Met vriende soos wat ek het, het g’n normale mens ook vyande nodig nie.
En verskoon maar dat hierdie ene is in Afrikaans is. Want soms is dit net lekkerder om ‘n goeie storie in jou eie moedertaal te vertel. Amper so lekker soos Ma se Krismis-dinner. Met die sousboontjies, skaapboud, sago-poeding en die kalkoen. Ja, die ewige, gewraakte, verdagte kalkoen.
So ‘n klompie van ons enkellopende pelle het mos die manier om op ‘n Maandag-aand koppe en hande en bestanddele bymekaar te sit om saam kos te maak, musiek te luister, “AF” op DSTV te kyk en sommer net lekker te eet, drink en te gesels. En om dan op‘n Dinsdag-oggend gewoonlik met rooi skreef-ogies en ‘n effense hoofpyn die res van die week te gaan aandurf.
Nou ja, so ‘n week of wat gelede gesels ek en Vriend-C oor die gevriesde kalkoen wat hy nou al vir hoe lank al in sy slaghuis se vrieskas bêre, en hoe dit nou hoog tyd raak vir ons om die ding aan te tree vir ‘n behoorlike Maandag-aand feesmaal. Bogger die Amerikaners se “Thanksgiving” dinners, hulle het nog-nie gesien hoe maak ‘n paar gesonde Boerseuns daai groot voël gaar nie.
So gesê en sommer dadelik so gemaak ook. Want nie alles in ons lewens word in detail beplan en oorweeg en oordink en oor beswym nie, ons wil daai kalkoen eet en bitter vinnig ook. En Vriend-C gee toe oor die naweek die ding vir my, mooi toegebind in ‘n blou dra-sakkie, lekker hard-gevries, met die instruksie dat ek hom solank in my eie vrieskas moet sit terwyl hy nog so ‘n paar honger enkellopende ouens soek wat Maandag-aand kan kom aansit vir die feesmaal van die jaar. Want ek sal die ding moet gaarmaak – want Vriend-C het nie ‘n oond nie.
Ek dink hy het die gevleulde gevaarte vir my laas Saterdag-aand gegee, want hier in die vroeë Sondag môre-ure raak ek wakker en ek wonder of die ding nog in my kar is en of ek hom sy ere-plekkie in die vrieskas gegee het. Want sien, die wyntjie waarmee ek die Saterdag-aand agter my blad huistoe gery het, het my korttermyn-geheue ook so ‘n klein bietjie nadelig aangetas. Anyhow, ek is hier in die middel van die nag op, streak sommer so in my slaap-kabaai (lees geboortepak – hoe dan nou anders) kombuis toe en gaan loer in die vrieskas. G’n probleem nie. Kalkoen se kind is styf en koud soos dit ‘n behoorlike dooi kalkoen betaam.
Sondag het gekom en gegaan en hier teen laatmiddag kom die SMS van Vriend-C deur: “Ontvries die kalkoen vir môre-aand, sal weer met jou praat.”
Maandag-oggend het ek nog nie eens my tande geborsel of die slaap uit my oë gewas nie, of kalkoen se kind is vanuit sy koue lê-plek na die opwasbak verskuif, sodat hy deur die loop van die dag behoorlik kan ontdooi vir die aand se groot kook. Dis nou gister gewees.
By die werk aangekom, bel ek eers gou my tante in Welkom, sy KEN mos van kook, en kalkoen se kind se resep sal sy gewis hê.
Gou uitgevra na die oom en die kinders en die nefies en die tefies se welstand, toe die groot vraag van hoe om geveerde vriend lekker voor te berei. Want sien, hoender ken ek van. Maar kalkoen is darem so ietwat nader aan volstruis se grote as ek so aan die toegebinde pakkie dink wat op die wasbak lê en ontdooi.
En net hier bliksem die paw-paw teen die fan vas. Want my tante is van mening dat kalkoen se kind ten minste 4 tot 6 ure se behoorlike baktyd nodig het. En die rukkie wat ek die aand opsygesit het vir die groot kook, gaan beslis nie lank genoeg wees nie.
Maar Boer maak mos ‘n plan, en met ‘n vinnige wit leuntjie teenoor die klomp by die kantoor is ek in die kar en oppad huis toe. En sommer so met die intrap by die huis die voorskoot omgehang, hande gewas en toe vir kalkoen-kind van sy plastiese omhulsel begin verlos. Maar die ding is toe nog so ietwat gevries, en sommer so onder die lou-warm water, begin ek die proses om die ding ordentlik te was (volgens my tante se instruksies) en dan ook sommer om die laaste ys te laat weg-smelt.
Maar iets wil mos nou al vir my verdag lyk. Hoe verder ek die kalkoen ontvries, hoe platter lyk hy vir my en hoe minder lyk hy na hoender se kind. Want ek ken van hoenders. Maar nie so baie van kalkoen nie – maar ten minste behoort daar darem ‘n tipe van ooreenkoms te wees. After all, hulle is tog voëls van eenderste vere.
Spring op die foon na Vriend-C toe. “Jong, is jy seker dis ‘n kalkoen die?”
“Natuurlik is dit! Was hy in die sakkie met die handvatsel?”
“Ja, maar ek het hom klaar uitgehaal.”
“Nou ja, gaan jy maar aan met die voorbereiding. Ons sien julle later.”
Terug kombuis toe en voort met die taak op hande.
Maar nou moet julle ook verstaan dat my maag gladnie van die sterkste is nie. Dit vat g’n baie om my te laat gans-taal praat nie. En ook voor jy nog kan sê ”kalkoen”, begin ek voel dat dit tyd is om eers met George daar in die badkamer te gaan praat. En ek maak toe sommer ook so.
Klaar daarmee, gesig en bril gewas, terug kombuis toe. Voort met die groot taak op hande.
Maar kalkoen wil steeds nie soos kalkoen lyk nie. Pure plat en vaal en vetterig en stink. En ek hol eers weer badkamer toe.
Bel weer vir Vriend-C. Ek is so naar dat jy met my kan toor, en kom ooreen om gou vir hom ‘n foto sommer so met die selfoon te neem en aan te stuur. Sodat hy kan opinie lewer van waar ek nou weer aangejaag het. Want as iets mos verkeerdgaan is dit my skuld. Altyd.
Neem foto. Hol badkamer toe. Maak dit net-net. Praat met George. Stuur MMS. In presies daai volgorde.
My selfoon lui. Maar Vriend-C lag so dat ek just about nie kan hoor wat hy sê nie.
So tussen die lag deur, verneem ek dat daar so ‘n klein foutjie ingesluip het. Hy is BAIE JAMMER. Maar hy het per ongeluk vir my die sak met die gevrieste vark-vet gegee wat hulle nog moes maal vir die boerewors. En ek probeer my bes om kalkoen daaruit te prakseer.
Ek wil nog kwaad-raak. Swets ‘n paar keer so tussen die naarheid deur en om die vrede te bewaar, belowe Vriend-C my dat hy gou twee gaar hoenders sal koop op-pad hiernatoe. Want Einstein en ons twee pals van Pretoria is oppad.
Ons ete het toe goed afgeloop. Lekker gekuier, lekker gedrink, lekker dinge van die pad herleef. Soos altyd. En met die kalkoen-vark veilig in die asblik toegebind, het ek enige voornemens om ooit in my lewe weer kalkoen gaar te maak bitter ver uit my toekoms-beplanning verwyder.
Behalwe dat Vriend-C die eintlike regte gevrieste kalkoen (so sê hy) vir my mooi toegebind in ‘n blou plastiek-sakkie gebring en in my vrieskas gesit het!
Tot volgende keer…
Tuesday, August 5, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
4 comments:
Asof dit nou my skuld is dat jy nie kan SIEN nie. Kalkoen het boude en blaaie en varkvel net , wel, vel. Miskien sal jy volgende keer van beter weet !!!! ook maar goed ek het nie gese dit is beestng nie - wonder wat jy dan met die varkvel sou maak ! Vriend C
Ja ja ja - ek vat VOLLE verantwoordelikheid - want dis mos altyd my skuld. Hoe dan nou anders? LOL.
Beter jy bly eerder uit die kombuis. Stick to toast en marmite. Marmite is die botteltjie met die geel sticker op met die swart teer-agtige stroop-agtige goed in. hehehe.
Lekker gelag.
Dis ook net 'n mansmens, really. Nice storie!
Post a Comment