Toe ek netnou die storie oor die spinnekop in Pa se garage sit en skrywe, toe dink ek dadelik aan die volgende drama wat hom jare gelede op presies dieselfde plek afgespeel het. Weer eens met Pa-G te doen. En nog een van daai insidente wat my vir die res van my lewe sal bybly.
Pa-G was maar ‘n redelike konserwatiewe oubaas. Beginselvas, doen dinge op die regte manier, sobere gewoontes, kyk nie waar hy nie veronderstel is om te kyk nie. Of in alle geval nie wanneer een van die ander gesinslede hom kon sien kyk nie.
Ek was so ’n opgeskote jongman, seker in standerd agt of nege. (Daai dae het ons nog nie grade op skool gehad nie, ons het begin by die subs en aangehou met skool tot in standerd tien, oftewel matriek).
Vandat ek maar kan onthou, het ons na kerk op ’n Sondag-oggend vir Ma-E en Suster-T by die huis gaan aflaai om met die Sondag-middagete voorbereiding te begin, dan is ek en Pa-G in die kar weg begraafplaas toe om by Oupa-A se graf te gaan besoek aflê. Dan het pa die onkruidjies uitgeskoffel met die hand-vurtjie wat altyd in die kar se kattebak was, die klippies mooi reggeskuif, die marmer-steen met bietje water afgespoel en nie te lank nie, dan is ons weer terug huiswaarts.
Dié betrokke dag het alles dan ook presies verloop soos al die baie Sondae tevore en soos wat baie komende Sondae daarna nog sou verloop. By die huis aangekom, het ek die garagedeur vir my pa oopgesluit (daar was geen manier wat sy kar sou buite staan nie), en hy het die kar ingetrek. Die vensters op so ’n skrefie oopgelos sodat die warm lug kon uit, al die deure noukeurig gesluit, en die garage-deur begin toemaak.
Dis toe net daar waar dinge soos in die movies in slow-motion begin gebeur:
Soos wat Pa-G besig is om die garagedeur af te trek (dit was natuurlik nog lank voor die dae van elektriese garagedeure op Uitenhage), trek ’n rumoer aan die onderpunt van die straat my aandag. En ek kyk op en vries verstom in my spore. Want daar kom ’n Beach-Buggy in die straat opgery. Kannie die kleur onthou nie, maar dit is ook nie belangrik nie. Wat wel belangrik was, was dat daar benewens die jong bestuurder, twee vroulike passasiers in die oop-kap karretjie was. Een sit in die voorste passasier-sitplek, en die ander ene, wel, dis net hier waar die groot aanskoulikheid begin.
Want op die agtersitplek staan so ’n jongerige meisie. Sy staan kierts-regop op die sitplek, en sy hou so met albei hande aan die Beach-Buggy se roll-bar vas. En sy staan so en swaai van kant tot kant soos wat die Beach-Buggy in die straat op-dreun, en sy het absoluut niks bokant haar naeltjie aan nie.
Ek kon my luck nie glo nie. Want waar kry ’n jongman van Uitenhage nou ooit die geleentheid om sommer so voor middagete op ’n Sondag-oggend twee pramme van aangesig te kan staan en beskou? Want sy was hoogs bedeeld op al die plekke wat ’n meisie van haar ouderdom bedeeld behoort te wees.
Dis net daar wat ek onthou van my pa wat op daardie stadium net die deur klaar toegemaak en gesluit het. En ek vestig my volle aandag op hom wat net in die proses is om regop te kom en begin om straat-waarts te draai. Alles nog steeds in slow-motion.
En Pa se oog vang die Bitch-Buggy met sy tieties wat so swaai in die somers-windjie. En Pa-G se oë rek groter as sopborde, en sy onder-kakebeen klap behoorlik teen sy knieë vas soos wat sy mond oopval.
En soos wat Bitch-Buggy voor ons verby-dreun, so draai my pa se lyf met die kar saam om tog niks van die view te mis nie.
En toe die karretjie en sy inhoud so uit Pa se gesigsveld uit verdwyn, kom hy so effens by van die skok, staar na my met sulke glaserige uitdrukkings in sy oë en uiter: “Maar my D..O..O..O..O..NER, E, daardie vrou het dan NIKS oor haar borste aan nie!!!!“
Kerktoe op ’n Sondag-oggend as kind:
Belangrik.
Begraafplaas toe gaan na kerk:
Great.
Ma se Sondag-middagetes:
Onverbeterlik.
Pa se uitdrukking toe hy voor sy tiener-seun sien wat Pa’s nie behoort te sien nie:
Absoluut totaal PRICELESS!!!
Tot volgende keer...
No comments:
Post a Comment