Ek ry nou die dag agter ‘n klein rooi VW Golf aan in spitsverkeer, oppad huistoe. Voor in die kar (agter die stuurwiel), bestuur iemand se handbriek. Sy moet ‘n handbriek wees (of ten minste eens op ‘n stadium gewees het) want agterin die kar sit twee opgeskote kindertjies. ‘n Borselkop seuntjie van so ses en sy blondekop-sustertjie, seker so ‘n jaar of wat ouer as hy. En die twee is aanmekaar. Letterlik en figuurlik, soos net Kleinboet en Kleinsus kan wees. Dit trek hare, probeer oë uitkrap en dit gil en dit jil iets verskrikliks. Nie dat ek dit kan hoor nie, want ek is mos in my eie kar agter hulle aan op pad. Maar dit het ek mos alreeds gesê, julle moet net lees!
Handbriek het so ‘n keer of drie omgekyk, harde woorde gespreek (wat ek natuurlik nie kon hoor nie), en gedreig. Want dit kan handbrieke mos goed doen. Maar ten spyte van die feit dat sy haar lippe met elke omkyk-slag so ‘n bar of drie harder opblaas, is dit net ‘n honderd meter of verder weer sulke tyd. Dis net klappe en stampe en hare en oë op die agter-sitplek.
Tot Handbriek se moer-meter op 'n stadium heeltemal verby die "Dangerously High" merkie die rooi inskiet, en dis toe net daar op die hoek van Republiekweg en Malibongwe (wat tot onlangs nog Hans Strijdom was) dat sy die robot oranje vang, en daar is sy met ‘n spoed uit die rooi Golf uit. H.K.G.K. Sommer so met die uitklimslag is haar pikante sandaaltjie al in die hand en die agterdeur oop. En die houe val op enige deel van Boet en Sus se konstitusie wat nie weggesteek kan word nie. Ek die kleintjies skreeu en belowe en verduidelik en pleit, maar Handbriek slaan, want die robot is nou-nou weer groen en dan gaan die karre agter haar begin toeter blaas.
Wat daarna gebeur het, weet ek nie, want daar het ons paadjies toe geskei. Handbriek en haar huilende kroos links in Malibongwe af en ek regs in Hans-Strijdom in. Wat eintlik dieselfde pad is, maar veskillende rigtings. Sy Oos en ek Wes.
Die bogenoemde insident laat my toe mos aan my eie familie dink.
Want sien, my Pa-G en Ma-E het ook die oulikste twee kindertjies gehad. Suster-T en ekke. Die uwe wat die jongste was en ook sekerlik die oulikste. Hang net af van wie jy sou vra.
In alle geval, ek en Suster-T kon net so vreeslik baklei en stry. Ek weet nie hoeveel keer Ma-E vir ons vertel het van die baie klein kindertjies in ver lande wat enige iets sou gegee het om ‘n boetie of ‘n sussie te kon hê nie. En kyk net hoe baklei die twee van ons (wat kwansuis so geseën is). En ons gatte het gereëld gebrand daaroor, want dit was nog in die goeie ou dae wat kinders nie hulle ouers hof toe gevat het vir die billike en noodsaaklike reg tot uitvoering van ouerlike disiplinering nie.
Ons bakleiery en gestryery het maar so aangegaan en eers beter geraak toe ons al beide uit die skool uit is. Suster-T in die Technicon koshuis en ek in die Weermag. En ons kon toe so lekker gesels en kuier wanneer ek op pas is, want toe was ons mos al mooi groot.
Maar so van tyd tot tyd raak Suster-T mos heeltemal bedonnerd in haar kop, en dan is daar weer kwade gevoelens van voor af. Soos die keer met Klavier se storie – daaroor het ek alreeds geblog. Dan is dit dit en dan is dit weer dat. Gewoonlik nie eens vir ‘n ordentlike rede nie. En ek gee ook nie juis om nie, want ek is redelik onvergewensgesind, en ek stuur ewe redelik maklik mense volkome in hulle moere in.
Die voor-laaste keer wat ek af was om vir die familie te gaan kuier, het ek ‘n paar keer by Suster-T gaan kuier en daar was g'n fout nie. Ek bel haar nie gereeld nie, sy bel my nooit nie. Ek leef my lewe en sy leef hare.
En toe ek nou laas keer af was Oos-Kaap toe, toe probeer ek om haar in die hande te kry om te reël dat ek kan gaan hallo sê. Kom gou agter dat sy nie my selfoon-oproepe wil antwoord nie, want die eerste keer wat Ma-E van die huis-foon af bel, toe is sy skielik daar. En Ma-E vra wanneer Suster-T tuis is want ons wil kom hallo sê. En Suster-T se response? “Ons het NIKS om vir mekaar te sê nie”. Ma-E wou nog die foon vir my aangee sodat ek met haar kan praat, maar die ding is alreeds in haar ore neergesit.
Nou vra ek jou: Wat het ek gedoen om dit te verdien?
As daar geldige rede is vir haar bemoerdheid, great, dan kan ons dit uitpraat soos dit opgevoede grootmense betaam. Maar as sy wil daal tot die vlak om die telefoon in Ma-E se oor neer te smyt, dan het ek geen verdere raad vir haar nie.
Ek't die res van die week heerlik saam met my ouers en ander familie gekuier, en later teruggery Gauteng toe sonder om weer met Suster-T te probeer kontak maak. So bitter soos dit klink, sy’s finaal en verseker van my Krismis-inkopie-lysie af. En ja, dit pla my. En nee, ek beoog nie om enige iets daaraan te probeer doen nie, want ek weet dat ek myself net teen haar muur van depressie en issues gaan vasloop. En daarvoor het ek nie tyd nie.
Kinders, julle moet julle ouers liefhê. Tick.
Ouers, julle moet julle kinders liefhê. Tick.
Broeders, julle moet julle susters liefhê. MMmm, OK, Tick.
Susters, julle moet julle broeders liefhê. Doodse stilte.
Tot volgende keer…
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
3 comments:
ek sal my broer (die doos) vir jou suster ruil ?
jammer jy het nie die rooi golf se details gekry nie - ek sou persoonlik die aanranding saak teen haar gaan maak het. damn kinnerslaner.
nice artikel - ja klink bekend en ek suster-K het ook gereeld mekaar liggies aangerand. Groete F
Ek kry ook op die oomblik die silent treatment vir redes aan my onbekend van sus C af. Pas my.
Post a Comment