‘n Wyse man het eendag gesê: „Waar daar ‘n deur voor jou toegaan, maak ‘n ander ene weer voor jou oop.“ (OK, miskien was dit nie ‘n wyse ou man nie, dit kon Ma-E gewees het of selfs oorle Ouma-W, maar dit maak nie nou regtig saak nie). Wat belangrik is, is dat iemand dit wel eendag gesê het, en dat ek nou daaraan sit en dink.)
In my lewe het ek ook al met baie deure te doen gehad. Soms sulke kleintjies wat ongemerk oop- en toeglip, ander weer verwoede groot staalkonstuksies wat reg in jou gesig voor jou toegemoer word sodat jy net sterre sien flikker en bloed voel spat. En jy wonder of jy ooit weer uit die donker doolhof van geen uitgang sal kan ontsnap.
Maar tog is daar altyd ‘n liggie iewers in die verte, wat nie noodwendig die spreekwoordelike stoomtrein is nie. Jy moet maar net die pyn ignoreer, stock vat van jou gekrenkte ego, voortgaan met jou lewe, en jy sal weer op een of ander manier daar uitkruip. Dis seker wat die ou ooms met die wit jasse en die dik brille "destiny" noem.
Toe die deur van ‘n sprokies-lewe saam met ‘n pragtige, jong handbriek jare gelede voor my oopgegaan het, was die lewe mooi en rooskleurig. Maar ek het seker opgeslip deur nie die „something borrowed“ en „something blue“ saam te vat troue toe nie, want kort voor lank het daai deur toegegaan. Darem nie te hard nie, so stelselmatig dat jy dit nie eens agterkom nie. Tot die damn ding dig-toe en gesluit was.
Maar die deur wat toe weer oopgaan, was die geboorte van die pragtigste baba-dogtertjie, volmaak in alle opsigte. Nou reeds 16 jaar gelede. Die toe deur van ‘n op-die-rotse-huwelik het aanleiding gegee tot die oop deur van die pragtige opvoeding wat my meisiekind saam met haar ma en dié se nuwe man kry. Van dag een af, tot vandag toe. En ek sal vir die res van my lewe dankbaar wees daarvoor.
‘n Deur wat voor my oopgegaan het in my tyd van los-hotnot, is die deur van my vriende. Min, maar opreg. Soms maak mens sekere vriendskaps-deure self toe, want in elke mens se lewe is daar keuses. Of dit wel die regtes was, sal ek seker nooit weet nie.
Deure is deel van die konstruksie van die lewe. Ek hoop maar net dat die deure wat ek self moes toemaak, die regte keuses was. En dat daardie waaroor ek min of geen beheer gehad het nie, ‘n positiewe effek op my lewe of op dié van iemand anders sou gehad het.
„Waar daar ‘n deur voor jou toegaan, maak ‘n ander ene weer voor jou oop.“ Maar as jy die ding voor my toemaak, doen dit net mooi saggies, toe?
Tot volgende keer…
1 comment:
Jy is so reg.
Partykeer moet mens die bul by die horings gryp en die deur sommer toebliksem want geen deur kan met alle mag oopgehou word nie. Mens kan probeer en probeer maar as die deur toegemaak wil word, dan sal dit. Dit is net baie moeilik want dit beteken jy gaan self die oorsaak wees dat die deur toegeslaan word. Dus hou mens maar aan om die deur oop te skop want elke deur verteenwoordig soveel aangename herinneringe.
En soms moet mens maar net terugstaan en kyk hoe word die ding toegebliksem in jou gesig. En dan moet jy buig en se dankie vir alles wat nice was. After all, great memories will last forever.
Post a Comment