en mentor wees. Ek wil liefde gee en liefde kry. Ek wil die vertrooster wees as die donderweer slaan. Ek wil 'n klein hondjie as geskenkie koop en saam op die grasperk krieket speel of in die swembad rumoer. Ek wil raadgee en daar wees as grootword moeilik word. Ek wil vroeg by die kantoor weg-slip om te gaan skole-rugby kyk en by skool-konserte gaan handeklap. Ek wil die beste pappa in die wêreld wees.

Dis anders met my vriende wat kinders het wat ek van tyd tot tyd sien. Want vir hulle is ek 'n Oom, maar ek wil 'n regtige PA wees.

Soms wonder ek hoekom die lewe my so hierdie rug-kant-hou toegedien het. En hoe ek ooit daai groot verlang gaan stil.

Ek weet regtig nie.

Tot volgende keer ...

Friday, November 21, 2008

Vaarwel aan Diep Spore

Ek is gister die onbenydenswaardige voorreg gegun om by my geliefde Oom-J se begrafnisdiens op Welkom die bedankings te doen.

Ek was erg bekommerd voor die tyd, want ek was verskriklik lief vir my ma se jongste boetie, wat sederd my eie Pa-G se dood net oor die drie jaar gelede daai spesiale plekkie in my lewe spontaan ingeneem het. En ek was bekommerd dat die groot knop in my keel gaan voorkom dat ek met my paar woorde reg sou laat geskiet aan ‘n vreeslike spesiale man.

Ek onthou Oom-J van klein seuntjie se tyd af. Wanneer die familie van Welkom by ons in die Oos-Kaap kom kuier het, was dit vir my as kind altyd ‘n spesiale belewenis. Want Oom-J en Tannie-D en die twee kinders het altyd baie rondgery as hulle kom kuier het, en dan het ek altyd saamgery. My eerste vis ooit het ek saam met hom gevang, so ‘n kleintjie wat sy ereplek met trots in Ma-E se vrieskas ingeneem het. Het net mooi in ‘n bank-kleingeld-sakkie ingepas.

Later toe ek grootgeraak het en Gauteng toe verhuis het, het ek begin om so gereeld moontlik by Oom-J-hulle op Welkom te gaan kuier. En alhoewel hy steeds my Oom was en ek hom as sulks gerespekteer het, het ons ook baie goeie vriende geword. Ons kon die naweke omgesels oor sy jong dae in die Langkloof, sy eerste werk op die myne in Welkom, die munisipaliteit, die brouery en later, nadat hy op pensioen is, sy pos as opsigter by ‘n plaaslike laerskool. ‘n Werk wat hy ten spyte van verskriklike pyn as gevolg van die seer heup getrou en ordentlik, met groot genot en kenmerkende toegewydheid aangepak het.

Wat Oom-J ooit in sy lewe aangepak het, het hy met sorvuldigheid en trots op die REGTE manier gedoen. Daar was nooit iets wat hy halfhartig gedoen het nie. As hy kuier, het hy GOED gekuier. As hy gesels, het hy LEKKER gesels. Hy’t goed geluister en op sy stil manier raad uit sy hart gegee toe dinge in my eie huwelik skeefgeloop het.

En die stories wat hy kon vertel! As daar nou ooit een mens was wat ‘n best-seller lewensverhaal sou kon skrywe, was dit hy. Maar hy was veels te beskeie om homself as enigsins spesiaal te ag.

Ek kon my altyd verluister aan die stories toe hulle as kinders op die plaas in die Langkloof grootgeword het. Die jongste van ses kinders (drie broers en drie susters – al drie broers is nou al weg, die drie susters lewe nog almal). Van hulle vuil spel op Humansdorp se rugbyveld, waar jy nooit aan die treinspoor se kant ge-tackle moes word nie, want dan was jy swart van de roet en de as vir weke daarna. En aan die ander kant van die veld was die duwweltjies. So bly weg daar , tensy jy ‘n lid van die opposisie-span wat nie die veld geken het nie daar kon tackle... En die takies wat hy en my ma as die jongste kinders op die werf moes doen. En die swaarkry en die lekker van kind-wees in die ou tyd. En die stories van my Oupa-G.F. wat oorlede is toe ek maar net ‘n jaar oud was en dus nooit geken het nie.

Oom-J was ‘n man wat diep spore gestap het sy hele lewe lank. En juis daarom my bekommernis toe ek gister moes opstaan om die bedankings te doen. Want dis een ding om dankie te sê vir die familie en vriende wat van ver af gekom het en vir al die ruikers en die oproepe en die eetgoedjies by die tee na die tyd. Maar dis nie waaroor ek eintlik wou dankie sê nie. My eintlike dank gaan aan ‘n Oom en Vriend en Mentor wat diep spore gestap het deur my eie lewe. Iemand na wie ek altyd kon opkyk vir raad en ‘n oor wat kon luister. En daai stem wat nou stilgeraak het, gaan ek oneindig baie mis. My telefoon gaan nie weer lui op ‘n Sondag-aand nie.

Daai groot dankie gaan ek dus liefs maar in my eie hart hou. En baie onthou en verlang en dink aan die man met die groot skoene wat sy hele lewe lank sulke diep spore getrap het.

Gister se bedankings het toe goed afgeloop. Wanneer die knop in my keel wou dreig om my stem te laat wegraak, het ek maar net gedink aan die man wat stil in sy hout-kis neffens my rus, en ek het aangegaan op die manier wat ek weet hy dit sou gedoen het. Op korrekte, gepaste en nederige wyse.

Vaarwel Oom-J! Ek gaan Oom-J oneindig baie mis. . . . .

Thursday, November 20, 2008

Start... of nie?

Ek’s mos ‘n vreeslike vredeliewende jongman.

OK, nou wel nie meer so jonk nie, want ek’t destyds gedink toe Ma-E veertig word, dat sy helemal oor die muur is, en hier’s ekke ook nou alreeds aan die verkeerde kant van die groot vier zero. Maar ek bly steeds ‘n berader vir vergewe en vergeet en probeer altyd om in almal se goeie boekies te bly. Sekere mense wat my bietjie beter ken, mag dalk ook op hierdie puntjie ietwat van my verskil, maar dis ‘n demokratiese country, en ek het dus my regte. En ek glo vas ek is cute en intilligent en opbeurend en oulik en cuddly en sexie.

En vredeliewend.

Maar soms verskil mense van my wanneer ek weet dat ek die een is wat reg is. En dan wil-wil my moer-meter weer daar na die ‘stroke’ strepie toe aan-kruie, want hoe kan mense dan met my stry as ek weet dat ek reg is!

Nou vra ek maar vir julle om bietjie uit te help met die huidige kwessie op hande:

Wanneer klassifiseer mens enige gemotoriseerde gevaarte (motor, moonbuggy, motorfiets, bromponie, trekker, Cessna ens. ens. ens.) as ge-‘start’?

Wag, ek maak nie nou sense nie, miskien moet ons die ou sakie bietjie vereenvoudig en die probleem mooi logies loop staan en verduidelik:

Volgens my kennis moet die volgende dinge in die korrekte volgorde gebeur om enige voertuig as behoorlik ge-start en in loop-orde te laat kwalifiseer – en vir die doel van die blog sal ek maar met minder-grafiese klanke moet illustreer:

Stap 1: “Kliek”: Dis nou wanneer jy die sleutel draai om die ignition aan te skakel.
Stap 2: “Zeegee-Zeegee”: Dis wanneer die enjin draai.
Stap 3: “Wroem”: Die enjin vuur.
Stap 4: “Brrrrrrrrr”: Dis nou wanneer die starter gestart het, die carburettor carburette, die crank shaft crank, die spark plugs spark en die pistons, pi…, uhm, die pistons funksioneer ook na wense.

So: Enige normale voertuig, soos byvoorbeeld my Moonbuggy wanneer hy NIE met Sabie se vuil diesel volgemaak is nie klink dus min of meer as volg:

“Kliek, Ziegee-Zeegee, Wroem, Brrrrrrrrrrrrrr” (totdat jy die sleutel in die teenoorgestelde rigting as hierbo draai, of die diesel opraak.)

Volgens my waarmening, is hierdie voertuig nou behoorlik gestart en reg om te ry.

Of Oorle-Vriend-J op die plaas se Regstellende-Donkergroenkleurige-Plorale-Landboutegniese-Hulp-Assistent wat vir Oorle-Vriend-J daar uit die lande uit op die radio roep: “Eish Oubaas, die Trekka hy wil nie start nie”.

En Oorle-Vriend-J se response: “Wat maak hy?”

Regstellende-Donkergroenkleurige-Plorale-Landboutegniese-Hulp-Assistent: “Oubaas, by maak net ‘Kliek’”.

“Jy moet die battery charge vanaand! Hoeveel keer moet ek jou nog sê?”

Of desjare toe ek nog vir my mechanic Oom-E in die garage gehelp het en hy vergeet het om die kar waaraan hy gewerk het se petrol-pypie op te sit: “Kliek, Ziegee-Zeegee-Ziegee-Zeegee-Ziegee-Zeegee-Ziegee-Zeegee". En Oom E: "Wat is nou weer fout dat die donnerse ding nie wil start nie?"

En so kan ons aangaan.

Nou hoekom al hierdie stories? Jy sien, laas naweek daar in Sabie was ons so ‘n klomp vriende wat daar gaan kamp het met die Moonbuggies, en die motorfietse. Alte lekker. En die manne ry die 21-kilometers dat die modder so spat. Maar dis ‘n stress-storie vir ‘n ander dag se blog, veral vanuit Vriend-P se oogpunt.

Die een ding wat meeste van die bikes (en die moonbuggies) in gemeen het, is dat almal van hulle “Kliek, Ziegee-Zeegee, Wroem, Brrrrrrrrrrrrrr” maak voordat daar op hulle gery word. Maar nie Vriend-C s’n nie. Syne maak net “Kliek, Ziegee-Zeegee, Wroem”. En dan doodste stilte. En dan weer so tien keer in ‘n ry : “Kliek, Ziegee-Zeegee, Wroem”. G’n Brrrrrrrrrrr soos in die Coke-advertensie met die pappegaai sonder die vere nie. Net stilte en ‘n groot gevloek van Vriend-C in die plek van die “Brrrrrrrrr”.

En dan karring die manne weer onder die seat en die fairing en spuit met die spook-piepie en vroetel en draai en stel en almal het sy eie opinie van wat die fout kan wees.

Dis nou juis waar die verskil in opinies tussen my en Vriend-C ontstaan het:

Ek is van mening dat Vriend-C se bike nie wil start nie. En Vriend-C hou vol dat sy bike start, maar net nie wil loop nie. En hoe meer ek vir hom se dat die ding gebreek / stukkend / fubar is, hoe meer verskil hy met my. Totdat ek maar later omdraai en wegloop voordat ek dalk dinge sê wat moes gebly het. Want hy sê hy start en ek sê hy start nie.

Nou vra ek vir jou, liewe leser, as daai bike nie wil “Brrrrrrrrr” nie, het hy gestart... of nie? Ek sal julle opinie met dank aanvaar en selfs omverskoning vra indien nodig.

Want ek ag dit my plig om die vrede te bewaar.

Want ek is ‘n baie vredeliewende jongman. . .

Tot volgende keer, “Kliek, Ziegee-Zeegee, Wroem, Brrrrrrrrrrrrrr” (Nie soos Vriend-C se bike nie...)


Sunday, November 9, 2008

Staatsdiens recovery

Iemand (ek sal maar nie sê wie nie, want anders gaan dit eersdaags begin snaaks lyk as ieder en elk van my blogs na Vriend-C verwys) wys my vroeër vanoggend so ‘n lekker stukkie off-road pad nie te ver van my huis af nie. En siende dat ons op daai stadium met sy Moonbug gery het (want ek ry mos kwansuis ‘n Moonbuggy – so hy het ‘n Moonbug want syne is groter met meer deure as myne, nie dat size in hierdie verband juis belangrik is nie), soek ek so paar ure later die geleentheid om by my-selwers met my eie Moonbuggy dieselfde pad te ry. En maak toe sommer die pad bietjie langer met so ‘n ekstra draai wat ons nie die oggend gery het nie.

Op ‘n stadium is daar ‘n voertuig voor my, met net nie genoeg spasie om bymekaar verby te kom sonder dat een van ons aftrek nie. En aangesien die voertuig van voor ‘n staats-departement voertuig is (ek sal maar nie sê watter ene nie, om die betrokke owerhede te beskerm, maar as Telkom blou ligte op hulle voertuie se dakke gehad het kon dit dalk hulle gewees het, so kom ons sê maar vir die doel van die Blog dit was wel Telkom), trek ek van die pad af. Want my Moonbuggy is mos 4X4 en ek soek altyd rede om nie op die pad te ry nie. Maar die Telkom-bakkie (met die Crime Stop 10111 nommer en die blou ligte op die dak) wys ewe vriendelik en met ‘n geflits van ligte dat hy gaan aftrek, en die ou is sommer net daar van die pad af.

Foutjie. Want hy misgis homself met die hoogte van die walletjie langs die pad en die laagte van sy staatsdiens bakke, en ek sien hoe sy regter-agterwiel die lig inklim en alte lekker begin spin. En ek dink so by myself, as hierdie ou nie 4X4 het nie, dan het hy nou probleme.

So met die verbyry groet ek die regstellende Telkom-tegnikus met die blou uniform en sy ewe regstellende vroulike partner in crime (pun intended) en vra of hulle OK is. “Ja, geen probleem nie”, kom die antwoord, en ek ry maar verby. Stop so 30 meter verder net om heeltemal seker te maak, want ek het maar my eie bedenkinge. En dan voel ek nog half sleg dat dit deels my skuld is dat hulle van hulle normale weë moes afwyk om my te laat verbyry.

En dis toe ook nes ek gedink het. Soos Telkom probeer agteruit stoot, so draai daai regter-agterwiel in die lug rond dat jy net sien staatsdiens-diesel-dampe trek. En die man en sy bakkie roer nie.

Soos wat enige goedgemanierde en “How can we help you” bankamptenaar betaam, klim ek toe maar uit, net toe regstellende tegnikus ook aan sy bestuurders-kant uitklim. En die man maak net knope vas. G’n mens weet of dit baie warm in die bakkie was nie (ek dink nie so nie, want dis nog die hele naweek bewolk en koel met verspreide donderbuie en miskolle), maar sy uniform-hemp is omtrent helemal van sy konstitusie af en sy belt hang just about heeltemal los. En regstellende vroulike partner in crime, sien ek so in die spieëltjie met die naderloop, het presies dieselfde challenge. Want sy’s ook besig om teen ‘n spoed haar toppie se knopies weer mooi in plek te kry, soos dit ‘n netjiese staats-uniform-draer en diener van telekommunikasie (want ons praat mos kastig nou van Telkom) betaam.

Anyhow, met konstabel (skuus, ek meen tegnikus) se uniform darem weer so min of meer op sy plek aan sy lyf en sy partner s’n min of meer dieselfde, behalwe dat sy een van die ou blink knopies per ongeluk in die haastigheid in die verkeerde gaatjie ingewring het, buk ons al drie so bietjie onder die bakkie in om die skade te beraam. Crime-stop 10111 Telkom-bakkie met die blou ligte op die dak sit heel duidelik stewig tot op sy diff vas op die walletjie.

Vra die man of hy vier-wiel aandrywing het, maar hy weet nie. Eish. Ek loer in die kajuit in, maar daar's niks van die aard nie. Maar daar's darem ‘n oopgemaakte kondoom-pakkie op die passasiers-sitplek, wat natuurlik met 4X4 aandrywing niks te doen het nie, en dus heeltemal irrelivant is, huidige omstandighede in ag genome.

Ons pak toe maar klippe onder die wiel in wat nog steeds in die lug staan, maar dit help net mooi niks. Hierdie bakkie sal moet uitgesleep word.

Kyk in my kattebak, g’n sleeptou van ‘n dag oud daar nie. Want ek het Moonbuggy verlede week ingeneem garage toe en moes alles van waarde verwyder. En ek weet my skeeptou lê op my werksbank by die huis. Van nul of gener waarde!!

Om van ‘n lang blog ‘n kort bloggie te maak, ek ry toe gou die 10 km of wat terug huistoe, gryp sleeptou en graaf (net vir ingeval) en ry terug na waar Telkom se Crime-stop 10111 bakkie nog nie ‘n sentimeter van sy walletjie af geroer het nie. Sit vir sleeptou aan, Moonbuggy in Low-range, het nog skaars die briek gelos of daar kom die bakkie, vir ewig verlos van sy gevassittery. (ek het nogals gehoop die ding sit bietjie vaster sodat ek ten minste my recovery-styl bietjie kon challenge, maar dit was toe nie nodig nie).

Ek en Tekom-tegnikus en sy partner met die skeef-toegeknoopte toppie het mekaar die hand gegee (so op regte en gepaste Afrika-styl) en ek is daar weg. Friends for life.

Nou wonder ek maar net:

- - Moet ons nie maar ‘n vertoë lewer dat alle Telkom 10111 Crime-stop bakkies met lugversorgers toegerus word nie? Want sjoe, lyk my die amptenare sweet en swoeg in silence, so all in the line of duty.

- - Wat het Tegnikus en sy partner in any case op daai afgesonderde paadjie gaan soek op ‘n reënerige Sondag-middag? Ek het geen ticky-box naby gesien nie, en daar was geen crime naby waarvoor 10111 gebel kon word nie.

- - En is kondome deesdae deel van ons land se standaard staatsdiens uitrusting?

Tot volgende keer. . . . .

Wednesday, November 5, 2008

Die ultimate prys

So sit ek nou-nou Vriend-C se storie oor die groot Blou-Bul ondersteuner wat sulke skade gehad het en lees. En ek snicker tog te lekker, want daai gebeurtenis laat my toe dadelik dink aan die volgende episode wat ek so ‘n tydjie gelede op die TV-kassie gesit en kyk het.

MAAR: Baie belangrik, soos in ‘very important’, of ‘very mahalaga’ of ‘Erittäin tärkeää’ of ‘Ļoti svarīgi’ of ‘Muy Importante’ (afhangende van watse woordboek jy vir ontbyt ingesluk het):

Lees nou eers hierdie storie op Vriend-C se blog – want dit gee jou genoegsame agtergrond om hierdie ene van my te verstaan. Capish? Dan kom jy terug hierheen en lees hierdie ene.

So here goes: (En net om seker te maak, het jy Vriend-C se storie gelees, en het jy gisteraand ge-flos en het jy vanoggend ‘n skoon panty aangetrek en het jy sekergemaak dat jou kouse (en as jy van die vroulike geslag is, jou panty-hose) nie dalk ‘n gaatjie inhet nie?)

Grin.

Hierdie storie (of sal ek eerder sê dis ‘n gebeurtenis, want ek het dit op een van DSTV se non-fiction kanale gesien) speel hom iewers op ‘n eiland in die Atlantiese oseaan af.

Daar was hierdie ryk sjeik of olie-magnaat (ek kan nie presies onthou wat nie, al wat ek weet, is dat die man moer baie geld gehad het) en dat hy net een dogter gehad het. En die kind was van kinds-dae af pragtig. Pik-swart hare nes haar ma (wat tydens haar geboorte ongelukkig dood is), pot-blou oë soos die somers-lug en die allermooiste lyfie.

En die sjeik stress hom oor ‘n mik, want daar’s geen aanvaarbare erfgename vir sy miljarde nie. En die ouens staan tou om sy dogter se hand, maar hy’s nie oortuig van hulle edele intensies en inbors nie. So hy maak toe ‘n plan.

Na maande se ernstige onderhandelinge met die betrokke owerhede, koop hy ‘n klein tropiese eilandjie iewers in die middel van die Atlantiese oseaan. Te pragtige plek! Met voëls en vrugte en woude en riviere – alles wat van so ‘n plek ‘n ware lus vir die oog maak. Hy bou toe ‘n merkse kasteel daarop en hy en sy dogter en hulle bediendes trek sak en pak daarheen.

En die sjeik loods ‘n moerse bemarkings-campaign dat enige jong-man wat vanaf ‘n nabeurige eiland die sowat 15 myl tot by sy eiland kan swem en aan sy dogter se hand kan vat, maar met haar mag trou. Want sien, het hy gedink, enige jong man wat so ‘n verskriklike uitdaging suksesvol kan uitvoer, moet ‘n baie spesiale persoon wees. Sterk, committed, lojaal en alles. En dapper. Want sien, die strook see tussen die twee eilande was berug daarvoor dat dit ‘n geweldige gevaarlike stuk water was. Met see-stome wat mens of skuit sonder uitsondering en met mag van koers af kon bring. Mensvreter haaie so groot as wat jy kan kry. En in die baai op die sjeik se eiland (die enigse plek waar mens met veiligheid aan wal kon gaan) hou ‘n hele kolonie krokodille. Soutwater-krokodille, gevaarlik, berug en genoegsaam om van enige dapper en ongenooide besoeker korte mitte te maak.

En die jong mans het probeer. Van heinde en ver het hulle aangekom om te poog om die sjeik se dogter se hand (en haar hart) te wen. En die bloed het gevloei. Want as die dapper stryders nie in die kake van ‘n haai beland het nie, het hulle van pure uitputting om teen die see-strome te baklei uit krag uitgeraak en verdrink.

So kom ‘n aantreklike jong-man van Sidney (Australië) te hore van die sjeik en sy dogter. En hy raak onmiddelik verlief op haar foto en hy besluit om dit sy lewens-ideaal te maak om die stuk see tussen die twee eilande suksesvol deur te swem. Hy’t vir maande lank elke dag ge-oefen aan sy fiksheid, swem-tegniek en met behulp van diere-sielkundiges die kuns aangeleer om met wilde diere te kommunikeer en indien nodig, hulle te beveg. En hy’t die weer en die see en die winde van die omgewing noukeurig bestudeer. Vir baie, baie maande lank.

So raak dit tyd dat die Australiër uiteindelik sy kans kry. Die weer is net reg. Hy’s fiks, gesond, beide liggaam en siel volkome toegerus en voorbereid op die haas onmoontlike taak wat vir hom voorlê.

Maar sommer so binne die eerste myl of wat van sy swemmery, begin die haaie hom pla. En hy kommunikeer met hulle, en dit lyk of dit help. Maar een balhorige haai wat nie lyk of sy enigsins ingestel was op sy diere-sielkunde nie, byt ‘n stuk van die swemmer se wet-suit raak. En die man haal sy mes uit en dis ‘n geveg om lewe en dood. En die bloed vloei. Maar dis die bloed van die haai, en nie lank nie, of die dierasie dryf op die water-oppervlak rond, so dood soos ‘n mossie. Of sal ek eerder seê, soos ‘n haai.

Die geveg met die haai moes die jongman se kragte verskriklik uitgeput het, maar na ‘n kort rukkie van rus, swem hy voort. En die afstand na sy bestemming raak al hoe korter. En die man werk sy roete noukeurig uit sodat die see-strome hom nie van koers af druk nie. En hy swem. En hy raak moeg en sy longe brand asof ‘n helse vuur daarin vasgevang is. Maar sy stamina hou, en na baie ure voel hy uiteindelik vaste grond onder sy voete. Hy het dit gemaak. En ook maar net.

Maar nog voor hy nog sy asem behoorlik kon terugkry, sien hy dat daar ‘n hele horde krokodille reg tussen hom en die kasteel se hek lê. En hy maak vinnig plan. Hy gooi klippies en skulpe na die leier-krokodil toe. Die ander gaan loer in daai rigting wat aangaan (krokodille se sig is baie sleg, maar hulle gehoor-sintuie is uitstekend). En die jongman hardloop so koes-koes tussen hulle deur, spring selfs op ‘n jongerige ene se rug om verby hulle te kom. En na ‘n tyd wat soos ‘n ewigheid gevoel het se ge-sukkel en strategiese beplanning, het hy dit gemaak.

Hy draf teen die bultjie op in die rigting van die kasteel, en daar sien hy sy prys. Die meisie van sy drome staan in die kasteel se hek sowat 500 meter van hom af. Selfs op daardie afstand is hy betower deur haar skoonheid en jeuglike maagdelikheid. En hy raap die laaste van sy asem op en hy hardloop so vinnig soos hy kan, reguit na haar toe.

300 meter. Sy strek haar arms uit na hom toe.

200 meter. Sy glimlag, begin in sy rigting te loop.

100 meter van haar af. En daar gebeur die verskriklikste ding… ‘n Blou Yskas bliksem uit die lug uit, tref hom, en hy wetter net daar op die plek in die sand neer - mors-dood . . . .

Tot volgende keer. . .

Saturday, November 1, 2008

Vriend-J & die Convertable

Vandag, seker omdat dit Saterdag is en ‘n heerlike warm Hoëveld somersdag, dwaal my gedagtes noordekant toe na die Limpopo-provinsie waar my groot ou maat, Vriend-J gebly het.

Anderkant Ellisras (deesdae Lepalala), verby Steenbokpan en voorts tot aan die oewer van die Limpopo-rivier, met ‘oorsee’, oftewel Botswana, letterlik net ‘n klipgooi ver. Daar het een van die beste maters wat ek nog ooit in my lewe gehad het, Vriend-J, geboer. Van tyd tot tyd met aartappels en wortels, maar die groot produk van daardie distrik en sy plaas was patats. As die reën kom en die mark-prys is goed, dan smile Vriend-J. As die trekker nie wil start nie en die arbeiders jaag aan, dan stress hy. Vreeslik verbaal en ‘n ware Boer in murg en been. Die man kon hard werk en ewe hard kuier en hy was tog so lief vir die lewe.

Ek was verskriklik lief vir Vriend-J. Nogals hom en sy gesin op ‘n eienaardige manier ontmoet. Jare gelede, toe ek en my eerste handbriek uitmekaar is, toe was daar ‘n vriendin wat so ‘n klompie enkellopende volwassenes van heinde en ver bymekaargeskraap het, en dan het ons sommer so in die bondel rond-gekuier. Soms net saam kosgemaak, soms vir ‘n naweek weggegaan, en so gebeur dit toe dat sy ons almal eens op ‘n goeie tyd nooi om vir haar Bosveld-vriende anderkant Ellisras te gaan kuier.

Ek kan nie onthou wie almal saam was nie, maar ek weet dat dit ‘n bitter lekker naweek was. Ek en Vriend-J het dadelik gekliek. Vriend-E was nie baie impressed toe hy sommer al op aand een sy enkel verstuit (eintlik good en solid breek, maar dit het ons eers die volgende dag uitgevind) in die lande in die donker agter ‘n springhaas aan nie. Op Vriend-J se aandrang natuurlik. En daai nag het die muskiete ons just about weggedra, want dis te warm om onder die deken te lê en as jy sou waag om jou neus uit te steek, dan takel die muskiete jou. En ek is te skaam om ons gasheer of sy vrou te gaan opklop vir Tabbart. En Vriend-E met die af enkel steun en kreun die hele nag onder sy algehele verdowing van Disprins, Klippies en Coke. En ongelukkig was dit my lot om ‘n kamer met hom te deel.

Anyhow, toe ons daardie eerste naweek vertrek, was die vriendskaps-bande gesmeë, en ek’t hand en mond belowe om weer op die plaas te gaan kuier. En dit was een van daai beloftes wat bedoel was en die begin van 'n baie groot en stewige vriendskap.

So ‘n ruk later koop ek toe mos my eerste ‘ordentlike’, nuwe voertuig. So ‘n pragtige groen 316i BMW (nog die sogenaamde Dolphin-shape) – dit was ‘n stunning kar. So luuks soos ses – want jy kan mos dink dat as mens vir jare lank ‘n Nissan-1400 bakkie gery het, is enige kar met leathers en aircon en elektriese vensters pure bliss.

So tref ons die nodige reëlings en ek klim in die BM, tel Vriend-J-Se-Suster-S in Pretoria op, en ons is een Vrydag hier weg oppad Bosveld toe om vir Vriend-J en gesin te gaan kuier. Ek en Vriend-J-Se-Suster-S gesels tog te lekker in die kar op pad plaas toe, en daar aangekom word ons met ope arms ontvang. Pure lekkerte om weer terug te wees en dis warm en die brandewyn en coke en ys koud en die braaivleis-vuur brand hoog. En Vriend-J hou van my kar. Die BMW’tjie soos hy die ding noem. “Maar,” sê hy vir my, “Ons moet die “angle grinder” vat en die BMW-tjie se dak so mooi netjies afsny en dan het jy ‘n convertible. Net die regte ding vir die plaas en die Bosveld se hitte. Seun-D, bring vir Pa die Angle Grinder!!”

“Jaaa Paaa” daar van die werkswinkel se kant af, en ek praat kwansuis tee en smeek en skerm, alles natuurlik deel van die saamspeel. “Vriend-J, jy kan dit mos nie doen nie, wat sal die assuransie sê?” Want ek weet mos Vriend-J sal my nooit sulke skade aandoen nie, dis sommer alles deel van die gesels en die grap en die groot-lekkerte-kuier.

Anyhow, die volgende dag is dit Saterdag. Die groen BMW’tjie het ek sommer so onder ‘n boom geparkeer, die deure oopgesluit en die vensters almal oop en die sleutel in die ignition. Want Waghond moes kyk. Op ‘n stadium het ons almal so ‘n laat-middag siesta gevat want die Bosveld-son sal jou doodbrand as hy jou alleen buite kry.

En dis nie lank nie, of Vriend-J kom maak my wakker. “Vriend-E, hier is ‘n groot probleem, jy beter buite toe kom!”

Ek't gou die ergste slaap en sweet uit my oë gewas en is buite toe. En al wat kind en vrou en arbeider is en Vriend-J staan daar buite-rond. En almal soek en almal praat. En die groen BMW’tjie is weg. Soos in mis voor die Bosveld-son.

Ek vermoed sommer dadelik dat Vriend-J iets hiermee te doen het. En ek speel maar saam toe hulle my die kar se spore wys wat uit die hek uit pad se kant toe lei. En die vreemde mense-spore waar my kar gestaan het. En ek speel maar saam. Maar ek soek oral waar ek weet van wegsteekplek groot genoeg vir 'n kar, maar ek kry niks.

Toe gebeur iets wat my laat twyfel: Vriend-J klim op sy radio en kontak die naaste polisie-stasie. En meld die diefstal van my BMW’tjie aan. Kleur. Registrasie. Plek. Ens. ens. ens. ens. En ek begin stress. Soos in iets geweldig. Want dis nou nie meer ‘n grap nie, hier is skade.

En die polisie sê hulle is op pad, en terwyl ons wag, dink ek aan die gesprek wat ek sekerlik so gou doenlik met my assuransie-agent sal moet hê:

Ek: “Ek wil net die diefstal van my motor aanmeld.”
Assuransie: “Besonderhede?”
Ek: “Groen, Handrat, Registrasie ens. ens. ens.”
Assuransie: “Was die voertuig toegerus met 'n alarmstelsel en demobiliseerder?”
Ek: “Ja, natuurlik.”
Assuransie: “Was die alarmstelsel aangeskakel ten tye van die diefstal?”
Ek: “Uhm, nee …”
Assuransie: “Was die motor in ‘n behoorlike toesluit-fasiliteit toe dit gesteel is?”
Ek: “Uh… nee, dit was buitekant, oopgesluit, sleutel in die ignition en geen sekuriteit van ‘n dag-oud in sig nie. . . ”

I rest my case. Genoeg rede vir stress. . .

Die groot soektog en die gesprekke met die SAP het seker vir meer as ‘n uur aangehou. En ek het gesweet, letterlik, en dit was nie te wyte aan die Bosveld-son nie.

En NADERHAND kom Vriend-J uit daarmee dat hy die groen BMW’tjie in ‘n stoor waarvan ek nie geweet het nie gaan bêre het en met die SAP gekonkel het vir die radio-gesprek. Ek weet nou nog nie of ek moes kwaad wees nie, maar die verligting was groot.

Die naweek op die plaas was heeltemal te vinnig om, en toe moes ek en Vriend-J-Se-Suster-S weer in die pad val. Klaar gegroet, en ons is daar weg. Net van die plaaspad af toe gebeur iets vreeslik. ‘n Vieslike koringkriek stap ewe gerus aan die binnekant van my BMW se deurpaneel op. Nogals aan my kant. Hoe ek so vinnig gestop gekry het op die stofpad en hoe ek nog vinniger uit my safety-belt uit is en by die passasierskant uitgeklouter het (bo-oor Vriend-J-Se-Suster-S) weet ek tot vandag toe nog nie. En ek praat in tale wat g'n mens geweet het bestaan nie. Vriend-J-Se-Suster-S vertel later vir haar Broer-J dat sy haar omtrent wit geskrik het vir my. Sy wis nie of ek van my kop afgeraak het of ewe skielik een of ander angs-aanval gekry het of on-edele seksuele gedagtes newens haar gekoester het nie, maar toe ek begin raas en stop en klin, toe wis sy hier kon stront. En ek is just about bo-oor haar by haar deur uit sonder om eers aan haar te raak. Dit wil gedoen wees.

En toe ons veel later veilig tuis aanland en ek vir Vriend-J vertel van die koringkriek, toe lag my ou groot Boere-maat daar in die Limpopo-province dat dit so weergalm teen die telefoon-lyn af. Raai net wie het die gogga in my kar gesit? Vriend-J natuurlik. En volgens hom was die skuld vierkantig myne: “Want as ons van jou BMW’tjie ‘n convertable gemaak het soos ek gesê het ons moet doen, sou die ding jou mos nooit gepla het nie…”

Vriend-J het daardie betrokke naweek twee-nul gewen... En ek het revenge gesweer. . .

Daar is nog baie stories oor Vriend-J en die Bosveld, maar dis blogs vir ‘n volgende keer.

Tot dan…..