Tuesday, October 14, 2008

Die K-woord se kind

Hierdie is ‘n uiters sensitiewe storie, gegewe die huidige politieke situasie in ons mooi land. Maar dis een van hierdie saga’s wat vir die huidige en komende geslagte vir baie jare van nou af bewaar behoort te bly. Soos in geskiedenis. Of volksbesit. Daarom nou juis hierdie blog.

Sien, Pa-G het in 1972 vir my en Ousus-T ‘n K-ding gekoop. ‘n Pragtige Ludwig Meister Klavier, nou wel tweedehands, maar regtig nog so goed soos nuut. En dit was nie net die verkoopsman se storie nie, Pa-G het lekker bemoerd geraak as mense hom bedinges.

Anyhow, Klavier is in my ouerhuis se sitkamer afgelewer, iemand het uitgekom om hom te stem, en daar moet ek en Sus-T toe onmiddelik begin met Klavierlesse. Want Pa-G het baie vir die ding betaal en lesse sal daar geneem word.

Ek was maar lui vir oefen en bladlees, maar kon ure lank voor die ebony en ivory-note sit en verwyl en alles wat voorkom sommer so op gehoor speel. Ek was daai jare al lief vir my musiek, en is vandag nog steeds.

Anyhow, Graad I en Graad II Unisa musiek-eksamens beide met lof deurgekom, wil toe in standerd 6 aangaan met musiek, en donner net daar van die tak af toe ons agterkom dat ek nie ‘n noot kan bladlees nie. En die musiek-onnie in die hoërskool wou nie die nuwe stukke eers vir my ‘n paar keer speel sodat ek dit uit dit kop uit kan mimiek nie. Maar nou ja, Klavier-lesse is mos in alle geval vir sissies, en dit pla my toe nie te veel nie. Gaan sing toe maar in die koor. Nogals een stuk duet saam met so ‘n ander groot ou wie se naam my nou ontgaan het. Ons noem hom maar Skool-Vrind-X. Nie dat dit juis saakmaak nie.

Anyhow, die jare het gekom en gegaan, en kort voor lank is ek en Sus-T uit die huis uit. Sy in ‘n huis in en ek betrek my eerste woonstel. En alhowel Pa-G lankal gesê het dat Klavier myne is, word hy solank ‘tydelik’ na Suster-T se huis toe geskuif.

Ek kom toe later Transvaal toe, en toe ek in my eerste huis intrek, begin ek toe flink planne beraam om Klavier se kind hiernatoe te laat kom. Want Suster-T speel nooit nie, Klavier staan net in haar sitkamer en stof opgaar so tussen al die katte deur. Want sy het op ‘n stadium 24 van die goed gehad. Hulle name en kleure en sekse en of hulle reggemaak was of nie is nie nou hier ter sprake nie.

Klavier kom toe met ‘n trek-geleentheid hiernatoe, kry sy ereplek in my huis en ek speel tog te lekker. Kom eers na ‘n klomp weke agter dat Suster-T heel stil geraak het. Bel my nie, kan nie praat as ek haar kontak nie. En ek hoor toe so verlangs by iemand dat dit iets met Klavier te doen het. Sy’t toe mos aangeneem dat posession equals the law of wat-ook-al is, totdat ek die ding kom opeis het. En daar is sy toe hoogs de bliksem in vir my vir ek weet nie hoe lank nie. Maar ons het maar een of ander tyd weer vrede gemaak en ek het nou vir Klavier. Soos wat dit my toekom. Pa-G het mos so gesê. Lank-al!

Anyhow, na so ‘n klompie jare in die eerste huis weer getrek, en Klavier kry alweer ‘n nuwe tuiste. So terloops, nog nooit weer gestem nie – en die ding klink nog steeds tog te mooi en stemmig.

Na so ‘n klompie maande in die nuwe huis, wil ek so bietjie goeters op en af skuif, en Klavier moet move. Ek kry toe sommer ses BEE-Werkers op die straat se hoek, en een mooi Somers-Saterdag-oggend kom skuif hulle die ding vir my. Tot my verdriet en lyding. Klavier het hoeveel krappe en stampmerke soos hulle hom deur plekke probeer forseer waar die ding nog nooit as te nimmer kon deur nie. Want hulle worry mos nie! Kos my later om ‘n hele skuifdeur uit te haal sodat BEE-se-kinders die ding buite-om die huis kan dra.

So hy staan na ‘n moerske gesukkel op sy nuwe plek en my stress-vlak is hoog, want as Pa-G die merke aan Klavier sien, gaan ek les opsê. Gelukkig het Pa-G dit toe nooit gesien nie, want hy is dood voor hy weer hier kon kom kuier. Dis nie gelukkig dat hy dood is nie – moenie my verkeerd verstaan nie – dis net gelukkig dat hy nie hier was en die krappe op Klavier kon sien nie. Want ek is seker dat my gat-velle sou gebrand het, ten spyte van die feit dat ek nou al mooi groot is.

So wat is die probeem nou?

Klavier se kind moet alweer geskuif word. Nadat die handbriek hier weg is, was dit weer tyd om bietjie huis reg te skuif, en Klavier moet nou na sy nuwe ereplek in die eetkamer verskuif word. Want dis net daar langs hom waar die trap-orreltjie ook eendag moet gaan staan as ek tog kan plan sien om hom hier te kry. En Klavier is nou propers vals na sy vorige trek, en ek gaan verseker nie weer BEE’s van die straat af kry nie.

So ek het al gedink en bespiegel en gewonder en gedroom. Maar plan kan ek steeds nie sien nie. Klavier weeg ‘n ton en dis nie ‘n ding wat sommer so geskuiwe wil word nie.

So kuier ‘n klomp van ons, dis nou ek, Vriend-J, Vriend-D, Vriend-A en Vriend-P gisteraand daar by Vriend-C oor ‘n wyntjie en ‘n vleisie. Sommer so buite. Want dis somer en volmaan en lekker buite. En soos gewoonlik, kom die onderwerp van Klavier se kind se trek weer onder bespreking. Want sien, een van die hoof-redes hoekom ek so hard werk daaraan om nuwe (sterk) vriende te maak, is om genoeg ouens bymekaar te kry om verdomde Klavier te kom skuif. Maar hulle wil nie byt nie. Ek meen, toe ek onlangs af was Oos-Kaap toe, het ek kliphard geskimp vir ‘n ‘verrassing’ as ek tuiskom, maar niks nie.

Moet net nie dink dat daar nie genoeg raad te gee was gisteraand nie: Soos:

- Breek die huis af en herbou dit 20 meter verder sodat Klavier dan in die eetkamer staan sonder dat hy geskuif hoef te word.
- Kry ‘n sleepwa in die afterplaas in, dra Klavier daarnatoe en ry die ding na ‘n ander plek toe. MMmm, g’n trailer of kar kan in my afterplaas inkom nie.
- Haal die hele Klavier uitmekaar en dra hom dan stuk-stuk aan. My &^##$@, weet julle hoeveel stukke ‘n Klavier het?
- Maak die huis vol water sodat Klavier kan dryf. (Hy's mos van hout gemaak) En die ander variasie, flood die hele erf sodat die Klavier al die pad buite-om kan dryf. Met minimum moeite.
- Brand die huis (en Klavier) af en eis van die versekering. Bou dan die nuwe huis met Nuwe Klavier sommer so kant en klaar op sy regte plek.
- Etc., etc., etc.. Soos die King van 'The King and I' sou sê.

So nou ja. Klavier se kind moet geskuif word. En ek is al helemal raad-op. En Klavier is vals. En Suster-T is alweer moerig vir my. Nie hierdie keer oor Klavier nie, ek weet nie hoekom nie, so dis nie eens ‘n storie vir ‘n ander keer se blog nie.

Ek moet gaan, want ek moet gaan planne beraam om Klavier te skuif...

So, tot volgende keer!

2 comments:

Anonymous said...

ag nee man ! onvolledig !

jy het die voorstel vergeet dat ons 'n speakerstelsel koppel aan die klavier en dan los jy hom daar en dan speel iemand dar agter terwyl almal kan luister !

grin. ek het lekker gesmile !

wanner blog jy or suster T ?

XonixZA said...

HAHAHA! Dankie vir die ewe onbruikbare raad! En my suster-T sal seker nog eendag oor geblog word, sal nog sien wanneer en waaroor. . .