Gesels ek nou die dag met my groot Sharks-neef-L daar uit KZN se wêreld en ek gee hom my blog-adres. Hy is toe nie van hier nie, en stel voor dat ek bietjie skrywe oor die goeie ou dae van Springbok-radio. En daar sit my gedagtes natuurlik weer heeltemal op hol na tye wat voel soos ligjare in die verre verskiet van die verlede in.
Sien, Ma-E het noot gewerk nadat sy en Pa-G getroud is nie. Vrouens se geroepe plig was om die huis skoon te hou, kinders groot te maak en kos te kook. En dit was goed en reg vir daai dae. Ma-E het haar uitstekend van haar taak gekwyt. Want wanneer ek en Suster-T van die skool af kom, was daar net tyd vir skoolklere uittrek, iets eet, en dan was dit tyd vir ons skoolwerk. Tot alles klaar was en dit tyd was vir Pa-G om van die werk af te kom.
Daar was in daai dae ook nog nie so baie buitemuurse aktiwiteite nie, en ek was maar mos nooit regtig ‘n groot sport-man nie, so ek het my middae tuis voor die boeke deurgebring. SKOOL-boeke. (En darem die odd stout-boek of twee wat iewers tussen my bed se matras en springe weggesteek is.) Maar dis nou nie ‘n tipe literatuur waaroor mens blog nie. Mens weet nooit wanneer Ma-E dalk so op haar oudag rekenaar-gekletter raak en sy dalk my blog lees nie. Want dan gaan my gat brand, al is dit in die orde van 35 jare gelede waarvan ek nou praat.
Anyhow, met skoolvakansies was dit ‘n heel ander storie. Letterlik. Want dan was ons toegelaat om smiddae so van net voor drie af Springbok-radio te luister.
Ek kan nou nie meer die stories se name en gepaardgaande tye so mooi onthou nie, maar ek dink so in die orde van kwart voor drie was daar ‘n storie tot kwart oor drie, dan van kwart oor drie tot kwart voor vier, en die laaste ene van kwart voor vier tot vier-uur toe.
Sharks-neef-L noem “Die Geheim van Nantes“, en dit lui groot klokke. Ander name wat ek uit die vergete kan onthou is “Die Volmaakte Uur”, “Die Wild-temmer”, “Uit die Skatkis van ons Skrywers”, “Wolwedans in die Skemer” en “Die Vrou van Shangetti”. En ek, Suster-T en Ma-E het voor die radio vasgenael gesit en stories geluister. G’n ding soos buite gaan speel nie, want Ma-E het begryp dat skoolvakansies en Springbok-radio-stories hand-aan-hand gaan.
En na afloop van die stories, wanneer Pa-G se klomp klokke vier-uur slaan, dan was dit tyd vir Esmé Euvrard and Jan Cronje se radio-rubriek, “So, maak Mens“. En die inleiding was middag na middag, elke dag, iets as volg:
“Dis nou presies vier-uur op Springbok-Radio en tyd vir ... So, maak Mens. Ja, hier is die twee ou radio-vriende weer met inligting, musiek, ‘n resep, en sommer van alles en nog wat. So, maak Mens.“
En dan het Esmé en haar man, Jan, voortgegaan met hulle program (wat ek dink net vyftien minute lank geduur het.) En elke middag, tydens die verloop van die progam het hulle ‘n resep met die luisteraars gedeel. Wat ek nooit sal vergeet nie, is dat elke (en ek bedoel ELKE) reël van die resep herhaal is sodat luisteraars dit maklik kon neerskrywe. (Daai dae was daar natuurlik nog ’n Internet waar mens sommer gou die resep kon gaan aflaai en print nie.) So die verloop van die resep was dus iets as volg:
Esmé: “Vandag gaan ons Mev. Soekie de Swardt van Sasolburg se heerlike handtertjies maak. Ons hoop julle het die skryfgoed gereed, want hier gaan ons. So, maak Mens.“
Esmé: “Bestanddele: “
Jan: “Bestanddele: “
Esmé: “1 koppe meel“
Jan: “1 koppie meel“
Esmé: “1 pond botter“
Jan: “1 pond botter“
Esmé: “1 koppie suiker“
Jan: “1 koppie suiker“
Esmé: “1 blik kondensmelk“
Jan: “1 blik kondensmelk“
Esmé: “1 knippie sout“
Jan: “1 knippie sout. “
Jan: “So maak mens: “
Esmé: “So maak mens: “
Esmé: “Room die botter, meel en suiker saam“
Jan: “Room die botter, meel en suiker saam“
Esmé: “Voeg die blik kondensmelk by“
Jan: “Voeg die blik kondensmelk by“
Esmé: “Klits die eier tot romerig“
Jan: “Klits die eier tot romerig“
Esmé: “Vou geklitste eier by die meel-mengsel“
Jan: “Vou geklitste eier by die meel-mengsel“
Esmé: “Bak in gesmeerde bak teen 108 grade tot goud-bruin“
Jan: “Bak in gesmeerde bak teen 108 grade tot goud-bruin“
En so het dit middag na middag aangegaan. Ek het altyd gewens dat Jan eendag in ‘n swartgallige bui moet wees en iets aan die resep sou verander. Soos:
Esmé: “Vou geklitste eier by die meel-mengsel“"
Jan: “Bliksem die geklitste eier in by die meel-mengsel en skop die hond onder sy gat as hy onder jou voete is.“
Maar dit het nooit gebeur nie. Esmé en Jan was helemal te ordentlik.
Heeltemal te vinnig was die radio-tyd om, dit was kwart-oor vier en dan moes ons kinders buite gaan speel totdat dit tyd was vir Pa-G om huistoe kom.
En nog vinniger was dit die einde van die skoolvakansie en was daar nie meer die luxury van Springbok radio se soapies en "So, maak Mens" nie. Ons het daai eerste week na die vakansies gehaat! Want Ma-E het haar werk so beplan dat sy steeds haar radio-soapies kon luister, maar ons moes kamer toe gaan om te gaan leer. En ek om oor my stout boeke te gaan kwyl. Sonder Ma-E se medewete natuurlik.
Dit was goeie ou dae daardie. Daar was nie issues nie en die stress van die lewe van ’n volwassene was nog nie deel van ons bestaan nie.
Die Springbok-radio stories, Esmé en Jan se „So Maak Mens“ en al die ander lekkerte van kindwees het agterweë geraak toe Springbok radio toentertyd (ek dink in 1985) van die lug af is.
En ons het grootgeword. TV het die plek van die radio kom ingeneem en die dae van kind-wees is vir altyd verby. M-Net se Egoli en SABC-2 se Sewende-laan het Die Geheim van Nantes en die Wild-temmer ingeneem en die lewe kan nooit weer dieselfde wees nie.
Dit was lekker dae daai!
Tot volgende keer...
1 comment:
hehe hoe word ek nou terugtgevoer na die saterdag laataande met Springbok Radio se top 20, en die klein mobiele tapemasjientjie - en jy tape gou elke nuwe hit, met so min as moontlik gepratery van die aanbieder tussenin.
En "Sqaud Cars" : They prowl the empty streets at night.."
Post a Comment