Monday, September 8, 2008

Bitternis

Ek's nie iemand wat sommer maklik kwaad word nie. Van my pals en dalk so ‘n klompie ander mense sal dalk van my verskil, maar diep binne my (waar dit saakmaak) is ek eintlik ‘n heel rustige mens. OK, ek gaan sou nou en dan vir ‘n dag of drie in my grot in, maar normaalweg is dit nie van kwaad-wees nie. Net so bietjie sorry vir myself soos wat ek al vroeër oor geskryf het. Lees maar gerus self die storie oor ekke die Grotman.

Daar is wel so ‘n paar dinge wat my moer-meter vreeslik vinnig bitter hoog die rooi in kan laat skiet. Soos die ander dag wat ons oppad was van die Laeveld af huistoe. Op ‘n Sondagmiddag is ‘n tolhek alreeds iets wat mens se spoed letterlik en figuurlik kan breek, maar as dit nou ‘n boonop ‘n tolhek is met ‘n idioot voor by die boom wat nie geld het nie en wie se fuel-kaart by die huis is, gekombineer met ‘n attendant wat nie vir homself kan dink nie, is dit ‘n resep vir disaster. Veral wanneer ek twee karre agter hom staan met ‘n hele elle lange string nog agter my. Vra maar vir Vriende C, A en S wat saam met my in die Jeep was. Let wel, ek ry NIE met ‘n Moon-buggy nie, ek het ‘n Jeep. Sahara, Red-Rock Wrangler (twee-deur) om presies te wees. Nie ‘n flippen Moon-buggy nie!

Anyhow, nadat ek die Jeep (sien hierbo – nie ‘n Moon-buggy nie) se toeter behoorlik ingewy het so in die tou by die tolhek, en op ‘n stadium uitgeklim het om my stem daar voor in die ry te gaan dikmaak (nie dat dit enigsins gehelp het nie), is dit uiteindelik baie minute en ‘n multitude swetse later tyd dat ek kan betaal en deur-ry. En toe het die attendent nog die cheek om vir my ‘n komplimentêre Sunday-times aan te bied. Toe flip ekke behoorlik. “Los die donnerse koerant en doen eerder jou werk!”, was my minder-vriendelike en baie eksplisiete advies aan die kêrel. No room for interpretation. Met Vriende A en S agter in die Jeep se oë koeël-rond soos dinner plates is ons toe daar weg. Die Jeep se rev-counter omtrent so hoog in die rooi in eerste, tweede en derde-rat soos my moer-meter. Maar die kwaad het darem nie lank gehou nie, veral toe ek besef het dat ek net my eerste hartaanvoel op myself gaan bring.

Maar gister was ek nie kwaad nie, net so bietjie gestaan en dink oor die dinge wat verby is en so bietjie baie bitter gewees het oor ou wonde wat ek self loop staan en oopkrap het.

Sien, my egskeiding is so ‘n jaar of wat gelede afgehandel. En my eks is toe sak en pak hier weg, behalwe dat sy omtrent alles in haar hool van ‘n kamer gelos het. Insluitend klere, skoene en geskenke wat ek vir haar gekoop het toe dit nog beter tye was. Soos in lank, lank gelede. Voor die cheap wyn begin vloei het en alles verongeluk het.

Gister sê ek mos vir huishulp-P om die zozo-hut in die agterplaas te gaan oopsluit en bietjie deur die spul swart-sakke te soek vir klere en goeters van my eks wat sy (huishulp-P) wil hê. En later toe ek gaan check, sien ek watse spul goed daar eintlik is. Klere, nog bitter min gebruik. Boeke. Papiere. Van alles en nog wat. En dis toe net daar wat die bitter my oorval.

Ek betaal elke maand getrou en met baie innerlike verset my gat af aan die helfde van ons boedel wat haar na die egskeiding sou toekom. Waarvoor sy bogger-all gedoen het nie. En wat ek moer hard en lank voor gewerk het en nou net so moet weggee. Dis so bitter onregverdig. En dit wat sy het (die goeters in die zozo-hut), is vir haar so min werd dat sy nie eens ‘n SMS kon stuur om dit te kom haal nie, en moes sekerlik op een of ander manier vervang word. Met my geld.

Dit laat my wonder, is die lewe enigsins regverdig? Ek kyk gister so na die juweliers-boksie wat ek vir haar gekoop het die eerste keer toe ons Mosambiek toe was. Sy was baie bly oor die geskenk. En die rok wat sy spesiaal laat maak het toe ons getroud is. Nou 'n patetiese stuk blou lap in 'n swart weggooi-sak.

Ek weet nie wanneer presies dinge begin verkeerdgaan het nie. Al wat ek weet is dat ons lewe en kommunikasie en die verhouding soos 'n spiraal, in sirkels wat al hoe kleiner word, reguit af grond toe getuimel het. Teen ‘n stink spoed.

Ek verlekker my elke dag aan die spoed-kaartjies wat sy kry met die nuwe kar wat sy klaarblyklik gekoop het en wat in my posbus afgelewer word. Natuurlik ook die kar met my verdienste gekoop. Ek glo nie eens sy het werk nie. En gee ook nie om nie. En voel dan weer dat ek miskien verkeerd is. En was. Maar om teen drank te beklei in enige verhouding is hel. Been there, got the t-shirt.

Nou al ‘n jaar later, en ek is maar steeds baie seer en bitter, maar die lewe gaan aan. Wens net soms dit kon bietjie anders gewees het. Gelukkig het ek ‘n paar bitter goeie pals wat omgee en wat verstaan en wat ook maar almal hulle eie t-shirts het.

En ek tel alweer my blessings.

Tot volgende keer. . . .

1 comment:

Anonymous said...

Snaakse sê ding daai van "to have loved and lost, is better than to never been loved at all..."
Ek weet nie. Ek moet stry met daai een. Hulle praat ook dat liefde nie seermaak nie, maar eerder die "absence of mutual love..."
Liefde maak seer. Mense maak seer. Die lewe maak seer.
Maar dit bly 'n journey...