Wednesday, May 20, 2009

Ode aan BD

Vriend-C (Aka Biker-dinge (BD)) nooi my laas Saterdag-aand vir ‘n lekker tradisionele potjie daar by hom aan huis. Aangesien sy twee snuiters vir die naweek daar kuier, reël ons dat ek my kitaar, konsertina en bekfluitjies saamvat, sodat ek vir sy 15-jarige P.A. en ietwat jonger Oogappel so bietjie kan help met die kitaar-spelery. Want Oogappel het onlangs kitaarlesse begin neem en alle hulp is welkom. En hulle het spesiaal die instrumente saamgevat vir die groot oefen.

So gereël, so gemaak. Ten spyte van die koue, was dit ‘n heerlike aand. En die kinders kom mooi reg en ons kuier alte lekker so met die singery en die kitare saam.

Ek kon nie te laat bly nie, want ek moes die volgende oggend (sommer so op die heilige Sondag) douvoordag op kantoor wees vir ons maandelikse code drop. Toe ek die volgende oggend so bietjie van ‘n breek kry, bel ek gou vir Vriend-C, want ek dag ons kan miskien ‘n vinnige brekfissie gaan deurwerk wanneer ek klaar gewerk is.

Maar die man klink nie goed nie. Skoon omgeskommel en kortaf. En ek wil eers my stert in ‘n krul ruk, maar doen dit eerder nie. Bel weer later, dieselfde storie. Die man is behoorlik bebliksem. Ek verstaan vinnig wanneer iemand nie lus het vir brekfisse reël of chat nie, so ek hang eerder op en ry huistoe na my werkery. Klim in die bed en kyk sport. Storie vir ‘n ander blog.

Later kom die verskoning-SMS: Vriend-C het oornag ‘n hewige tandpyn ontwikkel, so erg dat hy deur die loop van die dag nood-hulp moes gaan soek. Maar in die tussentyd het hy al wat kind en kraai en vrind en vyand op elke des moontlike geleentheid die kop gewas en uitgetrap en gevloek en geskel. Alles oor die seer tand.

Natuurlik het ek die verskoning-SMS sonder enige voorbehoud aanvaar. Mens kan tog nie toelaat dat een tandpyn ‘n vriendskap van donkie-jare opdonner nie. Maar Maandag-aand toe stuur ek vir die man ‘n e-mail met die volgende attachment:

Print asseblief die volgende liedjie vir die twee snuiters, dan het hulle darem ‘n lekker byderwetse liedjie om die kitaar-lesse mee voort te sit:

~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~

O EK HET ‘n TAND
(Sing op die wysie van “O ek het ‘n Perd, ‘n blink vosperd…”)

Sleutel: D Maj
Verwerking: Vriend-E © 2009
Toonsetting: Tradisioneel



O ek het ‘n tand, ‘n baie seer tand

en ek kak en ek kerm en ek kla,

En ek vloek en ek skreeu,

en ek blaf en ek byt,

en ek soek net iemand om te ja!

Want ek is in kraam,

en my bek is seer,

en ek soek na iets vir pyn,

Vir my tand,

o my tand,

my moerse seer tand,

wat my nagte laat steeds pla!


~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~!~

Nodeloos om te sê, Vriend-C was nie juis impressed nie. En of hy ooit die bogenoemde meesterstuk vir vyftien-jarige P.A. en jonger Oogappel gaan gee, weet ek nie. Maar ek het darem probeer.

Tot volgende keer se tandpyn . . . .

Monday, May 18, 2009

Hospitaalkaarte

Steeds op die Hospitalisasie-trant - ek kry die volgende gister van Vriend-C; natuurlik is dit nie my eie werk nie, maar dis skreeu-snaaks!  Miskien kan die Wesrand se hospitale 'n paar tips kry hier...

Ware mediese aantekeninge op hospitaalkaarte in 'n hospitaal in Mpumalanga:


1. Sy het nie saamtrekkings of koors nie, maar haar man sê sy was
gisteraand warm in die bed.

2. Pasiënt het borspyn as sy vir langer as 'n jaar op haar linkersy lê.

3. Op die 2de dag was die knie beter, op die 3de dag het dit verdwyn.

4. Die pasiënt is hartseer en huil aanhoudend. Dit lyk of sy ook
depressief is.

5. Die pasiënt is depressief sedert sy my in 1993 begin sien het.

6. Ontslagstatus: Lewendig maar sonder my toestemming.

7. Die pasiënt het 'n outopsie geweier.

8. Die pasiënt het geen geskiedenis van selfmoord nie.

9. Die pasiënt het sy witbloedselle by 'n ander hospitaal gelos.

10. Hy het oor die laaste 3 dae net 40kg opgetel.

11. Sy is verlam van haar tone af ondertoe.

12. Die vel was droog en klam.

13. Die pasiënt het wafels vir ontbyt en 'n anoreksia vir middagete
gehad.

14. Hy lyk gesond vir 69. Verstandelik skerp maar vergeetagtig.

15. Het by tye konstante ongereelde hoofpyn.

16. Rektale inspeksie het normale grootte skildklier getoon.

17. Sy was vir die grootste deel van haar lewe hardlywig totdat sy
geskei is.

18. Albei borste is eenders en reageer op lig en akkommodasie.

19. Die vel is ietwat bleek maar teenwoordig.

20. Pasiënt het 2 tienerkinders maar geen ander abnormaliteite nie.


Tot volgende keer - hoop nie jy raak siek nie...

Wednesday, May 13, 2009

Hospitalisasie 101

Ek’s onlangs die betwyfelenswaardige voorreg gegun om vir vyf dae in een van ons stad se plaaslike hospitale opgeneem te moes word.

Ek het sowat 17 jaar gelede by presies dieselfde hospitaal ‘n rug-operasie ondergaan en ’n enkele jaar later is my pragtige Dogter-M daar gebore (wat klinkende bewys is van die feit dat die rug-operasie ‘n groot sukses was).

Daardie tyd het die hospitaal getuig van uitstekende diens, dit was amper te lekker daar om weer huistoe te moet gaan na afloop van behandeling.

Hierdie keer was ek ongelukkig tot in my siel geskok oor die blatante swak diens en versuiming van pligte van bykans al die personeel. (Uitsluitend dokters, teater-personeel en narkotiseurs wat my behandel het). As dit die manier is waarop ons vir almal bewys lewer van ons groei oppad na ’n eerste-wêreld land, laat sak ek eerder net my kop in skaamte.

Meer oor my:

- -- Ek is nie ’n ‚demanding’ pasiënt nie.

- -- Ek is baie dankbaar vir enige goeie diens en vir die hulp om my mediese probleem aan te spreek.

- -- Ek haat dit om verpleeg-personeel aanhoudend te pla deur kort-kort die klokkie langs die bed te druk.

- -- Ek kla nie maklik nie.

- -- Ek het begrip vir die feit dat verpleeg-personeel nie behoorlik betaal word vir die werk wat hulle doen nie.

- -- Ek probeer altyd om ’n opgeruimde en ‚maklike’ pasiënt te wees.

Al waaraan ek kan dink, is dat hierdie spesifieke kliniek al hulle personeel op die volgende Hospitalisasie 101-kursus stuur alvorens hulle aan diens van enige aard mag gaan.

Hier volg nou die kurikulum wat elke personeellid op die punte van hulle vingers moet ken:

1: Pre-opname: X-straal departement

1.1: Gee die pasiënt sommer so met die intrapslag ’n moerse lang vorm om in te vul met ’n pen wat nie behoorlik kan skryf nie, weens die feit dat dit soos ’n sirkus-olifant met ’n heeltemal te kort ketting aan die klip-bord vasgesweis is. Natuurlik om regstellende pen-verduistering te probeer voorkom.

1.2: Laat die pasiënt vir ten minste 10 minute wag, ten spyte van die feit dat hy in ooglopende pyn en ongemak voorkom.

1.3: Neem die pasiënt na ’n klein 1 by 2 meter aantrekkamertjie en gee opdrag dat hy al sy klere moet uittrek, die verskafte japon moet aantrek en moet wag.

1.4: Laat die pasiënt vir ten minste 20 minute wag, loer dan om die gordyn en vra omverskoning vir die lang wag, klaarblyklik as gevolg van een of ander krisis elders op die vloer.

1.5: Laat die pasiënt vir nog ten minste 10 minute wag.

1.6: Handel die ondersoek af soos deur die huisdokter aangevra.

1.7: Sê die pasiënt aan om sy klere aan te trek en dan weer voor by ontvangs te gaan sit en wag.

1.8: Laat die pasiënt vir ten minste 30 minute in die beknopte ontvangs-area wag, ten midde van ’n massa ander hoessende, kreunende, poepende en steunende pasiënte.

1.9: Maak seker dat daar ten minste 2 moeders is met jillende en gillende kleuters. Dis altyd goed om geraas-vlakke op hoë standaard te hou.

1.10: Ignoreer die uitdruklike versoek van die huisdokter om hom te skakel sodra die uitslae uiteindelik bekend is.

1.11: Faks op aanvraag van die pasiënt die uitslae aan die huisdokter en maak seker dat niemand enige inkomende oproepe neem wanneer die huisdokter terugskakel met verdere opdragte nie.

2: Hospitaal-opname:

2.1: Laat die pasiënt ’n verskriklike lang vorm invul met inligting wat julle sekerlik iewers op ’n rekenaar behoort te hê na afloop van sy vorige besoek aan die hospitaal.

2.2: Maak seker dat ten minste 80% van al die inligting op die vorm meermale onder verskillende hoofde ingevul moet word.

2.3: Laat die pasiënt vir ten minste 30 minute sit en wag, terwyl julle die opname-dokumentasie voorberei en afhandel.

2.4: Moet nooit die pasiënt enige idee gee van hoe lank hy nog moet sit en wag nie.

2.5: Daar mag slegs een persoon by die ontvangs wees, sodat mense met net ’n eenvoudige vraag geduldig hulle beurt moet afwag.

2.6: Snuif. Tissues en toiletpapier is duur en word nie deur pasiënte gesubsidieer nie. Hospitale is trouens daar vir siek mense.

2.7: As iemand ’n eenvoudige vraag vra soos waar ’n pasiënt homself bevind, skarrel verward deur elle-lange lyste van rekenaar-drukstukke, wys die vernemende persoon dan in die algemene rigting van sale A, B, C, E en Kraam.

2.8: Moenie vergeet om net gou weer ’n slag te snuif nie.

2.9: Wanneer jy einde ten laaste die pasiënt se leêr gereed het, maak seker dat daar ’n belangrike fout in is, (soos die pasiënt se eerste naam of van). Dit verseker dat die saal-suster die leêr kan terugstuur ontvangs toe om die fout reg te stel. (Sien Regstellende Hospitalisasie Werkverskaffings Metodiek 101; nie ingesluit by hierdie kursus nie.)

2.10: Moet glad nie verstaan waarom die pasiënt so uiters ge-irriteerd voorkom nie en bied zero verskoning aan vir die swak diens en die lang gewag om alles in orde te probeer kry.

2.11: Verseker dat daar ter enige tyd slegs genoeg opname-klerke aan diens is om net sowat 10% van die volume van inkomende pasiënte te kan hanteer. Dit is om die tyd soos genoem in 2.3 hierbo tot die maksimum te kan eskaleer.

3: Saal-opname:

3.1: Stuur die pasiënt se leêr terug ontvangs toe om die fout soos gemaak in 2.9 hierbo te laat regstel. Sê die pasiënt aan om solank te wag.

3.2: Wanneer jy vir die pasiënt eventueel ’n bed aanwys en jy weet dat hy met ’n nier-steen probleem opgeneem word, maak seker dat dit ten minste 30 meter van die naaste gemeenskaplike toilet af is (wat natuurlik nie snags skoongemaak word nie...).

3.3: Wys die pasiënt se bed aan en vra hom om te wag. Moet geen idee gee van wat hy in die tussentyd moet doen nie (behalwe om te wag natuurlik) en verdwyn in die gang af.

3.4: Keer later terug en moenie begrip toon oor waarom die stomme pasiënt verward, in pyn en heeltemal verskrik soos ’n haas in jou motorligte op ’n kronkelende plaaspad voorkom nie.

3.5: Gee die pasiënt nog ’n elle-lange vorm om in te vul. Maak seker dat die oorgrote meerderheid van die gevraagde inligting alreeds op die ander vorms tydens opname ingevul is. (Sien 2.1).

3.6: Terwyl die pasiënt die vorm soos in 3.5 hierbo sit en invul, vra meestal dieselfde vrae wat hy besig is om op sy eie vorm in te vul en vul dit dan in op jou eie vorm.

3.7: Sê die pasiënt aan om te wag.

3.8: Indien die pasiënt sou vra of hy maar sy goed mag uitpak, sy nagklere aantrek en in die bed klim, antwoord „Ja“. Indien nie, laat hom ten volle oor aan sy eie lot.

3.9: Laat die pasiënt vrywarings invul om die hospitaal ten volle te beskerm teen die verlies van enige horlosies, geld, selfone, juweliersware of enige ander waardevolle items, veral wanneer hy in die teater opgeneem word.

4: Pre-teater-prosedures:

4.1: Maak seker dat julle geen idee het van wanneer die pasiënt veronderstel is om teater toe te gaan nie. Dit sal aldus veroorsaak dat julle genoegsame rede het om soos ’n spul afkop-hoenders op 'n warm sinkplaat te kan rondskarrel wanneer die teater-portier skielik opdaag om hom te kom wegneem.

4.2: Gee die pasiënt opdrag om baie gou-gou die vormlose, wit teater-jurk met die bande agter en die oop boude aan te trek en dan op die portier se bed te klim.

4.3: Moenie die pasiënt versoek om sy horlosie, selfoon, juweliersware of enige ander waardevolle items soos in 3.9 hierbo genoem in te handig vir veilige bewaring tydens die teater-ekskursie nie.

5: Post-teater prosedures:

5.1: Wanneer die pasiënt na afloop van sy teater-prosedure teruggestoot word saal toe, los hom net daar sonder enige aandag, ten spyte van die feit dat hy deurmekaar, seer en naar is.

5.2: Moenie die groen teater-linne onder die pasiënt se gat uit verwyder nie, dit gee moerse flair aan ’n andersinds boring hospitaal-saal dekor.

5.3: Moenie die pasiënt se bed bietjie regtrek om hom meer gemaklik te laat voel nie. Pasiënte is in die hospitaal om te suffer.

5.4: Moenie die pasiënt vra of jy ten minste vir hom kan help om sy nagklere aan te trek nie. Die vormlose wit teater-gown met die oop boude is heel voldoende om hom goed oor homself te laat voel.

5.5: Slaan die absolute minimum ag daarop dat die pasiënt aanhou kla van voortdurende pynn ongemak en ongerief.

5.6: Moenie die pasiënt enige leiding gee in terme van of hy mag (of moet) water drink of iets eet nie.

5.7: Terwyl die pasiënt nog lekker deurmekaar is na die narkose, en tydens hospitaal-besoektyd, stuur iemand van die laboratoriums in met ’n 5-liter urine-monster kan, ritsel ’n elle-lange lys instruksies af en neem aan dat die pasiënt dit gaan onthou. (Ten minste is die instruksies darem ook in die sak met die bottel ingesluit.)

5.8: Moenie met die kombuis reël vir aandete nie. Moet in alle geval nie eens vir die pasiënt vra of hy dalk iets WIL eet nie.

5.9: Skep die indruk dat die pasiënt iets ernstig verkeerd gedoen het, of dat julle op ’n verlengde sit-staking is, of dat julle almal weggehardloop het as gevolg van een of ander aktiwiteit van astronomiese proporsies.

5.10: Wanneer die chirurg later kom besoek aflê en die pasiënt teenoor hom kla oor die swak (lees geen / onaanvaarbare) diens, sit ’n front voor wat dit laat lyk of al die pasiënt se laaste breinselle ook saam met sy ongewenste nierstene verwyder is.

6: Algemene saal prosedures:

6.1: Stel ’n junior verpleegster, wat ten spyte van 12 pogings nog nie hierdie Hospitalisasie 101 kursus geslaag het nie, aan om na die pasiënt se belange om te sien.

6.2: Dit is baie belangrik dat hierdie junior-verpleegster oor absoluut geen kommunikasie-tegnieke beskik nie.

6.3: Die belangrikste taak wat hierdie junior-verpleegster het, is om vir minute aaneen deur die pasiënt se leêr te blaai, klaarblyklike sinnelose notas te maak en elke nou en dan met haar tong teen haar verhemelte te klik.

6.4: Verseker dat geraas-vlakke ten alle tye van hoogstaande kwaliteit is. Die volgende voorbeelde van riglyne mag ter enige tyd, dag of nag, toegepas word, maar jy mag hierdie lys aanpas ad finitum.

6.4.1: Deure word toegeslaan, nie toegemaak nie.

6.4.2: Trollies word teen mekaar en teen deure en teen beddens gestamp wanneer daar enige geleentheid daarvoor is.

6.4.3: Bedklokkie-alarms moet vir minute aaneen by die suster-stasie lui voordat daarop gereageer word.

6.4.4: Die telefone by die suster-stasie moet ten alle tye op hulle hardste gestel word en sal nooit binne ’n minumum van 11 skril luie opgetel word nie.

6.4.5: Wanneer enigsins moontlik, laat val bakke en borde en skottels en enige ander ander toerusting tans in gebruik.

6.4.6: Die bogenoemde sal die onophoudende konstruksie-werke geraas (genadiglik slegs bedags) buite die saal pragtig aanvul.

6.5: Moet nooit in 4 dae se tyd van hospitalisasie die pasiënt se bed enigsins bietjie reg-trek nie, ten spyte van die feit dat die linne stink van die sweet van die koors wat die pasiënt deur die loop van sy aansterking opgedoen het.

6.6: Moenie vir die pasiënt ’n slaap-tablet aanbied na afloop van aand-besoektyd nie. Vra is immers vry en daar is aan die pasiënt se nierstene gekarring, nie aan sy tong nie.

6.7: Moenie deur die loop van die nag waarneem dat die pasiënt getrou elke uur die 30 m na die toilet met sy drup-staander af-sukkel nie. Ook nie dat die pasiënt elke 30 minute na afloop van die toilet-sessies soos hierbo in die karton-bottel wat aan hom verskaf is (op versoek) piepie totdat die hele ding later soggy en klam is nie.

6.8: Wanneer jy snags ’n pasiënt besoek, moenie die nag-ligte gebruik nie. Skakel die hele saal se verblindende ligte aan sodat – net vir ingeval die arme nier-pasiënt dalk ingesluimer het deur sy koors-stupor – hy opsluit wakker is. Indien hy nie spontaan wakkerraak nie, sien geraasvlakke (6.4) hierbo. Wees kreatief.

6.9: Pasiënte mag nie laat slaap nie. Maak hulle sonder enige logiese verduideliking voor 5 in die oggend wakker wanneer dit nog koud en donker is, al is dit net om hulle temperatuur en bloeddruk te neem.

6.10: Sodra die pasiënt weer insluimer, maak hom wakker vir koffie.

6.11: Sou die pasiënt weer insluimer na sy koffie, maak hom binne 5 minute weer wakker deur met ’n helse rumoer iets in die saal of in die gang voor die saal te laat val.

6.12: Wanneer jy bewusword van watter kombinasie medikasie (setpille, drups, inspuitings) die pasiënt laat gemaklik en pynvry voel, moenie dit sommer net loop staan en herhaal nie. Wag totdat die pasiënt eers weer moet kla en poep en kreun van die pyn. Dis goed om algemene weerstand op te bou.

6.13: Medikasie vir pyn per mond word nie aanbeveel nie. Setpille is die in-ding en wanneer die pasiënt hulp versoek om dit te gebruik, maar ’n opmerking dat „mans gewoonlik verkies om dit self te doen.“

6.14: Wanneer jy ’n drup toedien, sit dit in ’n aar wat sal voorkom dat die pasiënt enige redelike beweging met sy hand of arm kan uitvoer. (Dit is belangrik dat die pasiënt se arms nog albei seer moet wees ten minste twee weke na ontslag).

6.15: Wanneer die drup later uitgehaal word en vervang word met ’n binne-aarse toedienings-buisie, verseker dat die drup-medikasie pype nie verwyder word wanneer dit normaalweg binne 30 minute klaar is nie. Dit is goed vir die pasiënt se algemene gemoedstoestand om met die pype in sy arms te probeer slaap. Sonder slaap-pilletjies natuurlik want hy kan mos nie sy bek oopmaak nie. Nie dat jy hom 'n kans gegee het nie...

6.16: Wanneer die pasiënt versoek om een of ander medikasie te kry wat sy riool-werke weer kan laat inskop na die teater- en narkose truma, handel as volg:

--Indien die voorskrif is dat die medikasie gesluk moet word en dan opgevolg moet word met ’n warm drankie (soos tee), wag tot enkele minute nadat die pasiënt sy tee klaar gedrink het voor jy die riool-openings-medikasie gee.

--Lyk verstom omdat dit pasiënt nie meer tee oor het nie, ten spyte van geen voorafgaande leiding in hierdie verband nie. Moenie vir die pasiënt nog tee aanbied nie, dit is nie ingesluit by die astronomiese rekening wat alreeds by finansies in sy koevert wag om gepos te word direk na ontslag nie.

6.17: Sou die dokter wat die pasiënt behandel addisionele toetse aanvra ten einde behandelings-besluite op te basseer, moenie die uitslae hiervan aan die dokter of die pasiënt bekendmaak alvorens die pasiënt alreeds ontslaan (of ontslape) is nie.

6.18: Televisie-afstand-behere mag nie werk nie. Dit is jou (of ’n brawe pasiënt) se demokratiese plig om op ‘n mankoliekige stoel te staan om die ding met die hand aan of af te skakel. Televisie ontvangs moet ten alle tye vlokkierig, vol strepe en met bykans onhoorbare klank wees.

6.19: Inspuitings moet moer seer wees en brand, maak nie saak of dit in die boud of in die arm toegedien word nie.

7: Ontslag

7.1: Ten spyte van die feit dat jy by was toe die dokter die pasiënt ontslaan het, moenie vir die pasiënt enige idee gee van wat om te doen nie. Of hy moet aantrek (ten spyte van die drup-pypie wat nog uit sy arm hang soos ’n spaar tiet) of nie. Wag vir die pasiënt om te vra. Want vra is vry en soos in 6.6 hierbo genoem is daar immers niks met sy damn tong verkeerd nie.

7.2: Moenie vir die pasiënt al sy medikasie gee om huistoe te neem nie. Selfs nie die gehate setpille wat nood hom nou al geleer het om self te administreer nie. Wanneer die pasiënt daarvoor vra, verduidelik dat die dokter dit nie voorgeskryf het nie.

7.3: Wanneer die pasiënt vir ’n uur of drie tuis is, skakel hom en sê hom aan om die res van sy medikasie soos nie gegee in 7.2 hierbo nie te kom afhaal. Wanneer jy skakel, skakel eers al die alternatiewe telefoonnommers op rekord om hom op te spoor, ten spyte van die feit dat hy sy eie nommer menige male verkaf het (sien talle plekke hierbo).

7.4: Indien tuis-medikasie gehate setpille insluit, moet tog asseblief nie handskoene of KY-Jellie saamstuur nie.

Ek herhaal:

- -- Ek is nie ’n ‚demanding’ pasiënt nie.

- -- Ek is baie dankbaar vir enige goeie doens.

- -- Ek haat dit om personeel te pla deur aaneen die klokkie langs die bed te druk.

- -- Ek kla nie maklik nie.

- -- Ek is bewys van die feit dat verpleeg-personeel nie behoorlik betaal word vir die werk wat hulle doen nie.

- -- Ek probeer altyd om ’n opgeruimde en ‚maklike’ pasiënt te wees.

Maar komaan damnit – kry asseblief tog net julle basiese diens op standaard!!

Ek sal (indien ek die keuse het) nie weer hierdie hospitaal besoek nie, want hy is in my opinie nie op standaard van ’n dag oud nie.

Ek sal al my vriende en famile vertel van hierdie ondervinding.

Ek hoop dat hierdie ekskursie nie ’n kykie is na die toekoms van mediese sorg in Suid-Afrika nie.

Weer: Die teater-personeel, dokters en narkotiseurs van die betrokke hospitaal is nie onderhewig aan die bogenoemde nie.

Tot volgende keer se siekbed, WAG net geduldig!!!

Tuesday, May 12, 2009

Scaringly Beautiful

Disclaimer: None of the following pictures / photographs belong to me. I have absolutely no right to use it. If anyone objects because of this post, please let me know and I will immediate delete it.

I received the following from a friend earlier today, and they are so beautiful, it's actually scary... I hope that they have the same impact on you than they had on me. Enjoy!

STRANGER:

SORROW:

SOLITUDE:

RESPECT:

RESCUED:

PAIN:

LOVE:

INNOCENCE:

GRACE:

FRIENDSHIP:

EXPECTATION:

DIVINE:

DEPARTURE:

COMPASSION:

CARE:

AFFECTION:

Until next time...


Tuesday, May 5, 2009

Something's Missing...

There's something missing in my home,
I feel it day and night,
I know it will take time and strength,
Before things feel quite right.

But just for now, I need to mourn,
My heart - it needs to mend,
Though some may say "it's just a pet",
I know I've lost a friend.

You've brought such laughter to my home,
And richness to my days.
A constant friend through joy or loss
with gentle loving ways.

Companion, friend and confidante.
A friend I won't forget,
You'll live forever in my heart,
My sweet forever pet.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

The above is not my own work, I found it on the net and have slightly changed it.

I publish it here in memory of my beloved dog, Tuscan, who passed away today at the age of 9 years.

Monday, April 27, 2009

My Wortels

Die afgelope naweek het ek ‘n verjaarsdag-geskenk soos nooit vantevore by ‘n ou maat van my gekry.  Hy’t my al weke gelede in kennis gestel dat hy nie hierdie jaar vir my iets spesiaals sou koop nie, maar dat hy my eerder gaan uitnooi iewers heen vir ‘n naweek.  Die catch was net dat ek geen idee het van waarheen nie.  Die instruksies van wat om saam te vat was eenvoudig: 

Warm en koue klere, musiekinstrumente, tenk vol diesel. That’s it.

So gesê, so gedaan, en uiteindelik het die groot dag toe Saterdag-oggend aangebreek.  Ons het by die afgesproke plek ontmoet vir koffie en 'n beskuitjie, en in die pad geval.  Hy in sy 4-deur 4X4 en ek in my 2-deur.  Kitaarkas, bekfluitjies en konsertina op die agtersitplek, oornag-sakkie met warm en koue klere in die immer-ontwykende kattebak. (2-deur Wranglers is nie juis bekend vir baie spasie nie).

In alle geval, so onderweg en met behulp van ons twee-rigting radios, probeer ek om die kriptiese leidrade wat ek deur die loop van die week per e-pos ontvang het, uit te pluis.  Want volgens na wat ek kon aflei en na aanleiding van my interpretasie van die ’koordinate’, was ons reguit op pad Madagaskar toe.  Of nie.  Want ons ry Wes, en Madagaskar lê reg Oos.  En daar is nie ‘n brug van ‘n dag oud waarvan ek van weet oor die Indiese Oseaan nie.  En ek besef dat selfs my Red-Rock Wrangler sekere dieptebeperkings het.

Naderhand kom dit uit:  Ons is op pad na die wêreld van Herman Charles Bosman.  Na ’n gasteplaas in die hart van die Marico-distrik se Bosveld. 

Die naweek was onverbeterlik.  Ons het sonder ophou gesels.  Ge-4X4, gekuier, musiekgemaak.  Deel geword van die kultuur van die plek waar die bekende skrywer diep wortels het. Sondag-oggend amper verslaap na die vorige aand se middernagtelike vleisbraai en groot kuier. Stofpad-langs terug dorp toe.  Besoek afgelê aan die Herman Charles Bosman museum. Heerlike breakfast by Memois in die hart van die klein plattelandse dorpie.  Vandaar met ’n effense ompad om by my ou neef en sy gesin in Lichtenburg te gaan aandoen.

Later, elkeen weer in sy eie kar en oppad terug Gauteng toe, sit ek so en dink aan waar my eie wortels is.  Praat van Marico, dink aan Bosman.  Praat van waar??? en dink aan my.

En my gedagtes dwaal en tob en swaai van bakboord na stuurboort en terug na die hede.  En ek kom tot die gevolgtrekking dat my eie wortels nooit na ’n vasgestelde sekere plek ge-pin-point sal kan word nie.

My wortels is op al die plekke waar diegene wat na aan my is, is.

Dis op die Ooskaapse dorpie, Uitenhage, waar ek net twee weke gelede saam met Ma-E en Tannie-D my pragtige Dogter-M se sestiende verjaarsdag gevier het. Ek kan dit hoor aan die liefde in hulle stemme wanneer ons weekliks met mekaar gesels oor wat nuus is.

Dis op die Karoo-plaas in die skaduwee van die Hanekamberg, waar ons twee weke gelede gaan kyk het hoe my oupa en ouma-grootjie se grafte lyk.  En ek my verstom het aan hoe mooi die ou eenvoudige plaas-huisie nog na al die jare lyk.

My wortels is daar waar ek op ’n stowwerige twee-spoor paadjie met die Wrangler ry, kappie af, wind deur my hare, my beste pal voor my in sy Moon-buggy.

Dis daar doer in die Bosveld waar my ou vriend my die naweek heengevat het en ons al hierdie dinge saamgedoen het wat miskien vir ander mense nikseggend sou wees.  Soos om net te praat, te lag, ’n doppie saam te drink, bekfluitjies saam te speel, die konsertinas laat kla het en baie dinge (goed en sleg) saam te kon onthou. Selfs waar ons saam ge-stress het oor die spinnekop met die lelike lang pootjies in die middernagtelike plaas-kombuis.

Dis by my wonderlike predikant-neef in Lichtenburg en sy pragtige vroutjie en hulle twee kinders wat ons met sulke ope arms ontvang het.  Dis in my Oupa-A se lig-blou Kombi wat ek kort na Pa-G se dood vir dieselfde neef gegee het. Die ou Kombi wat gister, toe ek hom vir die eerste keer in soveel maande weer sien, daai verwoede groot knop in my keel veroorsaak het wat my hard laat sluk het om nie sommer net te huil en huil en huil nie.  Oor alles wat was en oor alles wat nog gaan wees. En oor die tye wat verby is en wat g’n geld in die wêreld ooit weer sal kan terugkoop nie. En oor al die dinge wat ek in my lewe versuim het om te sê, en wat nou nooit weer gesê sal kan word nie.

Dis op die oewer van die Limpopo, waar ek soveel ure saam met Vriend-J omgesels het voor sy tydjie op aarde so skielik verby was. Ek ek wag steeds elke Sondag-aand vir sy telefoonoproep wat ek weet nooit ooit weer sal kom nie.

Dis op al die staproetes wat ek in my jonger dae gedoen het met Vriend-W wat ook op so ’n jong ouderdom sy lewe oorgegee het aan die kanker.

Dis op die Vrystaatse myn-dorpie waar ek ook nie te lank gelede vir my kosbare Oom-J vaarwel toegewens het. En by Tannie-D, wat vir my al vir baie jare nes 'n eie ma was.

Dis by al my nefies en niggies en hulle kinders, al het ek hulle in jare der jare nie gesien nie.

Dis in die lugruime van die talle plekke waar ek heen gevlieg het in die dae toe ek die geweldige lewens-droom om vry soos ’n voël te kan wees, nagejaag het.

Dis op kantoor waar ek soms voel dat my lewe by my verbygaan in ’n gejaag na niks.  Waar die volgende suksessvolle projek se goeie kommentaar van jou kollegas en jou baas jou laat besef dat dit alweer alles die moeite werd was.

Dis 'n Mosambiek waar ons eindelose ure van pret en kuier en genot deurgebring het.  Vriende, familie, diegene wat vir ons belangrik is.

Gisteraand, weer terug by my eie huis, lê ek steeds en  dink aan al hierdie dinge.  En ek besef dat, alhoewel ek nie wortels het waarvoor mense my in generasies vorentoe gaan onthou soos Herman Charles Bosman van die Marico-distrik nie, ek my eie wortels het op so baie spesiale plekke.  En mense weet dit en ek weet dit en daar is baie van hulle wat dit verseker gaan onthou lank nadat ek ook dalk  nie meer daar is nie.

Tot volgende keer...

Priceless

Toe ek netnou die storie oor die spinnekop in Pa se garage sit en skrywe, toe dink ek dadelik aan die volgende drama wat hom jare gelede op presies dieselfde plek afgespeel het.  Weer eens met Pa-G te doen.  En nog een van daai insidente wat my vir die res van my lewe sal bybly.

Pa-G was maar ‘n redelike konserwatiewe oubaas.  Beginselvas, doen dinge op die regte manier, sobere gewoontes, kyk nie waar hy nie veronderstel is om te kyk nie.  Of in alle geval nie wanneer een van die ander gesinslede hom kon sien kyk nie.

Ek was so ’n opgeskote jongman, seker in standerd agt of nege. (Daai dae het ons nog nie grade op skool gehad nie, ons het begin by die subs en aangehou met skool tot in standerd tien, oftewel matriek).

Vandat ek maar kan onthou, het ons na kerk op ’n Sondag-oggend vir Ma-E en Suster-T by die huis gaan aflaai om met die Sondag-middagete voorbereiding te begin, dan is ek en Pa-G in die kar weg begraafplaas toe om by Oupa-A se graf te gaan besoek aflê. Dan het pa die onkruidjies uitgeskoffel met die hand-vurtjie wat altyd in die kar se kattebak was, die klippies mooi reggeskuif, die marmer-steen met bietje water afgespoel en nie te lank nie, dan is ons weer terug huiswaarts.

Dié betrokke dag het alles dan ook presies verloop soos al die baie Sondae tevore en soos wat baie komende Sondae daarna nog sou verloop. By die huis aangekom, het ek die garagedeur vir my pa oopgesluit (daar was geen manier wat sy kar sou buite staan nie), en hy het die kar ingetrek. Die vensters op so ’n skrefie oopgelos sodat die warm lug kon uit, al die deure noukeurig gesluit, en die garage-deur begin toemaak.

Dis toe net daar waar dinge soos in die movies in slow-motion begin gebeur:

Soos wat Pa-G besig is om die garagedeur af te trek (dit was natuurlik  nog lank voor die dae van elektriese garagedeure op Uitenhage), trek ’n rumoer aan die onderpunt van die straat my aandag.  En ek kyk op en vries verstom in my spore.  Want daar kom ’n Beach-Buggy in die straat opgery.  Kannie die kleur onthou nie, maar dit is ook nie belangrik nie.  Wat wel belangrik was, was dat daar benewens die jong bestuurder, twee vroulike passasiers in die oop-kap karretjie was.  Een sit in die voorste passasier-sitplek, en die ander ene, wel, dis net hier waar die groot aanskoulikheid begin.

Want op die agtersitplek staan so ’n jongerige meisie.  Sy staan kierts-regop op die sitplek, en sy hou so met albei hande aan die Beach-Buggy se roll-bar vas.  En sy staan so en swaai van kant tot kant soos wat die Beach-Buggy in die straat op-dreun, en sy het absoluut niks bokant haar naeltjie aan nie. 

Ek kon my luck nie glo nie.  Want waar kry ’n jongman van Uitenhage nou ooit die geleentheid om sommer so voor middagete op ’n Sondag-oggend twee pramme van aangesig te kan staan en beskou? Want sy was hoogs bedeeld op al die plekke wat ’n meisie van haar ouderdom bedeeld behoort te wees.

Dis net daar wat ek onthou van my pa wat op daardie stadium net die deur klaar toegemaak en gesluit het.  En ek vestig my volle aandag op hom wat net in die proses is om regop te kom en begin om straat-waarts te draai. Alles nog steeds in slow-motion.

En Pa se oog vang die Bitch-Buggy met sy tieties wat so swaai in die somers-windjie.  En Pa-G se oë rek groter as sopborde, en sy onder-kakebeen klap behoorlik teen sy knieë vas soos wat sy mond oopval.

En soos wat Bitch-Buggy voor ons verby-dreun, so draai my pa se lyf met die kar saam om tog niks van die view te mis nie.

En toe die karretjie en sy inhoud so uit Pa se gesigsveld uit verdwyn, kom hy so effens by van die skok, staar na my met sulke glaserige uitdrukkings in sy oë en uiter:  “Maar my D..O..O..O..O..NER, E, daardie vrou het dan NIKS oor haar borste aan nie!!!!“


Kerktoe op ’n Sondag-oggend as kind:  

Belangrik.

Begraafplaas toe gaan na kerk:  

Great.

Ma se Sondag-middagetes:  

Onverbeterlik.

Pa se uitdrukking toe hy voor sy tiener-seun sien wat Pa’s nie behoort te sien nie: 

Absoluut totaal PRICELESS!!!

 

Tot volgende keer...