Monday, October 6, 2008

Die Lewe is 'n Lied!

Ek sit nou-nou net met Vriend-C op MSN en strooi praat, sommer so op ligte trant, want die lewe is swaar genoeg om nie net altyd te moet sit en moan nie. Ek, hy, Vriend-D en miskien Vriend-L gaan vanaand daar braai, en ek moet sorg vir die poeding. Hoe dan nou anders?

In alle geval, so deur die loop van die MSN-tikkery, sê Vriend-C vir my dat hy my iets ernstig wil vra. En my hare staan onmiddellik pen-orent soos ‘n verkeerde-veer-hoender s’n, want al wanneer Vriend-C kwansuis ernstig met my wil praat, is wanneer hy wil hê dat ek met Voormalige-Vriend-X moet vrede maak, en so toegeeflik sal ek mos nie sommer wees nie. Noem dit nou maar die Familie-B se hardegatgeit, maar dis nou maar eenmaal hoe dit is.

Maar dit gaan wonder bo wonder toe nie oor Voormalige-Vriend-X nie. Vriend-C wil net hê dat ek my ietwat swaarmoedige blog van laaskeer (Bitternis) moet vervang met iets minder beswaard. En dis geen probleem nie – ek doen dit met graagte, want die lewe is mos ‘n lied. Nou wel so nou en dan bietjie noot-af (let wel, nie vals nie, net noot-af) maar nog steeds ‘n lied.

So here goes.

Ek besluit toe mos sommer so op die ingewing van die oomblik voor-verlede Maandag om vir die skoolvakansie by my ma en dogter in die Oos-Kaap te gaan kuier. Pak die Jeep (L.W. nie Moon-buggy nie, Jeep. Soos in Sahara, Wranger, Red-Rock van kleur) en sit hier af Vrydag na werk. Tot op Welkom, gaan slaap daar by Oom-J en Tannie-D oor. Sy sit padkos vir ‘n brigade in en voordag Saterdag-oggend is dit ek, die Red-Rock Jeep, die blik padkos en die lang pad. Met RSG se verskeidenheid as enigste geselskap.

Die hele land is droog en stowwerig en winderig. En dit Red-Rock Jeep se bonnet spring op en af elke keer as daar ‘n trok van voor af kom, en ek stress dat dit so gons. Laat sak toe maar later die sitplek so bietjie sodat ek nie die bonnet kan sien nie, toe gaan dit ietwat beter. Amper soos 'n volstruis wat wegkruip vir dit wat pla. En maak weer eens ‘n mental note om vir Verkoopsman-A op Rustenburg te vermaan om dit tog reg te maak met die eerste diens.

In alle geval, nou weer veilig tuis, toe sit ek sommer so en dink oor die aftelope paar dae by die familie en vriende daar onder, dis toe dat ek besluit om bietjie oor Gister, Vandag, Môre en VER van nou af te blog. Net om tog vir Vriend-C gelukkig te maak. Want as hy in ‘n sleg bui is, stink dit gewoonlik. En ek het mos maar nie ‘n pens of konstitusie vir slegte reuke nie. Maar dis alweer ‘n storie vir ‘n ander dag.

GISTER

Ek, Ma-E en Dogter-M gaan kuier toe Vrydag-aand by Oom-E en Tannie-R en die twee neefs en ons maak pot. Of liewer, Oom-E maak die pot, Tannie-R se sousbone is vroegmiddag al klaar, en ek skink die Whisky en Soda. Met baie ys. Ons kuier tog te lekker en gesels ou stukke met al die koeie wat vir die soveelste keer opgegrawe word. Dus meestal oor die dinge van GISTER. Oor Oupa-A toe hy die ou Kombi in 1959 gekoop het, en noukeurig logboek gehou het oor al hulle trippies – Oupa-A, Ouma-W en die ses kinders. Lyk my die Kombi se wiele het ook nooit stilgestaan nie, want hulle was Kaaptoe en Transvaal toe en die hele land vol. En jy sal nie glo hoe goedkoop brandstof daai dae was nie! Dit alles met die Kombi se 1300 engin. Die ou mense het seker meer geduld gehad as ek.

En ons gesels oor Ouma-W en my Pa-G en al die ander familie wat nou al lankal nie meer daar is nie.

En ek dink so by myself dat ek graag ‘n vlieg aan die muur sal wil wees om te sien hoe die klomp familie daar bo sit en stories vertel en lag en gesels en sing. En Ouma-W lag en Oupa-A bak almal poetse. En Pa-G met die konsertina speel saam met sy tweeling-broer, Oom-B met die een af vinger. Net soos gister toe hulle nog almal geleef het. Maar op hulle almal se eie manier het hulle goeie lewens gehad en dink en met trots terug aan my familie wat nou nie meer met ons is nie.

VANDAG

My Dogter-M raak verskriklik vinnig groot. En mooi. Aard verseker in die opsig na haar Pa-E. En ek is so vreeslik trots op haar en lief vir haar, dat my hart sommer so met 'n punt trek elke keer as ek net aan haar dink. En as iemand by die kantoor sou vra hoe dit met haar gaan en hoe sy nou lyk, vertel ek met die grootste-vaderskap-trots en moet ek net keer of my bril wil-wil opwasem. Dis ongelooflik hoe geseën ek is met my dogter.

En dit gaan goed met Moeder-E, sy lyk soveel beter as laas toe ek haar gesien het net na Oom-F se dood. Sy lag weer en as die garagedeur oopgemaak word om die Red-Rock Jeep uit te trek, dan is sy by. Sy’t selfs vir my Hertzoggies gebak. Regstelling: Op die blik staan: Aan Seun-E en Vriend-C. So hy moet maar sy porsie een of ander tyd kom haal.

So ek voel vandag baie gelukkig, die kuier was elke kilometer van die lang pad af Baai toe werd. En ek sien al klaar uit na die volgende keer. En die blomme wat Vriende-D en C in my kombuis op die kas gelos het lyk al te pragtig. Ek het wonderlike vriende.

MôRE

Wie weet wat die toekoms vir ons inhou? G’n mens nie. Die Famile-B se mans is nou nie juis bekend daarvoor dat hulle vreeslik oud word nie. So ek het opnuut besluit om vir NOU te lewe. Tyd met my vriende te bestee. My bes te doen op kantoor en net alles en die lewe te geniet. En om baie gou weer die lang pad aan te durf Baai toe en my famile te geniet terwyl hulle nog daar is en ek goeie gesondheid geniet.

VER VAN NOU AF

Dis nou die dag wanneer Dogter-M besluit dat sy ‘n boyfriend moet hê. Want kyk, daar sal baie meer water as wat nog ooit in die Swartkops-rivier was, in die see moet loop voordat ek my blessing daarvoor sal gee.

Ai tog. Daai dae is seker ook nie so ver van nou af nie. Want die klein snuiter (nog maar steeds Pappa-E se baba) is alreeds volgende jaar sestien. En ek wil maar nie eens daaraan dink dat een of ander jong man aan haar hand moet vat nie, nevermind om vir haar hand te vra. Dit gaan maar moeilik wees, maar ek sal maar seker moet berus. Maar ek gaan haar verseker nie help soek nie. Nie voor sy ten minste sestig is nie.

TERUG BY DIE NOU

Die poeding is nou gaar, of ek hoop altans dit is. Ek is nie so seker of dit so lekker gaan wees soos Ma-E s’n nie, want ek het gedink dit moet stywer wees as dit gaar is. So kom ons hoop maar vir die beste.

Tot volgende keer!

No comments: