Ek's nie 'n groot sport-fan wat naweek na naweek voor die TV kan sit en couch-potato speel nie. Tensy dit natuurlik 'n Absa Currybeker eindstryd is wanneer die Blou-bulle die Sharks, Stormers of die Cheetas tot in die grond in vermorsel. Of as iemand my nooi vir 'n lekker potjie of braai en rugby ingesluit moet wees by die kuier. Maar ek gaan vir die kuier en nie vir die sport nie. En ek kyk maar saam en probeer my bes om die regte geluide op die regte tye vir die regte span te maak.
Anyhow, so raak ek die afgelope week of twee bewus van 'n groot opgewondenheid onder sommige van my vrinde wat skielik na afloop van hulle laat-middle-age begin het om ernstige bikers te word. Dis net biker-baadjies met badges en spotlights en trailers en rallies. Hulle praat van cages en handbrieke en niemand weet wat nog alles nie. En hoe kleiner hulle totties krimp weens die ouderdom, so word die bikes in proporsie groter. Ek gaan nie Vriend-C (Aka Biker-dinge) se naam spesifiek noem nie, want ek wil hom nie graag affronteer nie. Maar hy sal weet ek praat van hom. En van ander Vriende Abe en Peet en Dewald en talle ander.
So lees ek tussen die lyne deur dat daar by ons eie Suid-Afrikaanse Kayalami in Midrand een of ander verwoede super-bike wedren gaan plaasvind gedurende die naweek van 15-17 Mei. En die bikers raak soos weeskinders wat ’n gemufte sny brood onder die bed opgetel het van puur opgewondenheid. Daar word verlof ingesit vir die oefen-rondtes op die Vrydag, Saterdag word opgeoffer vir die tydrenne en Sondag gaan almal vasgenael sit voor die kassie, want hulle kan seker nie die kaartjies se astronomiese kostes bywerk nie. Middle-age beteken mens het ’n bike, nie noodwendig geld nie.
Ek ek besluit dat dit nou tyd is dat ek ook deel word van die groot Bike Hype. En toe die TV-lounge se klok Sondag-middag 12 slaan, is ek gereed in my kamer, pens en pootjies onder die duvet en die TV is aan met die volume lekker hoog. En die wedren begin.
En die manne jaag. Om en om, 'n volle 24 rondtes lank. En ek cheer vir die ouens in die eerste en tweede plekke, en skaam my vir die Suid-Afrikaners wat hier in die agterste gestoeltes aankruie. Amper soos 'n Suzuki V-Strom 1000 om die Oos-Transvaalse 19 km se draaie. En besluit dat wanneer die middel-age my eendag beedpak, ek vir my 'n Katana 1000CC superbike gaan koop, want hulle wen toe sommer so lag-lag beide die eerste en tweede posisies. (Ek kan nou nie mooi onthou of dit 'n Katana of Dukati is nie - ek weet net daar is 'n kat daar iewers in - so kom ons settle maar vir eersgenoemde). En toe hulle verby die swart-en-wit wen-vlag ry, toe spring hulle spanlede op en af en omhels en soen en hê amper seks met mekaar daar in die openbaar van pure blydskap. En ek juig saam met hulle daar onder my duvet. Sonder die amper seks gedeelte natuurlik. Want dis immers Sondag en my my ma het my geleer dat mens jou op 'n Sondag stemmig moet gedra.
En toe kom die goeie nuus:
Dit was maar net wedren een! Wedren twee gebeur later die middag. En ek WEET dat ek daai ene vir geen geld in die wêreld gaan mis nie. Want as daar nou een nuut-gevonde super-bike wedren entoesias is, is dit ekke daai.
Sien, die jaers voel nou al soos familie wat ek gereeld sien en baie goed ken. Veral die Japsnees (kan nou nie meer sy naam onthou nie) wat gewen het. En ek voel hier diep uit my hart uit vir hom oor die ongeluk met die duiwe tydens die vorige wedren en is saam met hom bly oorlat sy posisie in die kampioenskap nou soveel verbeter het. En sit sommer so virtually al my spaargeld op hom vir die tweede race.
Natuurlik is daar toe nog eers ‘n ander resies voor die groot manne se tweede wedren. 600CC masjiene, en ek knip maar so hier en daar ‘n vinnige uiltjie onder my duvet, want my favourites is mos die GROOT masjiene. Meer spesifiek, die rooi Nasua Katanas. En hulle manne wat soos my eie bloed-familie geword het en wie ek sommer sal soengroet as ek hulle dalk eendag iewers sou raakloop.
Toe ek weer so ‘n slag knap na die 600CC wedren wakker-word, sien ek dat ek net mooi betyds is. Want die GROOT manne line op met net 5 minute om te gaan. En ek gaan was gou my gesig en sit regop en berei myself geestelik, fisies en emosioneel voor vir die wedren waarna ek al die afgelope 2 ure lê en uitsien, terwyl die manne se helpers hulle Wheely-Warmers afhaal. En ek dink daaraan dat my Jeep darem nie ’n Wheely-Warmer nodig het nie, maar met die Winter wat so vinnig op ons is, moet ek dalk in ’n Willy-Warmer belê. En ek wonder waar kan ’n man so iets te kope kry sonder dat die verkoopsdametjies te veel vrae vra oor grootes en kleure ensovoorts.
Anyhow, die groot manne spring daar weg. 24 Rondtes van pure adrenalien. En ek cheer en ek hou asem op en hou my oë net op die twee Katanas, wat bykans net so goed doen soos in die eerste wedren.
Met net nege rondtes oor, lui my selfoon, maar ek kan nie bekostig om enige van die aksie te mis nie, want die spanning loop nou ultra-hoog. Vriend-W van die Oos-Kaap moet maar ‘n boodskap los. Met die finale rondte kom die aksie tot ‘n hoogtepunt en ek kou my toon-naels af tot in hulle wortels. (Vingernaels het reeds in die slag gebly met wedren nommer een).
En Japsnees nommer 41 (of is dit nou 49?) met die rooi Katana kry sowaar weer die wen-vlag. Met my favourite nommer twee kort op sy hakke net soos met wedren nommer een. En ek lag en ek pik ’n ekstase-traantjie af en ek cheer en ek juig so op my eis daar onder my duvet.
En die kamera se hoek verskuif na die Katana-Nashua se spanlede se kant toe. Hulle spring op en af en omhels en soen en hê amper seks met mekaar daar in die openbaar van pure blydskap. Net soos na die eerste wedren. Om meer korrek te wees, PRESIES soos na die eerste wedren. Soos perfek ingeoefende choreografie, alles op presies dieselfde oomblik: Die omhelse, die spronge, die lag, die amper-seks.
En ek ruik lont. Want ek ken poef en ek ken modder, en hierdie is g'n stuk modder nie. En daar strike dit my: Ek het sopas wedren EEN se re-play gesit en kyk, sonder om dit agter te kom tot na die einde…
En ek raak dood, doodstil…
Ek kan nie wag vir die volgende race nie. Ek dink dis iewers in Amerika. In Salt Lake City. Or twee weke...
Tot dan...
3 comments:
gmf.
Daar is 'n paar korreksie nodig hier :
- Dit is die sogenaamde "twenty one k's" in die Oos-Transvaal en nie 19 nie
- die DUCATI's het gewen (jinne, dit is darem 'n GLOBALE fout)
- en my tottie word net baie kleiner as ek dit in die helfte vou.
gmf.
Ek het nou eers ALS kom opvang wat ek die afgelope 6 jaar nie kon lees nie.
Jy is skreeusnaaks. hehehe
Igno: Dankie vir die korreksies - I rest my case oor my sport-kennis. MAAR: Die tottie-ene is nie 'n fout nie - feite is feite... LOL. Lekker dag daar!!
Kerneels, welkom terug man - altyd lekker om van jou te hoor - en ja, ek volg julle blogs daagliks met 'n valk-oog... sal bietjie begin om kommentaar daar ook te lewer. . . Geniet die Suide!
Post a Comment