Monday, April 27, 2009

Agt-potige DNA

Ek is seker dat die vrees vir spinnekoppe oorerflik is.  Dat iewers, diep binne mens se DNA-struktuur, daar voor geboorte een of ander bit flip wat maak dat die persoon aan wie daai DNA behoort, hierdie geweldige en totale irrasionele gevoel van vrees het wanneer hy of sy tot aangesig sou kom met een van ons klein agt-potige mede-bewoners van Moeder Aarde.

In my geval kom die genoemde DNA-afwyking sekerlik van my pa se kant af.  Want vandat ek maar kan onthou, kon hy sy stem op so ‘n spesiale manier verander wanneer hy vir Ma-E roep om die besem en die blik Doom te bring.  En, tipies van ’n normale gesins-opset van die jare sewentigs waartydens ek grootgeword het, was dit ook nie dan die tyd vir my ma om tee te praat nie.  Vroue, wees aan julle mans onderdanig. 

So Ma-E se moederlike huweliksplig onder gegewe omstandighede was om sonder versuim vir Spinnekop op te spoor, te bespuit van de Doom, te keer dat hy nie agter ’n meubelstuk verdwyn nie, (met die besem natuurlik) en te ekstermineer.  Natuurlik onder die noukeurige en eksplisiete aanwysings van my pa, wat teen daardie tyd heel altyd veilig buite bereik van sig of spring die nodige leiding gegee het.  Soos wat dit die behoorlike hoof van ’n Afrikaanse huishouding betaam, natuurlik met baie bliksems en donders as deel van die gesprek. Mans, julle moet julle vrouens liefhê.

So vertel Ma-E en Pa-G vir my jare gelede van die volgende insident wat in ons motorhuis afgespeel het:

Wat presies vooraf gebeur het, is niemand juis baie seker van nie.  Maar wat wel feit was, was dat my Ma en Pa vir een of ander onverklaarbare rede nie op die betrokke dag juis op speaking terms met mekaar was nie.  En ek, toe al ’n jongman van bykans 20, was nie op daardie stadium tuis nie.

Pa-G het die garage begin uitvee,  nadat hy die agterdeur oopgemaak het sodat die windjie wat deur-trek, die stoffies darem so bietjie kon wegwaai.   Ma was elders in die huis doenig.  Verseker nie besig om vir Pa Hertzoggies te bak nie.

Toe Pa so op ’n stadium onder die Kombi inbuk om daar te vee, toe sien hy Mnr. 8-poot onder die Kombi sit.  ’n Ou Grote, (hoofletter-G). Met die beentjies wat so nou en dan beweeg, asof die gedoente my Pa wou uitdaag om dit te waag om enigsins nader te kom.

My pa het amper sy pyp ingesluk, en toe is dit die gewone:  “E, bring die besem en die blik Doom“.  Maar Ma-E lewe in haar eie wêreld.  Heeltemal doof vir my Pa se herhaaldelike nood-krete.  En sy gaan maar aan met wat sy besig was om te doen en maak of sy nie vir Pa-G hoor nie.

Nou sit Pa-G met ’n hengske dilemma.  Hy kan nie uit die garage uit nie, want dan verdwyn Spinnekop dalk en wie weet wanneer beland hy in een van die karre.  En my Ma wil nie help nie. En ek is nie daar nie, en daar’s geen manier waarop hy self gaan probeer om die ding dood te maak nie.

My Pa doen toe maar die regte ding, en gaan sit so op sy hurke op’n veilige afstand,  en hy stook sy pyp met die Dinglers no. 6 Medium Brown tabak dat jy net sien rook trek.  En hy hou vir Spinnekop dop, wat steeds elke nou en dan net sy beentjies so bietjie-bietjie beweeg.  En Pa-G stress en raak grys sommer binne die bestek van ’n paar minute.

Ek weet nie hoe lank die oubaas daar gesit en stress en swets het nie, maar op ’n stadium loop daar ’n anderskleurige jongman in die straat op. (Nie my pa se woorde nie, hy was nog van die ouer generasie, en hierdie is ’n verligte blog). En my pa maak die jongman net daar bymekaar en bied hom (sekerlik na vurige onderhandeling) ’n heel buiterwestelike bedrag geld aan om van die ding ontslae te raak.

Jongman aanvaar die geld, loer onder die Kombi in.  En kry summier, op die plek, koue voete.  Met ’n “Nee, Jissis, my Baas, die ding hy is te groot!!“ is hy met ‘n spoed daar by die hek uit, sekerlik aangehelp deur my Pa se gevloek afterna.

En Pa is back to square one.  Op sy hurke langs die Kombi, pyp al rooi-warm gestook en hy wag en probeer om Plan-C te beraam.  Want Ma-E is nog steeds horende doof elders in die huis.

Ek weet nou nie hoelank hy daar gesit het nie, toe een van my studente-buddies, Vriend-N, met sy Morris Minor in die straat opgery kom en in die hek stilhou, op soek na my.  En my Pa is so bly dat hy vir N glo amper ’n soen gee.  Veral toe Vriend-N laat blyk dat hy glo geen bang haar op sy kop het wanneer dit by spinnekoppe kom nie.

En Vriend-N, gewapen met Pa se besem, buk daar onder die Kombi in, mik so ‘n slag, en slaan vir Spinnekop dat die ding net daar op die plek heeltemal disintegreer.  Disintegreer?  Dis reg ja.  Want so met die slaan-slag kom hulle after dat die ding seker al vir weke lank dood-lê daar onder die Kombi.  Horing-droog en kan nie ’n vlooi skade aandoen nie.

Pa-G en Vriend-N kom toe tot die gevolgtrekking dat die dooie, droë spinnekop se beentjies so nou en dan net bietjie beweeg het van die windjie wat oor hom deur die garage getrek het. En Vriend-N lag en Ma-E kom selfs later te voorskyn met tee en lemon-creams en sy lag.  En Pa-G dink gladnie dis snaaks nie.

Ek is Pa-G se kind, deur en deur.  Want my Spinnekop DNA is presies dieselfde as syne. Weet wanneer om handoek in te gooi en weet wanneer om versterkings aan te vra.

Spinnekoppe is nie vir sissies nie.

Tot volgende keer!

3 comments:

AKKEDIS said...

mmmmmm.....ek baie baie erger as jou pa!!!!!!! My senuwees is gedaan.........soek iets wat die goed uit my pad uithou!!! Het vanoggend 'n hele blik doom uitgespuit op een moerse spinnie!!!!! Kan nie meer nie.....

XonixZA said...

LOL... Ek moet sê, tot dusver is ek nog gelukkig, net nog nooit een van daai menere hier in die huis gekry nie... En as ek sou - ek glo nie ek sal naby genoeg aan die ding kan kom om hom te DOOM nie!! Wat nou gemaak? Sterkte!! :-)

AKKEDIS said...

mmmm.....jy verstaan nie mooi nie.....ek sit in die UK en die spuitgoed hier is glo my BAIE pieperig daarom die hele blik whatever hulle dit noem - niemand om my om te help nie, net ek en "hy" die vark!!!! Ek vra onse liewe Vader, hoekom, waarom die goed.......toe ek die ding spuit toe kom hy nader na my kant toe - my keel is seer geskree, my lyf seer van al die rondspring en ek is geestelik moeg want gisteraand moes ek al die beddegoed afhaal en en en en!!!!! nee nee - ek kan nog verstaan dat 'n vrou bang is vir die goed - maar 'n man - ek wil my doodlag....in elk geval lekker aand vir julle.