Monday, August 11, 2008

Middle-age

Ek’s nie presies seker wat die betekenis van die woord ‘middle-age’ is nie. Maar soos ek verstaan, is dit iets wat handbrieke bemoerd maak tussen die ouderdom van vyftien en vyf-en negentig. Beide insluitend. Party mense noem dit PMS, ander noem dit mal-koei-siekte, maar dis nou net mooi hierso wat ek heeltemal van die wa af donner. Want klaarblyklik kan mans ook middle-age kry, al is hulle nie veronderstel om van mal-koei siekte en PMS te suffer nie.

Net so ‘n vinnige definisie: Volgens Vriend-C en sy biker-pals, is ‘n handbriek daai ding wat spore trap soos ‘n mens, en as jy die dag wil lekker party saam met jou pals, los dit maar eerder tuis. Want sy sal sonder uitsondering altyd die een of ander manier kry om jou fun te spoil. Tensy jy nog nie getroud is nie, want volgens my ondervinding begin die gebriekkery sodra daai stukkie 9-karaat aan die linkerhand se vinger langs die pinkie gesteek word.

Ek’t niks teen handbrieke nie. Maar ek het twee t-shirts wat my die wêreld se ondervinding gee oor hierdie onderwerp. Korreksie, ek het die twee t-shirts weggee saam met die proses om van die twee genoemde handbrieke ontslae te raak. Maar dis ‘n lang storie vir ‘n ander dag se blog.

Anyhow.

Toe ek ‘n jong seun was, was enige iets bo veertig oud. Moer oud, inderdaad. My ma het ‘n suster gehad (sy leef nog), en ek onthou toe Suster A*** (soos wat my ma haar altyd genoem het, want die ouderdomsverskil was so hoog dat my ma uit respek nooit vir haar op haar voornaam alleen sou aanspreek nie) veertig geword het. En ons kinders het gedink dat dit nou regtig bitter oud is. Moer-oud, maar ons was nie verondersteld om dinge so eksplisiet te uiter nie. So Suster A*** is nou veertig en almal praat van hoe haar lewensjare nou fluks aanstap en hoe goed sy lyk vir haar rype ouderdom.

En die dae het gekom en die jare het gegaan en toe ek my oë weer op ‘n mooi dag uitvee, slaan ek ook mos die groot veertig. Met die verskil dat my veertig en die veertig van Suster A*** twee heel verskillende veertigs was. Want ek was nog jong en lus en jeukkerig en life has just begun. Behalwe vir die handbriek wat kronies hier en daar probeer rem waar daar ook iets te remme is.

So het nog ‘n paar jare vebygesnel, en dis toe wat ek so ‘n paar snaakse dinge begin doen wat my laat wonder of die middle-age dinges my ook nou terstond ingehaal het.

Soos:

- Maak die handbriek so net minder as ‘n jaar gelede los en gooi die ding sommer so oor die linkerskouer dat hy so ‘n slag of drie hop in die stofpad.

- Verkoop my sedan-motor (sommer nog splinter-nuut) en koop ‘n splinter nuwe 4X4 om die ooptes en die vryheid van die boendoes te gaan aandurf. En die karretjie is lekker versatile, om by my nuwe lewens-styl van nuutgevonde vryheid aan te pas.

- Oorweeg dit regtig ernstig om ‘n motorfiets te koop, ai, die peer pressure van mede-middle-agers darem… maar besluit toe nademaals dat die bogenoemde 4X4 se oop dak vir oorgenoeg vars lug sal sorg.

- En laat skiet ‘n gaatjie in my linker-oor. O donder. As ek ooit nog rede wou hê tot twyfel, hier is dit. Want terwyl ek die oorlob nog elke oggend en elke aand moet nurture met spiritus en ‘n suk watte, stress ek alreeds oor wat die familie gaan sê. Want mans doen mos nie sulke goed nie. Besluit toe maar as ek weer die lang pad via Welkom Oos-Kaap toe gaan aandurf, sal ek die ding maar uit my oor moet haal. En net hoop en bid niemand sien tog die gaatjie raak nie. Want dis mos verkeerd. Ek sal nooit vergeet hoe ek amper onterf is baie jare gelede toe ek as matriek-seun by my eerste girlfriend ‘n St Christopher hangertjie gekry het en dit die eerste keer in die openbaar voor my pa gedra het nie. Die Oubaas het net daai middag sy lewensjare met ten minste agtien verkort.

Daar is nog so ‘n paar ander dinge wat ek oorweeg, maar aangesien sommige daarvan dinge van die pad is waaroor ek ‘n ander dag gaan skrywe, kom ons laat dit maar vir eers daar.

Al wat ek weet is dat ek nou ook nou aan die verkeerde kant van veertig trek. Wat de hel die dag gaan gebeur as ek eers die half-eeu merk behaal, weet g’n drommel nie. So ons moet maar wag en kyk. Miskien ‘n tatoo. Op ‘n plek wat net spesiale mense se oë dit sal kan sien. Ek verneem dis ook ‘n teken van manlike PMS / middle-age.

Of nie?

Tot volgende keer …

2 comments:

Anonymous said...

en jy dink vir 'n SEKONDE dat ons jou genoeg kak gegee het oor die koop van 'n motorfiets... Noudat ek WEET dat jy ernstig is het jy geen keuse nie - ek gaan aanhou KERM (soos 'n handbriek...)Met die verskil dat jy my nie kan LOS nie want ek voel anyway f@kol !

Anonymous said...

Los die tatoos maar vir tot als gerek en gesak het tot waar dit behoort te wees. Ander lyk jy soos daai tannie wat die ghekko op haar linker bors laat tatoo het op 23, maar toe sy 50 slaan lyk dit soos 'n krokodil.