Friday, August 8, 2008

P.V.

So lê ek gisteraand en dink aan die kere in my lewe wat ek nou regtig my naam loop staan en gat maak het. En hoe hierdie dinge in een of ander holte van my brein opgegaar word en die plek inneem van ander goeters wat my baie slimmer sal maak. Nie dat ek juis dom is nie. Maar ook seker nie slim genoeg nie. So die obvious aksie is om dit te laat uit! Praat daaroor, maak dit publiek en vergeet dan daarvan. En kyk hoe die IK groei.

So bietjie meer oor myself:

Ek’s mos een van daardie ouens wat glo daarin dat wanneer jy iets doen, dan doen jy dit goed en reg en na die beste van jou vermoëns, anders kan jy dit maar netsowel uitlos. So het ek myself al in ‘n krul in gespartel hier op kantoor, omdat ek glo dat as ek iets wil reg gedoen hê, dan moet ek dit maar eerder myself doen.

So het sommige van my (debateerbare) vriende oor die jare van ons vriendskap die slegte gewoonte aangekweek om my “PV” te noem. Niks met die krokodil se vinger met ‘n typo te doen nie, want ek’s g’n politikus nie. Nee. “PV“ staan vir “Paraat-Vraat”.

Want ek hou mos van lysies en reminders en ‘n netjiese lessenaar en ‘n motorhuis waar alles mooi ge-orden is en ek in die middel van die nag in die donker na iets kan vat en dit die eerste keer raak-vat.

Hierdie storie het baie jare gelede gebeur, toe ek nog ‘n jongman vars uit die skool uit was en saam met duisende ander van my soort, twee van die kosbaarste jare van my lewe as soldaat moes deurbring. Die twee jaar het gekom en gegaan, met baie bloed, sweet en trane. En nadat ons uitgeklaar het, moes ons weer twee-maal terug grens toe gaan as burgermagslede. 3 maande op ‘n keer.

En dis toe nou net waar die PV in my lewe seker maar sy oorsprong gehad het. Want sien, die dag as ek my bruin uniform aantrek, SAL dit behoorlik gestryk wees en SAL my bootse skoon wees en SAL ek so paraat wees as wat paraat maar kan wees. Soos dit ‘n goeie soldaat betaam.

Kannie meer onthou waar presies hierdie betrokke kamp was nie, maar dit was iewers in die heel Noorde van Namibië. Daardie dae was dit nog Suidwes-Afrika. En een van die offisierse wat as staandemagslede daar gestasioneer was, was ‘n Suidwes-Afrika Gebiedsmag kêrel met die naam van Majoor Smit (nie sy regte van nie).

Nou ja, Majoor Smit was een van daai offisiere wat sy sektor met ‘n ystervuis regeer het. Hy’t ‘n doodse vrees ingeboesem teenoor almal wat met hom te doen gehad het. En as hy iemand uitgevang het wat iets verkeerd gedoen het, is dié ongelukkige drommel sommer vinnig en sonder seremonie kilometers van die naaste basis afgelaai met net ‘n waterbottel, geweer en twee rondtes ammunisie. Moet dan maar self en op sy eis sy pad terugvind basis toe.

Majoor Smit was in ‘n basis gestasioneer wat as Fox-Fox bekendgestaan het. Nou as enige persoon (maak nie saak of dit ‘n troep, onder-offisier of offisier was nie) aan Fox-Fox sou gaan besoek aflê (iets wat mens by default soos die pes vermy het), was daar ‘n hele boek vol reëls wat nougeset nagevolg sou word. Soos in jy SAL jou voertuig buite die basis parkeer. En jy SAL behoorlike marsjeer, arms skouer-hoogte en jou wapen behoorlik aan jou sy. En jy SAL enige offisier behoorlik salueer. Ens. ens. ens.

Ek-self was as onderoffisier so ‘n klompie kilometers van Fox-Fox af in ‘n ander basis gestasioneer. En een betrokke dag gee my bevelvoerder vir my ‘n opdrag om ‘n sein per hand aan Majoor Smit te gaan oorhandig. Seker gedink ek sal ‘n goeie indruk daar gaan maak. Hoe dan nou anders?

Ek’t spesiale aandag gegee aan my uniform, my bootse was blink en my knope almal behoorlik vas. So vat een van ons drywers my Fox-Fox toe met ‘n Buffel.

Daar aangekom is die Buffel buite die hek parkeer, ek is daar af en begin toe die lang marsjeer na die Ops-Kamer toe. Wat ek nou ook nie helemal seker is van waar presies dit is nie.

Soos ek vroeër genoem het, die basis het behoort aan die Suidwes-Afrika Gebiedsmag. Presies dielde rangstuktuur as hulle Suid-Afrikaanse eweknieë, maar die rang-kentekens was so bietjie anders en mens moes altyd baie mooi kyk om die range van mekaar te onderskei. Maar ten minste het ‘n korporaal nog steeds twee strepe gehad, ‘n luitenant een of twee sterretjies op die skouer en die majoor een kasteel. Ensovoorts. Maar soos ek sê, mens moes maar mooi kyk om nie ‘n dalk ‘n fout te maak nie.

Anyhow, daar is ek toe aan’t marsjeer op soek na iemand wat my kan wys waar om Majoor Smit in die hande te kry. Loop en swaai die regter-arm mooi skouer-hoog, druk af op die duim. Maag in, bors uit. Geweer netjies geskouer. Soos wat dit nou ‘n ordentlike paraatvraat korporaal betaam.

So ‘n paar honderd meter in die basis in, sien ek ‘n Swa-Gebiedsmag 2e luitenant onder ‘n boom staan en rook. Sommer so slapperig lê die ou so half teen die boom. En ek dink by myself dat as Majoor Smit hom so sou sien sou daar net stront wees. Hoe dan nou anders?

Maar ek laat my nie van stryk bring nie. Ek wyk so effens af, en marsjeer reg op die luitenant af. Maak ‘n halt voor hom dat die naaste tent tril soos wat ek my boot se hak in die grond inkap. Salueer, o, so pragtig. Die donnerse luitenant salueer nie eens terug nie, maar ek laat my nie van stryk bring nie:

“Goeiemôre, Luitenant!” groet ek. “Ek is Korporaal XXX van Golf-Fox, en ek is dringend op soek na Majoor Smit!”

Die luitenant se oë trek op skrefies en die antwoord kom sag, snedig en venynig tussen sy saamgeperste lippe deur:
“Goeiemôre, Korporaal… Ek IS Majoor Smit. Nou f@k jy uit my basis uit, f@k terug na waarvandaan jy kom en volgende keer ken jy ons rangstruktuur behoorlik!…”

My gesig is bloed-bloedrooi. Omkeer, marsjeer, terug na die Buffel toe wat voor die hek wag. En kannie glo dat ek die fout kon maak om die majoor se kasteel op die skouer te verwar met ‘n luitenant se sterretjie nie. Die donnerse Swa-Gebiedsmag !

As ek aan van die most embarresing moments van my lewe moet dink – ek is seker hierdie ene sal ten minste in die top-5 wees!

Tot volgende keer…

2 comments:

Anonymous said...

ek kan aan 'n paar ander baie erger embarrasing oomblikke dink van jou .....

en wat is dit die : uitgervang : EAT ?

Anonymous said...

Ja, soos hulle sê, jy slaan nie jou naam met 'n plank nie, jy moer hom sommer met die hele Wendy Huisie.