Thursday, September 4, 2008

Phone a Friend

As vriend C nog eenmaal vir my vra wanneer ek dan weer blog, en nog ‘n keer die dinge waaroor ek actually wil blog op sy bladsy sit voor ek daarby kan uitkom (darem met die nodige link hierdie kant toe), dan skeur ek sowaar my tissue.  Die pienke.

Ons manne ken mos van alles.  Of dit nou padaanwysings, 4X4 roetes, rugby, bikes of kosmaak is, ons is eksperts.  OK, darem nie helemal as dit by kosmaak kom nie.  Een van daai takies wat ‘n handbriek voor uitgeknip het, net jammer dat daar altyd soveel baggage met die goed saamkom. Veral as hulle eers hulle high-heels onder jou bed maak staan het.

Anyhow, toe ek so ‘n jaar of wat gelede die handbriek laat staan het, toe is dit weer ek en die potte en die stoof en die microwave oond wat al toenter-jare gelede sy gat gesien het.  Alle eer aan die ex-handbriek natuurlik. 

Gaan koop spesiaal in Welkom se Game vir my ‘n mooi stel swaar-boom potte, en krap my resepteboek van ouds hier onder die stof iewers uit.  En begin weer met die kosmaak storie van voor af.

Ek’s maar lui daarvoor, maar ons het nou al ‘n ruk lank die manier om op ‘n Maandag-aand saam te eet en te drink en te kuier.  Sommer so ‘n klomp manne bymekaar.  En ons hang uit.  Voor die stoof natuurlik.  En so mettertyd het hulle begin aanvaar dat ek die poeding moet en wil maak.  Want ek spog mos altyd oor my ma se lekker telefoon-poeding, nasionale-poeding en natuurlik sago-poeding, waarvoor Vriend C sy neus so hoog optrek lat dit lyk of jy die ding hier after sy kop iewers kan vasbind met ‘n cable-tie.

Anyhow, maar om poeding te maak is nie aldag so maklik vir die beginner nie.  Die resep moet in groot DETAIL afgeskrywe word.  Want dit help nie om vir my te sê om die botter en die suiker te ‘room’ nie, want ek hou nie ‘n koei hier by die huis aan nie. Die SPCA en die bure sal hulle beskyt.  Die naaste wat ek nog daaraan gekom het om koei se kind aan te hou was toe die handbriek nog hier gebly het. Maar dis dinge van die verlede.

So wil ek die betrokke aand vla maak.  Lekker ou tradisionele custard.  En ek besluit om my ‘Phone ‘n Friend’ opsie uit te oefen.  Want sien, ek het hierdie tante in Welkom wat KEN van kook.  Van terte tot vleis en van hoender tot poeding.  En natuurlik vla. Of custard soos die oumense dit genoem het.

Sy gee die resep (in groot detail natuurlik) en ek skryf, sê totsiens en trek my voorskoot aan.  In tipies my tradisionele styl waaroor mens nou nie juis op ‘n openbare blog uitwy nie.  Dis dinge van die pad. En kry alles bymekaar, roer, gooi by, laat afkoel en doen die poeding-ding. So reg uit die boek uit.

Maar die poeding is soet.  Moer soet.  Kyk, ek hou van ‘n stukkie sjokolade op sy tyd, maar hierdie ene is sjokolade se oer-oupa se moer.  Skoon laf van soet.  Maar ek’s mos braaf en eet die ding so oor drie aande totdat daar net vir die hond so ‘n klein, klein skeppie oorbly.  My ma het ons mos altyd vertel mens mors nie met kos nie en dat daar baie honger kindertjies in ander lande is. En dat hulle as kinders  soggens 7 myl deur die ryp met kaal voete in die Winter moes skooltoe stap. En dat ons nie weet wat is swaarkry nie. 

Nou ja, na die soet eposode sit ek toe eerder vir die volgende paar maande custard helemal uit my kop uit, totdat ek weer vir een van die Maandag-aand ekskursies opdrag kry om ietsie vir ‘sweets’ te verskaf.

En “phone weer my friend”.  My tannie D in Welkom.  Sy kan nie verstaan dat haar onfeilbare resep nie die vorige keer wou werk nie, en net om seker te maak ruk ek my resep uit soos wat ek dit laas afgeskrywe het. En lees vir tannie D:

“2 koppies melk”
“Ja, dis reg.”

 “2 GROOT eetlepels vlapoeier”
“Nog reg, gaan aan.”

“12 koppies suiker”
“My kind, jy’s helemal bedonnerd, ek’t gesê ‘n HALF koppie suiker!!”

“O.”

Verneem gou na oom J en neef B en nig H se welstand en sê maar koebaai.  Terug stoof se kant toe.

En gooi die keer 1/2 koppie suiker by en nie 12 soos 'n maand of drie gelede nie.  

Sjoe, julle gaan my nie glo nie – amper so lekker soos my ma s’n.  En vriend C en vriend D en wie-ook-al wat die aand kom kuier het, eet dat die spoeg so spat aan my lekker poeding.

Wys jou nou maar net.  Alhoewel ons manne van alles weet moet ons maar net soms so 'n bietjie seker maak.  En dan maar eerder die ‘phone a friend’ ding doen.

Ek’t gisteraand fudge gemaak.  En dit was GREAT.  Vandag by die kantoor het die klomp dit verorber voor jy kon sê “12 koppies”.  Behalwe dat Vriendin D opgemerk het dat dit "baie soet" is.  Natuurlik is dit soet! Dis fudge!! Miskien moet ek dit volgende keer eerder met sout in plaas van suiker maak; spesiaal vir haar. 

Anyhow, tot volgende keer, ek moet gaan kosmaak…

1 comment:

Anonymous said...

Amper moer ek agteroor van my stoel af toe ek sien jy het onthou jy het nog 'n blog...
Ek het een aand 'n maalvleis rol gemaak. Maar nog nooit in my dag des lewens het iemand vir my gesê dat mosterd poeier is nie soos mosterd wat uitgedroog het nie.
So twee eetlepels later gooi ek elke denkbare spesery by om die kak mosterd reuk te try cover.
Die Kentucky wat ek op die ou end gaan koop het was heerlik.
Selfs die honde het hul neus opgetrek vir daai maalvleis.