Monday, April 27, 2009

My Wortels

Die afgelope naweek het ek ‘n verjaarsdag-geskenk soos nooit vantevore by ‘n ou maat van my gekry.  Hy’t my al weke gelede in kennis gestel dat hy nie hierdie jaar vir my iets spesiaals sou koop nie, maar dat hy my eerder gaan uitnooi iewers heen vir ‘n naweek.  Die catch was net dat ek geen idee het van waarheen nie.  Die instruksies van wat om saam te vat was eenvoudig: 

Warm en koue klere, musiekinstrumente, tenk vol diesel. That’s it.

So gesê, so gedaan, en uiteindelik het die groot dag toe Saterdag-oggend aangebreek.  Ons het by die afgesproke plek ontmoet vir koffie en 'n beskuitjie, en in die pad geval.  Hy in sy 4-deur 4X4 en ek in my 2-deur.  Kitaarkas, bekfluitjies en konsertina op die agtersitplek, oornag-sakkie met warm en koue klere in die immer-ontwykende kattebak. (2-deur Wranglers is nie juis bekend vir baie spasie nie).

In alle geval, so onderweg en met behulp van ons twee-rigting radios, probeer ek om die kriptiese leidrade wat ek deur die loop van die week per e-pos ontvang het, uit te pluis.  Want volgens na wat ek kon aflei en na aanleiding van my interpretasie van die ’koordinate’, was ons reguit op pad Madagaskar toe.  Of nie.  Want ons ry Wes, en Madagaskar lê reg Oos.  En daar is nie ‘n brug van ‘n dag oud waarvan ek van weet oor die Indiese Oseaan nie.  En ek besef dat selfs my Red-Rock Wrangler sekere dieptebeperkings het.

Naderhand kom dit uit:  Ons is op pad na die wêreld van Herman Charles Bosman.  Na ’n gasteplaas in die hart van die Marico-distrik se Bosveld. 

Die naweek was onverbeterlik.  Ons het sonder ophou gesels.  Ge-4X4, gekuier, musiekgemaak.  Deel geword van die kultuur van die plek waar die bekende skrywer diep wortels het. Sondag-oggend amper verslaap na die vorige aand se middernagtelike vleisbraai en groot kuier. Stofpad-langs terug dorp toe.  Besoek afgelê aan die Herman Charles Bosman museum. Heerlike breakfast by Memois in die hart van die klein plattelandse dorpie.  Vandaar met ’n effense ompad om by my ou neef en sy gesin in Lichtenburg te gaan aandoen.

Later, elkeen weer in sy eie kar en oppad terug Gauteng toe, sit ek so en dink aan waar my eie wortels is.  Praat van Marico, dink aan Bosman.  Praat van waar??? en dink aan my.

En my gedagtes dwaal en tob en swaai van bakboord na stuurboort en terug na die hede.  En ek kom tot die gevolgtrekking dat my eie wortels nooit na ’n vasgestelde sekere plek ge-pin-point sal kan word nie.

My wortels is op al die plekke waar diegene wat na aan my is, is.

Dis op die Ooskaapse dorpie, Uitenhage, waar ek net twee weke gelede saam met Ma-E en Tannie-D my pragtige Dogter-M se sestiende verjaarsdag gevier het. Ek kan dit hoor aan die liefde in hulle stemme wanneer ons weekliks met mekaar gesels oor wat nuus is.

Dis op die Karoo-plaas in die skaduwee van die Hanekamberg, waar ons twee weke gelede gaan kyk het hoe my oupa en ouma-grootjie se grafte lyk.  En ek my verstom het aan hoe mooi die ou eenvoudige plaas-huisie nog na al die jare lyk.

My wortels is daar waar ek op ’n stowwerige twee-spoor paadjie met die Wrangler ry, kappie af, wind deur my hare, my beste pal voor my in sy Moon-buggy.

Dis daar doer in die Bosveld waar my ou vriend my die naweek heengevat het en ons al hierdie dinge saamgedoen het wat miskien vir ander mense nikseggend sou wees.  Soos om net te praat, te lag, ’n doppie saam te drink, bekfluitjies saam te speel, die konsertinas laat kla het en baie dinge (goed en sleg) saam te kon onthou. Selfs waar ons saam ge-stress het oor die spinnekop met die lelike lang pootjies in die middernagtelike plaas-kombuis.

Dis by my wonderlike predikant-neef in Lichtenburg en sy pragtige vroutjie en hulle twee kinders wat ons met sulke ope arms ontvang het.  Dis in my Oupa-A se lig-blou Kombi wat ek kort na Pa-G se dood vir dieselfde neef gegee het. Die ou Kombi wat gister, toe ek hom vir die eerste keer in soveel maande weer sien, daai verwoede groot knop in my keel veroorsaak het wat my hard laat sluk het om nie sommer net te huil en huil en huil nie.  Oor alles wat was en oor alles wat nog gaan wees. En oor die tye wat verby is en wat g’n geld in die wêreld ooit weer sal kan terugkoop nie. En oor al die dinge wat ek in my lewe versuim het om te sê, en wat nou nooit weer gesê sal kan word nie.

Dis op die oewer van die Limpopo, waar ek soveel ure saam met Vriend-J omgesels het voor sy tydjie op aarde so skielik verby was. Ek ek wag steeds elke Sondag-aand vir sy telefoonoproep wat ek weet nooit ooit weer sal kom nie.

Dis op al die staproetes wat ek in my jonger dae gedoen het met Vriend-W wat ook op so ’n jong ouderdom sy lewe oorgegee het aan die kanker.

Dis op die Vrystaatse myn-dorpie waar ek ook nie te lank gelede vir my kosbare Oom-J vaarwel toegewens het. En by Tannie-D, wat vir my al vir baie jare nes 'n eie ma was.

Dis by al my nefies en niggies en hulle kinders, al het ek hulle in jare der jare nie gesien nie.

Dis in die lugruime van die talle plekke waar ek heen gevlieg het in die dae toe ek die geweldige lewens-droom om vry soos ’n voël te kan wees, nagejaag het.

Dis op kantoor waar ek soms voel dat my lewe by my verbygaan in ’n gejaag na niks.  Waar die volgende suksessvolle projek se goeie kommentaar van jou kollegas en jou baas jou laat besef dat dit alweer alles die moeite werd was.

Dis 'n Mosambiek waar ons eindelose ure van pret en kuier en genot deurgebring het.  Vriende, familie, diegene wat vir ons belangrik is.

Gisteraand, weer terug by my eie huis, lê ek steeds en  dink aan al hierdie dinge.  En ek besef dat, alhoewel ek nie wortels het waarvoor mense my in generasies vorentoe gaan onthou soos Herman Charles Bosman van die Marico-distrik nie, ek my eie wortels het op so baie spesiale plekke.  En mense weet dit en ek weet dit en daar is baie van hulle wat dit verseker gaan onthou lank nadat ek ook dalk  nie meer daar is nie.

Tot volgende keer...

1 comment:

igno said...

die groot voorreg vir my / ons is dat ons ook iewers kon deel in die worteltjies wat gemaak is !