Ek weet van heelparty lesers wie se nek-hare heeltemal penorent gaan staan as hulle hierdie blog se onderwerp sien. En met goeie reg ook! Want Dinge van die Pad is daai dinge wat gebeur het maar wat nooit gebeur het nie. Want sien, as daar nie ‘n foto is nie, dan het dit mos nie gebeur nie. Soos die keer wat Vriend-C se double-cab in die laat-nag-ure sonder diesel op die snelweg gaan staan het en ekke moes gaan help. Ongelukkig het die uwe sy kamera tuis vergeet, en daardeur is enige kanse om bewyse van die groot geleentheid daarmee heen. So ek kan hom nie eens afpers of grappies daaroor maak nie, want dit het mos nie gebeur nie. Dis Dinge van die Pad.
Die een ongeskrewe reël is dat daar nooit in verkeerde geselskap oor Dinge van die Pad gepraat mag word nie. Want mens moet mos maar soms jou eie belange en die van jou vriende beskerm. So, liewe leser, moenie stress nie, ek gaan nie oor enige Dinge van die Pad praat wat liefs Dinge van die Pad behoort te bly nie. En Vriend-D sal seker ‘n sug van verligting slaak, want die meeste van ons Dinge van die Pad het hy in alle geval al ‘n dosyn of meer maal gehoor.
Die eerste Dinge van die Pad wat ek kan onthou, is die keer toe ek saam met die Voortrekkers daar na van Stadens-rivier-mond toe was vir ‘n naweek-kamp. My eerste kamp nogals; Vroeg die Vrydag-middag per bus van Uitenhage af vertrek. Daar aangekom, pla my blaas my iets vreesliks. Ek het net my rugsak en slaapsak in die bungelo ingegooi, en is toe met ‘n vaart daar weg na die ablusie-blokke toe. Afdraand. En aan die onderpunt van die afdraand, presies op daai plek wat my voorwaartse momentum enige redelike en billike kans van stop heeltemal oorskry, is daar toe mos ‘n teerpad. KADOEF!! En ek donder daar neer dat jy net kniekop-velle sien trek.
Wou nog huil, maar my eerste gedagte is of iemand my nie dalk gesien het nie. Gelukkig nie. So ons gaan hulle ook nie vertel nie.
Sluip so met ‘n ompad terug bungalo toe nadat ek die ergste bloed met toilet-papier probeer stop het en gaan trek ‘n langbroek aan om die letsels weg te steek. Maar ai, die pyn. Dit was regtig bitter eina.
My naweek grotendeels opgeneuk, die ouens moes (nadat hulle van my ongelukkie verneem het) my maar na my gat-kant to tackle wanneer ons touch-rugby op die strand gespeel het. Gelukkig was daar nog nie in daai dae kameras en selfone naby nie, anders het ek seker vandag nog nie die einde daarvan gehoor nie.
Dinge van die Pad het soms die manier om met verloop van tyd nie meer so ‘n groot issue te wees nie. Want die stukkende knieë het met die tyd genees, ons het almal grootgeword en dus maak dit nie meer vandag saak om daaroor te praat nie.
Maar daar’s ander Dinge van die Pad wat liefs ongesê moet en sal bly. Soos die keer wat ek in die army was en per trein op pad was terug kamp toe, en toe na vele brandewyne en cokes in dieselfde slaapsak beland het saam met ‘n haas onbekende skool-kennis. Mmmm, Dinge van die Pad, of sal hierdie spesifieke ene nou kwalifiseer as Dinge van die Spoor? Ek het in elk geval nooit geweet dat ‘n army-slaapsak so lekker kan slaap nie. En alhoewel ek weet van die Mile High Club, het ek nooit besef dat daar so iets op 'n trein ook kan bestaan nie.
Ek dink dis belangrik dat enige persoon sy eie Dinge van die Pad behoort te hê. Nie om voor te gee dat ek ‘n voorstaander is daarvan om goeters weg te steek vir jou wettige of geringde handbriek nie, maar soos julle weet het ek mos nie daai tipe harnas om my hals nie. My spoed is hoog en my bekommernis oor briek-stories is dus minimaal. Maar Dinge van die Pad verseker dat mens nie in die saai groef van die lewe beland nie. Ek meen, werk en eet en slaap is dinge wat mens elke dag moet doen om te leef. Maar Dinge van die Pad sorg vir bietjie afleiding en weg-breek van die alledaagse. Soos die keer in Plek-B. Dis nou Dinge van die Pad waaroor daar nie gepraat mag word nie. Daar was verseker nie kamera’s naby nie, die bier was koud en die omstandighede net mooi reg.
Al wat ek oor daardie betrokke geleentheid kan sê is: “HIEEE HAAAA”.
Groetnis tot volgende keer …
Tuesday, October 21, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
3 comments:
Dis wragtag so, so waar - daai dinge wat jou weer kick start. Mens moet periodiek padvat. Mans en vrouens altwee.
Hello Krokodil - yip, ons moet almal meer so maak! LOL. Lekker dag daar!
hieee haaaa hoekom klink dit so bekend ? my ore is skoon seer as ek daaraan dink !
Post a Comment