Wednesday, May 13, 2009

Hospitalisasie 101

Ek’s onlangs die betwyfelenswaardige voorreg gegun om vir vyf dae in een van ons stad se plaaslike hospitale opgeneem te moes word.

Ek het sowat 17 jaar gelede by presies dieselfde hospitaal ‘n rug-operasie ondergaan en ’n enkele jaar later is my pragtige Dogter-M daar gebore (wat klinkende bewys is van die feit dat die rug-operasie ‘n groot sukses was).

Daardie tyd het die hospitaal getuig van uitstekende diens, dit was amper te lekker daar om weer huistoe te moet gaan na afloop van behandeling.

Hierdie keer was ek ongelukkig tot in my siel geskok oor die blatante swak diens en versuiming van pligte van bykans al die personeel. (Uitsluitend dokters, teater-personeel en narkotiseurs wat my behandel het). As dit die manier is waarop ons vir almal bewys lewer van ons groei oppad na ’n eerste-wêreld land, laat sak ek eerder net my kop in skaamte.

Meer oor my:

- -- Ek is nie ’n ‚demanding’ pasiënt nie.

- -- Ek is baie dankbaar vir enige goeie diens en vir die hulp om my mediese probleem aan te spreek.

- -- Ek haat dit om verpleeg-personeel aanhoudend te pla deur kort-kort die klokkie langs die bed te druk.

- -- Ek kla nie maklik nie.

- -- Ek het begrip vir die feit dat verpleeg-personeel nie behoorlik betaal word vir die werk wat hulle doen nie.

- -- Ek probeer altyd om ’n opgeruimde en ‚maklike’ pasiënt te wees.

Al waaraan ek kan dink, is dat hierdie spesifieke kliniek al hulle personeel op die volgende Hospitalisasie 101-kursus stuur alvorens hulle aan diens van enige aard mag gaan.

Hier volg nou die kurikulum wat elke personeellid op die punte van hulle vingers moet ken:

1: Pre-opname: X-straal departement

1.1: Gee die pasiënt sommer so met die intrapslag ’n moerse lang vorm om in te vul met ’n pen wat nie behoorlik kan skryf nie, weens die feit dat dit soos ’n sirkus-olifant met ’n heeltemal te kort ketting aan die klip-bord vasgesweis is. Natuurlik om regstellende pen-verduistering te probeer voorkom.

1.2: Laat die pasiënt vir ten minste 10 minute wag, ten spyte van die feit dat hy in ooglopende pyn en ongemak voorkom.

1.3: Neem die pasiënt na ’n klein 1 by 2 meter aantrekkamertjie en gee opdrag dat hy al sy klere moet uittrek, die verskafte japon moet aantrek en moet wag.

1.4: Laat die pasiënt vir ten minste 20 minute wag, loer dan om die gordyn en vra omverskoning vir die lang wag, klaarblyklik as gevolg van een of ander krisis elders op die vloer.

1.5: Laat die pasiënt vir nog ten minste 10 minute wag.

1.6: Handel die ondersoek af soos deur die huisdokter aangevra.

1.7: Sê die pasiënt aan om sy klere aan te trek en dan weer voor by ontvangs te gaan sit en wag.

1.8: Laat die pasiënt vir ten minste 30 minute in die beknopte ontvangs-area wag, ten midde van ’n massa ander hoessende, kreunende, poepende en steunende pasiënte.

1.9: Maak seker dat daar ten minste 2 moeders is met jillende en gillende kleuters. Dis altyd goed om geraas-vlakke op hoë standaard te hou.

1.10: Ignoreer die uitdruklike versoek van die huisdokter om hom te skakel sodra die uitslae uiteindelik bekend is.

1.11: Faks op aanvraag van die pasiënt die uitslae aan die huisdokter en maak seker dat niemand enige inkomende oproepe neem wanneer die huisdokter terugskakel met verdere opdragte nie.

2: Hospitaal-opname:

2.1: Laat die pasiënt ’n verskriklike lang vorm invul met inligting wat julle sekerlik iewers op ’n rekenaar behoort te hê na afloop van sy vorige besoek aan die hospitaal.

2.2: Maak seker dat ten minste 80% van al die inligting op die vorm meermale onder verskillende hoofde ingevul moet word.

2.3: Laat die pasiënt vir ten minste 30 minute sit en wag, terwyl julle die opname-dokumentasie voorberei en afhandel.

2.4: Moet nooit die pasiënt enige idee gee van hoe lank hy nog moet sit en wag nie.

2.5: Daar mag slegs een persoon by die ontvangs wees, sodat mense met net ’n eenvoudige vraag geduldig hulle beurt moet afwag.

2.6: Snuif. Tissues en toiletpapier is duur en word nie deur pasiënte gesubsidieer nie. Hospitale is trouens daar vir siek mense.

2.7: As iemand ’n eenvoudige vraag vra soos waar ’n pasiënt homself bevind, skarrel verward deur elle-lange lyste van rekenaar-drukstukke, wys die vernemende persoon dan in die algemene rigting van sale A, B, C, E en Kraam.

2.8: Moenie vergeet om net gou weer ’n slag te snuif nie.

2.9: Wanneer jy einde ten laaste die pasiënt se leêr gereed het, maak seker dat daar ’n belangrike fout in is, (soos die pasiënt se eerste naam of van). Dit verseker dat die saal-suster die leêr kan terugstuur ontvangs toe om die fout reg te stel. (Sien Regstellende Hospitalisasie Werkverskaffings Metodiek 101; nie ingesluit by hierdie kursus nie.)

2.10: Moet glad nie verstaan waarom die pasiënt so uiters ge-irriteerd voorkom nie en bied zero verskoning aan vir die swak diens en die lang gewag om alles in orde te probeer kry.

2.11: Verseker dat daar ter enige tyd slegs genoeg opname-klerke aan diens is om net sowat 10% van die volume van inkomende pasiënte te kan hanteer. Dit is om die tyd soos genoem in 2.3 hierbo tot die maksimum te kan eskaleer.

3: Saal-opname:

3.1: Stuur die pasiënt se leêr terug ontvangs toe om die fout soos gemaak in 2.9 hierbo te laat regstel. Sê die pasiënt aan om solank te wag.

3.2: Wanneer jy vir die pasiënt eventueel ’n bed aanwys en jy weet dat hy met ’n nier-steen probleem opgeneem word, maak seker dat dit ten minste 30 meter van die naaste gemeenskaplike toilet af is (wat natuurlik nie snags skoongemaak word nie...).

3.3: Wys die pasiënt se bed aan en vra hom om te wag. Moet geen idee gee van wat hy in die tussentyd moet doen nie (behalwe om te wag natuurlik) en verdwyn in die gang af.

3.4: Keer later terug en moenie begrip toon oor waarom die stomme pasiënt verward, in pyn en heeltemal verskrik soos ’n haas in jou motorligte op ’n kronkelende plaaspad voorkom nie.

3.5: Gee die pasiënt nog ’n elle-lange vorm om in te vul. Maak seker dat die oorgrote meerderheid van die gevraagde inligting alreeds op die ander vorms tydens opname ingevul is. (Sien 2.1).

3.6: Terwyl die pasiënt die vorm soos in 3.5 hierbo sit en invul, vra meestal dieselfde vrae wat hy besig is om op sy eie vorm in te vul en vul dit dan in op jou eie vorm.

3.7: Sê die pasiënt aan om te wag.

3.8: Indien die pasiënt sou vra of hy maar sy goed mag uitpak, sy nagklere aantrek en in die bed klim, antwoord „Ja“. Indien nie, laat hom ten volle oor aan sy eie lot.

3.9: Laat die pasiënt vrywarings invul om die hospitaal ten volle te beskerm teen die verlies van enige horlosies, geld, selfone, juweliersware of enige ander waardevolle items, veral wanneer hy in die teater opgeneem word.

4: Pre-teater-prosedures:

4.1: Maak seker dat julle geen idee het van wanneer die pasiënt veronderstel is om teater toe te gaan nie. Dit sal aldus veroorsaak dat julle genoegsame rede het om soos ’n spul afkop-hoenders op 'n warm sinkplaat te kan rondskarrel wanneer die teater-portier skielik opdaag om hom te kom wegneem.

4.2: Gee die pasiënt opdrag om baie gou-gou die vormlose, wit teater-jurk met die bande agter en die oop boude aan te trek en dan op die portier se bed te klim.

4.3: Moenie die pasiënt versoek om sy horlosie, selfoon, juweliersware of enige ander waardevolle items soos in 3.9 hierbo genoem in te handig vir veilige bewaring tydens die teater-ekskursie nie.

5: Post-teater prosedures:

5.1: Wanneer die pasiënt na afloop van sy teater-prosedure teruggestoot word saal toe, los hom net daar sonder enige aandag, ten spyte van die feit dat hy deurmekaar, seer en naar is.

5.2: Moenie die groen teater-linne onder die pasiënt se gat uit verwyder nie, dit gee moerse flair aan ’n andersinds boring hospitaal-saal dekor.

5.3: Moenie die pasiënt se bed bietjie regtrek om hom meer gemaklik te laat voel nie. Pasiënte is in die hospitaal om te suffer.

5.4: Moenie die pasiënt vra of jy ten minste vir hom kan help om sy nagklere aan te trek nie. Die vormlose wit teater-gown met die oop boude is heel voldoende om hom goed oor homself te laat voel.

5.5: Slaan die absolute minimum ag daarop dat die pasiënt aanhou kla van voortdurende pynn ongemak en ongerief.

5.6: Moenie die pasiënt enige leiding gee in terme van of hy mag (of moet) water drink of iets eet nie.

5.7: Terwyl die pasiënt nog lekker deurmekaar is na die narkose, en tydens hospitaal-besoektyd, stuur iemand van die laboratoriums in met ’n 5-liter urine-monster kan, ritsel ’n elle-lange lys instruksies af en neem aan dat die pasiënt dit gaan onthou. (Ten minste is die instruksies darem ook in die sak met die bottel ingesluit.)

5.8: Moenie met die kombuis reël vir aandete nie. Moet in alle geval nie eens vir die pasiënt vra of hy dalk iets WIL eet nie.

5.9: Skep die indruk dat die pasiënt iets ernstig verkeerd gedoen het, of dat julle op ’n verlengde sit-staking is, of dat julle almal weggehardloop het as gevolg van een of ander aktiwiteit van astronomiese proporsies.

5.10: Wanneer die chirurg later kom besoek aflê en die pasiënt teenoor hom kla oor die swak (lees geen / onaanvaarbare) diens, sit ’n front voor wat dit laat lyk of al die pasiënt se laaste breinselle ook saam met sy ongewenste nierstene verwyder is.

6: Algemene saal prosedures:

6.1: Stel ’n junior verpleegster, wat ten spyte van 12 pogings nog nie hierdie Hospitalisasie 101 kursus geslaag het nie, aan om na die pasiënt se belange om te sien.

6.2: Dit is baie belangrik dat hierdie junior-verpleegster oor absoluut geen kommunikasie-tegnieke beskik nie.

6.3: Die belangrikste taak wat hierdie junior-verpleegster het, is om vir minute aaneen deur die pasiënt se leêr te blaai, klaarblyklike sinnelose notas te maak en elke nou en dan met haar tong teen haar verhemelte te klik.

6.4: Verseker dat geraas-vlakke ten alle tye van hoogstaande kwaliteit is. Die volgende voorbeelde van riglyne mag ter enige tyd, dag of nag, toegepas word, maar jy mag hierdie lys aanpas ad finitum.

6.4.1: Deure word toegeslaan, nie toegemaak nie.

6.4.2: Trollies word teen mekaar en teen deure en teen beddens gestamp wanneer daar enige geleentheid daarvoor is.

6.4.3: Bedklokkie-alarms moet vir minute aaneen by die suster-stasie lui voordat daarop gereageer word.

6.4.4: Die telefone by die suster-stasie moet ten alle tye op hulle hardste gestel word en sal nooit binne ’n minumum van 11 skril luie opgetel word nie.

6.4.5: Wanneer enigsins moontlik, laat val bakke en borde en skottels en enige ander ander toerusting tans in gebruik.

6.4.6: Die bogenoemde sal die onophoudende konstruksie-werke geraas (genadiglik slegs bedags) buite die saal pragtig aanvul.

6.5: Moet nooit in 4 dae se tyd van hospitalisasie die pasiënt se bed enigsins bietjie reg-trek nie, ten spyte van die feit dat die linne stink van die sweet van die koors wat die pasiënt deur die loop van sy aansterking opgedoen het.

6.6: Moenie vir die pasiënt ’n slaap-tablet aanbied na afloop van aand-besoektyd nie. Vra is immers vry en daar is aan die pasiënt se nierstene gekarring, nie aan sy tong nie.

6.7: Moenie deur die loop van die nag waarneem dat die pasiënt getrou elke uur die 30 m na die toilet met sy drup-staander af-sukkel nie. Ook nie dat die pasiënt elke 30 minute na afloop van die toilet-sessies soos hierbo in die karton-bottel wat aan hom verskaf is (op versoek) piepie totdat die hele ding later soggy en klam is nie.

6.8: Wanneer jy snags ’n pasiënt besoek, moenie die nag-ligte gebruik nie. Skakel die hele saal se verblindende ligte aan sodat – net vir ingeval die arme nier-pasiënt dalk ingesluimer het deur sy koors-stupor – hy opsluit wakker is. Indien hy nie spontaan wakkerraak nie, sien geraasvlakke (6.4) hierbo. Wees kreatief.

6.9: Pasiënte mag nie laat slaap nie. Maak hulle sonder enige logiese verduideliking voor 5 in die oggend wakker wanneer dit nog koud en donker is, al is dit net om hulle temperatuur en bloeddruk te neem.

6.10: Sodra die pasiënt weer insluimer, maak hom wakker vir koffie.

6.11: Sou die pasiënt weer insluimer na sy koffie, maak hom binne 5 minute weer wakker deur met ’n helse rumoer iets in die saal of in die gang voor die saal te laat val.

6.12: Wanneer jy bewusword van watter kombinasie medikasie (setpille, drups, inspuitings) die pasiënt laat gemaklik en pynvry voel, moenie dit sommer net loop staan en herhaal nie. Wag totdat die pasiënt eers weer moet kla en poep en kreun van die pyn. Dis goed om algemene weerstand op te bou.

6.13: Medikasie vir pyn per mond word nie aanbeveel nie. Setpille is die in-ding en wanneer die pasiënt hulp versoek om dit te gebruik, maar ’n opmerking dat „mans gewoonlik verkies om dit self te doen.“

6.14: Wanneer jy ’n drup toedien, sit dit in ’n aar wat sal voorkom dat die pasiënt enige redelike beweging met sy hand of arm kan uitvoer. (Dit is belangrik dat die pasiënt se arms nog albei seer moet wees ten minste twee weke na ontslag).

6.15: Wanneer die drup later uitgehaal word en vervang word met ’n binne-aarse toedienings-buisie, verseker dat die drup-medikasie pype nie verwyder word wanneer dit normaalweg binne 30 minute klaar is nie. Dit is goed vir die pasiënt se algemene gemoedstoestand om met die pype in sy arms te probeer slaap. Sonder slaap-pilletjies natuurlik want hy kan mos nie sy bek oopmaak nie. Nie dat jy hom 'n kans gegee het nie...

6.16: Wanneer die pasiënt versoek om een of ander medikasie te kry wat sy riool-werke weer kan laat inskop na die teater- en narkose truma, handel as volg:

--Indien die voorskrif is dat die medikasie gesluk moet word en dan opgevolg moet word met ’n warm drankie (soos tee), wag tot enkele minute nadat die pasiënt sy tee klaar gedrink het voor jy die riool-openings-medikasie gee.

--Lyk verstom omdat dit pasiënt nie meer tee oor het nie, ten spyte van geen voorafgaande leiding in hierdie verband nie. Moenie vir die pasiënt nog tee aanbied nie, dit is nie ingesluit by die astronomiese rekening wat alreeds by finansies in sy koevert wag om gepos te word direk na ontslag nie.

6.17: Sou die dokter wat die pasiënt behandel addisionele toetse aanvra ten einde behandelings-besluite op te basseer, moenie die uitslae hiervan aan die dokter of die pasiënt bekendmaak alvorens die pasiënt alreeds ontslaan (of ontslape) is nie.

6.18: Televisie-afstand-behere mag nie werk nie. Dit is jou (of ’n brawe pasiënt) se demokratiese plig om op ‘n mankoliekige stoel te staan om die ding met die hand aan of af te skakel. Televisie ontvangs moet ten alle tye vlokkierig, vol strepe en met bykans onhoorbare klank wees.

6.19: Inspuitings moet moer seer wees en brand, maak nie saak of dit in die boud of in die arm toegedien word nie.

7: Ontslag

7.1: Ten spyte van die feit dat jy by was toe die dokter die pasiënt ontslaan het, moenie vir die pasiënt enige idee gee van wat om te doen nie. Of hy moet aantrek (ten spyte van die drup-pypie wat nog uit sy arm hang soos ’n spaar tiet) of nie. Wag vir die pasiënt om te vra. Want vra is vry en soos in 6.6 hierbo genoem is daar immers niks met sy damn tong verkeerd nie.

7.2: Moenie vir die pasiënt al sy medikasie gee om huistoe te neem nie. Selfs nie die gehate setpille wat nood hom nou al geleer het om self te administreer nie. Wanneer die pasiënt daarvoor vra, verduidelik dat die dokter dit nie voorgeskryf het nie.

7.3: Wanneer die pasiënt vir ’n uur of drie tuis is, skakel hom en sê hom aan om die res van sy medikasie soos nie gegee in 7.2 hierbo nie te kom afhaal. Wanneer jy skakel, skakel eers al die alternatiewe telefoonnommers op rekord om hom op te spoor, ten spyte van die feit dat hy sy eie nommer menige male verkaf het (sien talle plekke hierbo).

7.4: Indien tuis-medikasie gehate setpille insluit, moet tog asseblief nie handskoene of KY-Jellie saamstuur nie.

Ek herhaal:

- -- Ek is nie ’n ‚demanding’ pasiënt nie.

- -- Ek is baie dankbaar vir enige goeie doens.

- -- Ek haat dit om personeel te pla deur aaneen die klokkie langs die bed te druk.

- -- Ek kla nie maklik nie.

- -- Ek is bewys van die feit dat verpleeg-personeel nie behoorlik betaal word vir die werk wat hulle doen nie.

- -- Ek probeer altyd om ’n opgeruimde en ‚maklike’ pasiënt te wees.

Maar komaan damnit – kry asseblief tog net julle basiese diens op standaard!!

Ek sal (indien ek die keuse het) nie weer hierdie hospitaal besoek nie, want hy is in my opinie nie op standaard van ’n dag oud nie.

Ek sal al my vriende en famile vertel van hierdie ondervinding.

Ek hoop dat hierdie ekskursie nie ’n kykie is na die toekoms van mediese sorg in Suid-Afrika nie.

Weer: Die teater-personeel, dokters en narkotiseurs van die betrokke hospitaal is nie onderhewig aan die bogenoemde nie.

Tot volgende keer se siekbed, WAG net geduldig!!!

4 comments:

igno said...

rofl ! Dit is presies hoe dit daar gaan ! Privaat hospitaal se gat ! As ek jy was dan stuur ek die hele blog netso vir die Verpleegkundige Bestuurder by die hospitaal.

XonixZA said...

Ek sien die dokter mos weer oor twee weke - gaan dit verseker vir hom print en gee - en om dit aan die hospitaal te gee is sekerlik ook nie 'n sleg idee nie...

ignoramus said...

gaan plak dit sommer teen een van hulle kennisgewingsborde vas. AB het gese jy moet die VERPLEEGKUNDIGE BESTUURDER kontak en hom of gaan sien of mail skryf. Ek dink jy moet sommer die blog vir die knaap gee !

XonixZA said...

Ek gaan dit doen - maar ek moet net eers HEELTEMAL gesondraak. . . (Net vir ingeval ek dalk moet hardloop. . .