Sunday, August 10, 2008

Raad vir spatare

Hierdie ene is eintlik een van my ma se stories, sy het dit al vir so baie mense vertel, dat ek dink dis ‘n moet dat ek dit gou met julle moet deel.

Ek was eintlik ‘n baie oulike ou seuntjie toe ek nog klein was. Met borselkop-geskeerde haartjies; my pa het sommer self eenmaal ‘n week met die hand-knipper ingelê. Short back and sides.

En so van die dreaded knipper gepraat: My pa het twee van die goed gehad. Die een was in so ‘n mooi maroon boksie, en hy kon nog gaan. Maar die ander ene was altyd in ‘n plastiek-sakkie toegedraai, en hy is gereserveer vir die dae wat ek iewers in die week stront aangejaag het. Want sien, daai knipper het nie die hare gesny nie, hy het dit uitgepluk. Van waar my pa hom in my kop ingedruk het tot uit aan die anderkant, een loutere vuurstreep van hel. OK, dit was seker nie heeltemal so erg nie, maar vir ‘n vier- of vyf-jarige outjie was daai sit op die agterstoep vir haresny met die knipper uit die plastieksakkie nooit ‘n lekker ondervinding gewees nie. En dan het die trane gewoonlik geloop en dit het my pa se moer-meter gewoonlik nog hoër laat klim.

Maar dis nie eintlik waaroor hierdie storie gaan nie.

Kyk, toe ek begin praat het, het my ouers gou agtergekom dat ek ge-lisp het. Dis nou wanneer jou tong nie mooi weet waar om homself te posisioneer om die “S”-klank te maak nie. So dan klink “S” soos “Tsh” en “Slaap” klink soos “Tslaap.” Anyhow, julle kry my drift.

Vandat ek maar kon onthou het my ma probleme met spatare gehad. Nou nie dat ek juis geweet wat presies dit beteken nie, net dat dit seker baie seer moes gewees het, en dat my ma van tyd tot tyd vir ‘n paar dae moes hospitaal toe vir ‘n spataar-operasie. En dan terugkom huistoe met verbande om haar bene en sy mag nie baie loop nie en dan was dit maklik vir my en my suster om vir haar weg te hardloop as ons stout was, want sy kon nie vir ons gevang-kry om met die ‘strap’ in te lê wanneer nodig nie.

O ja: Wanneer my ma in die hospitaal was, moes my pa natuurlik sorg dat ons iets te ete kry, en ons aandete spyskaart het dan 99% van die tyd bestaan uit peanut-butter en syrup. Want my pa het nie juis geken van kosmaak nie, dis mos hoekom my ma daar was. Wanneer sy natuurlik nie in die hospitaal was met haar spatare nie. Dan het my pa so ‘n klomp hompe brood gesny en be-botter, in die middel van die tafel neergeplak, en ons elkeen het ‘n kleinbordjie met ‘n groot lepel stroop daarin gekry. Dan so ‘n lekker fris mespunt peanut-butter daarin geroer, en dit sommer so byt-vir-byt op die brood gesmeer en ge-eet. Ten minste het ons nie met leë magies gaan slaap nie.

So gebeur dit dat my ma weer op een of ander tyd uit die hospitaal ontslaan word na een van haar spataar-operasies. Die ene verbande en pyn. Ek moes toe seker so drie of vier jaar oud gewees het, nog klein genoeg dat my ma my moes bad en aantrek.

Klaar gebad, en my ma is besig om my af te droog. En sy sukkel maar want die pyn is erg. En toe sy my bene begin afdroog, sou ek haar nie as volg attentmaak dat sy nie so rof met my moet werk nie:

“Tshoppash Mamma, my tspat-are ith baie theer”…

Dis toe net daar was my ma alle sin vir humor opsluit verloor en my kale boude met die nat waslap laat brand sodat ek dit sommer vandag nog kan voel. En ek huil en belowe dat ek dit “nooit weer tshal tshe nie”.

My ma het my net so nat en kaal in die badkamer gelos en daar uitgestorm. En ek het nog gehuil en my maar self later afgedroog en is daar uit.

Maar die een ding sal ek vir julle belowe – tot vandag toe het ek nog nooit weer enige las van my “tspat-are” gehad nie…

Tot volgende keer…

No comments: