Friday, June 5, 2009

Yebo Gogo

‘n Hele klompie verskillende insidente het aanleiding gegee tot hierdie blog. ‘n Laat-aand program op Radio-702 oor die rol wat huishulpe in die lewens van sommige van hulle luisteraars gespeel het, my eie terug-dinkery aan my ‘jong dae’ (hahaha) en sommer so ‘n paar blogs wat ek hier en daar gelees het. So die onderwerp gaan vanaand oor huishulpe.

Ek krap nou die dag daar in so ‘n houertjie in my bedkassie, en kom op ‘n blikkie groen Biko-salf af. En daar sit my gedagtes op loop na myself as klein seuntjie. Onthou, ek is gebore in die jare sestigs, die dae toe apartheid en die gepaardgaande diskriminsasie teen anderskleuriges nog hooggety gevier het in ons land, en veral op die plattelandse dorp waar ek grootgeword het.

Ek kan nie onthou presies wanneer Rosie (uitgespreek soos die Engelse Roos-blom se Afrikaanse verkleinwoordjie) by ons begin werk het en hoe oud sy alreeds daai jare was nie. Maar sy was maar oud vandat ek kan onthou. Op ‘n stadium toe ek seker so 3 of 4 jaar oud was, het Pa-G uiteindelik ingestem dat Ma-E so eenkeer ‘n week ‘n huishulp mog kry. Daardie tyd natuurlik nie ‘n huishulp genoem nie (verstaanbaar) – maar ek glo in die trant van die veranderde tye, so ek sal maar polities korrek gesels.

Pa-G het sekere onverbiddelike reëls as voorwaardes voorgehou, en seker maar aanvaarbaar vir daai politieke klimaat. Rosie moet haar eie (duidelik gemerkte) beker, bord, mes en vurk hê wat in die agterstoep se kas gebêre word. Sy mag nie vir haarself kos maak nie, Ma-E sal vir haar iets gee om te eet. Sy moet die buite-toilet gebruik, daar mag nie geld in die huis rondlê wat sy dalk kan vat nie, ens. ens. ens.

Rosie was nie geletterd nie, en kon dus nie lees of skryf nie. Maar ek glo dat sy ‘n eie-wêreldse en onuitputbare bron van kennis gehad het. Sy het nooit ophou praat nie. As daar niemand in die nabyheid was nie, dan sommer so met haarself. En vir my en Suster-T was sy maar altyd ou Rosie gewees wat ons altyd met deernis soos haar eie kinders behandel het.

Toe ek seker so sewe or agt jaar oud was, probeer ek een Sondag-middag by my neef-hulle op ons buurdorp my talent op ‘n skate-bord op die proef stel. En ek verloor op ‘n afdraand my staan op die verdomde ding en val my knieë albei totaal nerf-af. As ek net bietjie ouer was en ‘n vloekwoord of twee geken het, sou ek hulle opsluit almal gebruik het. Maar ek was ‘n soet laaitie en het nie gevloek nie, net in trane by Ma-E gaan simpatie soek.

In die komende dae het Ma met al wat room en salf en boere-raad was probeer om my knieë gesond te kry. Dis ‘n pleister hier en ‘n treksel daar. Maar net sodra die rowe mooi vatkans beginne kry, dan val ek weer en dis van vooraf ‘n bloedspul en ‘n gekerm wanneer Ma-E moet verbind en die seer probeer wegkry.

Tot Rosie weer so ‘n week of later kom werk en sien dat ek nie sonder behoorlike hulp gaan regkom nie. En sy belowe dat sy sommer die volgende dag (al moes sy nie kom werk het nie) iets gaan bring. So gesê, so gedaan. En net die volgende dag kom sy daar aan met ‘n blikkie Felafom-poeier en ‘n blikke Biko-salf. Verduidelik dat dit iets is wat net in die townships gekoop kan word. Ma-E, heel skepties, maar teen hierdie tyd desperaat, meng die poeier en die salf en smeer maar aan. En dit was net ‘n dag of twee later, en die rowe het gevat en my knieë was gesond. Van daardie dag af was Felafom-poeier en Biko-salf twee onmisbare items in ons huis se badkamer-kassie. En die blikkie in my bedkassie is na al die jare steeds op bystand vir wat-ook-al wanneer ook al nodig. Nog net so potent soos daai tyd. G’n iets soos ’n vervaldatum nie!

Rosie het soos die jare verbygegaan het, al minder en minder kom werk. Haar gesondheid en die harde lewe in die townships moes haar op ‘n stadium ingehaal het, en sy is weg na haar Huis toe, net soos sy altyd vir ons vertel het sy sou gaan.

Na Rosie, het Eunice by ons kom werk. Statig, netjies, deeglik en stil. (Na Rosie is enige mens stil). Vir Eunice was my pa maar altyd Baas, en ek was Kleinbaas. Die dag toe my Pa sy kop vir die laaste keer neerlê, het Eunice soos ‘n kind gehuil. En dit was op die dag van my pa se begrafnis, wat Eunice my vir die eerste keer ‘Baas’ begin noem het. Ek het nog probeer verduidelik dat daai dae vergete al verby is, maar sy wou niks weet nie. Vir haar is ek nou nie meer ‘n kind nie, en moet ek nou my pa se skoene volstaan. En die respek wat Eunice my daardeur bewys het, sal ek altyd duisende male aan haar terug-bewys, gegewe die geleentheid.

Eunice werk vandag nog vir Ma-E. Steeds eenmaal per week. En wanneer ek gaan kuier is sy tog so bly as sy my klere ook kan was en stryk met dieselfde deernis wat sy dit gedoen het toe ek nog in die huis was.

So het die tyd verbygegaan en ek het naderhand Gauteng toe getrek. Eerste huis gekoop, en Mirriam kom so nou en dan vir my en Handbriek-1 werk. En later word Mirriam swanger. Haar man is in Pietersburg, en toe die tyd daar is vir die baba, gaan Mirriam hier na die plaaslike staats-hospitaal toe vir die bevalling. Ek het al amper van haar vergeet, toe my telefoon eendag by die werk lui. “Dis Mirriam, jy moet my nou by die hospitaal kom haal!” Geen keuse nie, ek klim in my bakkie en sit af Ontdekkers-hospitaal toe. Stap die trappe op kraamsaal toe, en daar staan Mirriam gereed. Kind op die arm, klere-koffer langs haar. Ek moes maar die tas optel en saam met haar uitloop bakkie toe. Die skewe kyke wat ek daai dag van menigte vreemdelinge se kant af gekry het, sal ek nog vir baie lank onthou, want dit was pre-1994.

So koop ek op ‘n stadium die huis waar ek nou bly, en daar is toe ‘n huishulp en dié se man wat nog sedert die vorige eienaars in die buite-kwartiere aanbly. En ons bereik toe die ooreenkoms dat sy een dag per week in die huis gaan werk vir haar kamer, saans die kombuis opruim en haar man sou een dag per week in die tuin werk. Vir sy deel van die buitekamer.

Ek kan nie hierdie huishulp se naam meer onthou nie, want sy en die man was nie baie lank hier nie. Maar kom ons noem haar sommer Josefien. Sy was nie meer ‘n kind nie, seker so in haar laat-50s. En ek was maar skrikkerig vir haar, want sy het gesê presies wat sy wou, en sy was ook maar nooit tevrede met niks sedert die vorige huis-eienaars hier fort is Kaap toe nie. Maar die volgende gebeurtenis met ou Josefien sal my seker tot die dag van my dood toe bybly:

Daai tyd was ek en Handbriek-2 nog verlore in die groot liefde – ek het immers die huis gekoop sodat ons saam hier aan ons toekoms kon begin werk. (Foutjie, maar dis nie nou se storie nie.)

In alle geval, een vroeg-aand is ons maar almal hier by die huis rond – ek, Handbriek-2 en Josefien. Handbriek-2 aan die een kant van die huis in die studeerkamer, ek heel aan die ander kant in die kamer, en Paulina iewers in die middel in die kombuis, besig met die aand se skottelgoed.

Ek bel toe vir Handbriek-2 op haar selfoon en sê vir haar sy moet vinnig kamer toe kom om gou na iets te kom kyk. En ek kruip agter die kamerdeur weg om haar skrik te maak.

Ook net sekondes later, toe hoor ek die mat-gedempte voetstappe in die gang afkom, reguit na die kamer se kant toe. En toe Handbriek-2 so reg in die deur is, toe spring ek met ‘n verwoede “WHAAAA“ agter die deur uit en gryp haar om die middel. Sy spring reg-afteroor van skok en ek val heel ander kant toe van my eie skrik, want dis toe nooit Handbriek-2 nie. Dis Josefien. Sy’s skoon blank geskrik en ek kan vrek van skaamte. En Handbriek-2 kom daar in en dié lag haarself buite weste. En net daar vervies Josefien haar opsluit vir ons lawwe-geite en kondig twee dae later aan dat sy teruggaan na haar mense in Mafeking toe. Ek kan nie eerlik sê dat ek haar ooit gemis het nie.... (Ek het haar en haar man darem Mafeking toe gevat met my rooi BMW en die Venter agterna wat gepak was soos nooit tevore nie. Enige iets van ‘n boekrak tot 30 wasskottels, ‘n matras en ‘n ou fiets of twee. Ek het my amper dood geskaam, maar wat kon ek doen? Netnou kla Josefien my aan vir sexual harassment na die groot skrik en die hande om die lyf tydens die ou voorvalletjie as ek haar nie wou wegvat huistoe nie.

Ek kan nog baie stories vertel, maar dit raak laat. Ek hoop jy’t die blog geniet en dat jy saam met my dankbaar is vir die baie klein dingetjies wat ons huishulpe deur die jare deur vir ons gedoen het. Hulle is nederig, werk hard en raak regtig ‘n deel van ons lewens.

Tot die volgende skrik...

1 comment:

Kerneelsie said...

Laat jy my nou skielik verlang na Paulina. Sy was my tweede ma toe ek so ses jaar oud was.
Maar ek he haar nooit probeer skrik maak nie. hehehe
Lekker gelag